A place where stories unfold

Toespraak: Opening van die nuwe Desmond Tutu Biblioteek

Swellendam Executive Mayor Francois du Rand and his wife dr Lize du Rand with author Audrey Jantjies at the opening of the new Archbishop Desmond Tutu Library in  Swellendam.
 
Picture: Cathy van Eeden


Dit is vir my ’n besonderse eer om deel te kan wees van die opening van die Archbishop Desmond Tutu biblioteek – ons kon nie vir ’n beter erkenning aan hierdie ikoon van versoening en liefde gevra het nie – Viva Ubabalo Lwakho, Viva Ntati!

Inleiding

Ek onthou hoe ek as kind uit Murraystraat geloop het na Antie Lorraintjie se bibliotekie toe in Railton, daar langs die regterkant van die Gemeenskapsaal, om boeke te gaan leen en dan by kerslig saans te lees. Ek onthou die bibliotekie het uit my gunstelingboeke geraak om te lees, veral Ena Murray en Susanna M Lingua, maar dit was regtig net om te fantaseer oor groot blonde boerseuns, dit was voordat ons ook by die dorp se biblioteek kon boeke leen.

My pa, in baie laat stadium demensie, het onlangs ’n terugflits na sy kinderjare.

“Daar waar die berg en die blou hemel  bymekaar kom, dit is die horison – dit het ons in standerd 3 in die skool geleer,” sê hy vir niemand spesifiek, terwyl hy oor die onderdeur die verte bepeinsend in tuur.

“Ek sien ver,” dit is een van sy gunsteling sêgoed.

Terwyl ek op my beurt na Derrie se gryskop, sy beplooide gesig, sy oë vol wysheid kyk, het ek begin wonder oor horisonne en waar ek myne sal ontdek  en sal ek ooit ’n bepaalde een vind, want dit is tog legio en nimmereindig.

Ek het daar en dan ’n epiphany! Hoeveel horisonne kan ons oorbrug deur te lees.

Ons kan in ’n oogwink saam met Pi Patel sit en bibber van vrees  op ’n skeepswrak vir Richard Parker – die wrede Bengaalse tier in Secret Life of Pi van Yann Martell. Of ons kan soos Ishmael in Herman Mellville se Moby Dick ’n bed deel met Queequeg, die kannibaal  en ons sit en verwonder aan die self kastydende haat wat vir Kaptein Ahab dryf in sy soektog na Moby Dick. Ek kan soos Keas in Jan Rabie se Die Groot Anders maak, myself  heeltemal in vreemde wêrelde bevind – wêrelde waar my wortels eintlik moet wees, maar wat ek nie meer ken, wat ek ontgroei het. Ek kan vinnig na die Kaapse Vlakte gaan en soos Ahnie Brandt  in Chase Rhys se “Kinnes” verwoesting saai en dan eindelik moet vlug.  Of soos JM Coetzee se Michael K in life and times of Michael K met sy haaslip ontvlug na ’n eensame bouval in die barre vergetelheid en oorleef waar selfgekweekte pampoene letterlik sy brood en botter word en al is wat hy wil hê in sy perfekte wêreld.

Hierdie is wonderwêrelde, ontsnap van die alledaagse.

Mag ons die geskenk van hierdié biblioteek, die sweet, die vereelte hande van die bouers en verwers en vakmanne wat weke en maande weg van geliefdes moes spandeer om dit vir ons tot stand te bring,  die biblioteek personeel se harde werk, hulle wat die befondsing moontlik gemaak het, mag dit ons motiveer om ten spyte van al ons verskille, kan ons mekaar so omarm,  leer ken en liefhê.

Deur die wonderwêreld van lees.

Khoe – I ge Khoe –I !aroma !gui a khoe.
(Khoekhoegowab vir ek is, omdat jy is)

Ek is, omdat jy is.

Through the wonder world of reading.

I am, because you are.

+ posts

Audrey Veronica Jantjies van Suurbraak, net duskant Swellendam, het na skool joernalistiek aan die destydse Skiereiland Technikon studeer, maar kon weens finansiële beperkinge ongelukkig nie haar kursus voltooi nie. Dit was nog altyd haar passie om mense se stories op te skryf. Sy het onlangs ʼn skryfkursus van Ingrid Winterbach bygewoon en dit het haar siening oor die “Afrikaans-wat-ek-ken” en haar manier van dink oor die “Afrikaans-waarmee-ek-kan-skryf” verander. Belangriker is die dringendheid waarmee sy opnuut besef het dat die stories van haar mense – die mense van Suurbraak se wêreld – vertel moet word, want hierdie mense het baie om te sê.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

One thought on “Toespraak: Opening van die nuwe Desmond Tutu Biblioteek”