A place where stories unfold

Is festive hie’ buite

Drie dae voor die Adam Small Boekefees in Pniël, haal ek my weave uit en begin my natural coils voorberei vir die fees. Hoofsaaklik as deel van my eerbetoon aan Adam Small maar ook vir die gemeenskap van Pniël, my voormense en natuurlik myself – ek het dus my !Goasa *afgehaal.

Note – die saak van my hare kam en bewerk, is geen maklike taak want ek’s lui en ek moet die huiskind soggens 07h30 by die skool kry en my natuurlike tendens om soggens 05h00 op te staan en steeds laat te wees, want ek sit en verluister my aan die oggendstilte, die musiek van die voëls, die ontwaak van die dag, het my al vele kere in die steek gelaat.  Laasweek toe hoot ń verkeersbeampte met loeiende serenes hier agter my en trek my af reg langs John Deere Implemente – ek sien hoe cringe die teenager hier langs my en brom onderlangs: how embarrassing.

“Ek verstaan julle is laat, maar drie keer kan jy nié rolling stop nie!, vermaan die vroulike officer my.

Wat kon ek doen. Ek moes maar net nederig my kop laat sak en sê: Dis reg, Officer. Jammer Officer. En trek so stadig moontlik weg.

En dit oor hare kam! Dis moeilik om ‘n kam deurgetrek te kry hoor. Maar ek glo nie (meer) in relaxer en tange en airbrushes nie. As Elob * vir my wou steil hare gee, sou hy. Besides, ek love my kroes!

Anyway, dis ń topic vir ń ander dag.

Vrydagoggend hardloop ek vinnig na my jarelange Zimbabwean stylist, Tecla en sy fix vinnig vir my die style met die krale en vlegsels. Net ń rugsakkie pak ek, ek kom more mos weer huis toe.

Digter Grant Jefthas (AfvlerkMensMinimal Press, 2022), skrywer Audrey Jantjies (As die katjiepiering blom, Kwela, 2022), rymkletser Jitsvinger en skrywer Lester Walbrugh (Elton Baatjies, Karavan Press, 2022) Fotograaf: Menán van Heerden, LitNet

Die taxi kom laai vir my so 11h30 se kant en ek is oppad.

Taxi drivers – of dan nou die een wat ek gebruik, glo nie in phone GPS’ nie – hulle het só ń dik map book.

En wragtag, daar verdwaal ons in Pniël op soek na my blyplek vir die aand, Moore’s End. Nadat ons so vyftien minute in ń sirkel gery het, stop die driver by ń huis en vra die vriendelike couple waar my ou plekkie dan is.

Hulle verduidelik en daar, one two three, ons het op en af verby die plek gery. Ons is darem maar wragtag affie plaas, sjoe!

Die traffic is woes daar op die R310? en uit consideration vir my mede passasiers en ander wat wag om opgetel te word vir terug huis toe, sê ek vir die driver, dis okay, Boeta julle kan my voor die hek aflaai.

Daar gaan hulle en ek staan voor die hek en lui die klok om in te gaan.

Die hek gaan oop en ek stap in – en soos ek deur die kronkelende draai loop, vloek ek groot knoppe, want dit raak dan net steiler en steiler , maar die teenwoordigheid van die baie bome en salige stilte wat my skielik embrace, ontglip my ook nie en dan einde laas is ek bo – by die main house.

Pumi, die housekeeper ontvang vir my – baie nederig en Ma’am vir my hientoe en soentoe terwyl sy my na my kamer vergesel en vir my vertel wat alles beskikbaar is.

Wat presies ek verwag het, weet ek nie, maar toe ek my tydelike blyplekkie binnestap , moes ek snak na my asem – nie vir die fisiese weelde nie, maar vir die asemrowende uitsig  op die berg, die uistpansel. Die bome – dis nes hulle ‘n protective shield vorm tussen Moore’s End en die lewe anderkant die hekke.

Pumi se info rakende do’s en don’t’s ruk my terug na die werklikheid en toe sy halfpad uit is, en na die soveelste Ma’am, sê ek vir haar – Not Ma’am, I am not Ma’am, my name is Audrey and please address me so.

Pumi se half smile ontglip my nie soos wat sy in ontvangserkenning knik en by die deur uitloop nie – en natuurlik blameer ek haar nie dat sy protocol  handhaaf nie, ek kom self vanuit ‘n hospitality background waar ek presies moes doen wat Pumi se werk nou is, maar vir my voel dit net nie reg nie – watse ge- Ma’am is dit dan nou hier vir my!

Ek val toe op die king size bed neer, laat weet my geliefdes tuis ek’s veilig en lê net daar, verwonder my aan my uitsig, hande agter my kop, my voete vryf teen mekaar en smile soos ‘n kat wat ‘n piering room gekry het, sommer net vir niks.

‘n Oombliklike moment van epiphany! tref my dan – minder as 15 jaar gelede, was ek Pumi, het ek die werk gedoen, die gaste ontvang, die ontbyt bedien, my in my tjops gehardloop vir party mense wat nie eers die decency gehad het om alleen net ‘n “ dankie” te laat val met hulle vertrek nie – en hier is ek nou, aan die ontvangkant van sulke luxuries – Elob*, my Skepper, lê en dink ek: U is darem maar Îsa * in U beplanning vir my!

My oë val toe en toe ek my kom kry, word ek wakker – daar is ‘n gekrap aan my kamerdeur. O jitte, is hier ‘n intruder wat probeer inbreek of wat gaan aan!

Bang en benoud, bekruip ek die deur en oppad soontoe, gryp ek na die naaste wapen of dan nou wat ek dink is ‘n wapen, maar toe ek afkyk, is dit Dianne- Du Toit Albertze se boek, Bottelnek Breekbek – makisaki,  vandag vrek jy bradder, ek kap jou in die oog met die punt kant van die boek!

Toe ek die deur begin oopskuif, is dit Shiba, die huishond wat my met smekende ogies sit en aankyk.

Gots, Shiba! Was dit nou nodig?

Ek nooi vir Shiba in en sy kom lê langs my en beweeg haar kom so in nestling mode, terwyl  ek  vir my in my glory lag vir my paranoia, my eie simpelgeit. Nou ja, dan lê ek en Shiba maar nou in ons staat van meditasie en die musikale stilte  – net saamwees – ek en Shiba.

Hongerpyne knaag hier rondom 19h00.

Ek het vir my in Swellendam ‘n liter Coke, ‘n burger pie gekoop en een van ons Checkers se vegetarian pizzas en ek het nog ander snacks in my sak gehad en koffie sachets.

Ek maak my kossie warm, eet en wonder wat om te doen vir die res van die aand.

Shiba het stil – stil verdwyn by die balkondeur uit.

Ek gaan nêrens en ek gaan niks doen vir die res van die aand – ek gaan net rus en oh how I rested – dis die een luxury wat ek myself voluit gun – niemand roep na my nie, ek hoef nie te kook nie, ek hoef nie op en af te ry nie, niks en dis awesome!

Ek ontwaak die Saterdagoggend my gewone tyd – 05h00 – dis stil en ook nie, want voëltjies sing, ‘n grasgroen enetjie kom huiwer by my waar ek my oggendkoffie sit en geniet soos daai merrims oppie tv – ‘n naaldekoker kom vra of ek wil embark op sy flight na weet nie waarheen – ek gaan nie nou saam nie, laat weet ek vir hom – ek gee my nou te veel hier uit vir vetpret. Die son huiwer oor die rant van die berg. ‘n Uil sit en kyk vir my uit die hoogte van bo die venster, nes soos my oorle’ Boeta Boet wanneer hy lekker ge – olie was altyd gesê het: wat kyk djy vir my, mind your own business and believe me(sic)

Hier rondom 08h00, besef ek ek gaan laat wees vir Grant Jephtas as ek nie nou begin roer nie, ek moet nog make – up en alles.

Jirrekie tog, hoekom kan ek nie net meer structural wees tydsgewys nie, vermaan ek myself vir die umpteenth time!

Ek’s uiteindelik klaar en gaan na onder, ek probeer ‘n UBER taxi kry but nothing – ek vra vir Dr Moore is daar plaaslike taxi’s wat hardloop in die dorp en daar is nie en ek sê dan moet ek loop en vining, anders gaan ek nou vir Ashwin Willemse ook mis!

“No,” sê sy – “let me drop you quickly, it’s less than five minutes by car.”

En ek is so dankbaar en uiteindelik is ek daar – deel van die Adam Small Fees!

My welkom is lieflik. By die ingang is daar ‘n meisiekind – haar naam het ek vergeet, in fact, ek is maar vergeterig met name, maar hare is Jolyn of Jordan of iets, askies klimeid,  dat ek nie reg kan onthou nie. Sy het so mooi na my gekyk die heeldag, byna soos ‘n personal concierge.

Sy gee vir my ‘n tagg en verduidelik die tagg , is byna soos ‘n VIP ID – ek het gratis toegang tot die Fees se alles, behalwe natuurlik die boeke. Maar ek kry die lieflikste koe’sisters of doughnuts soos ons dit ken en ek hang my op, want dis te lekker en ek’s nie ‘n bacon and egg brekfis person nie, so dis ‘n lieflike verassing.

As ek hier moet begin uitbrei oor die res van die dag, gaan ek heeldag skryf en die tyd is min, maar hier volg net paar hoogtepunte vir my.

Ek vang die laaste paar minute van Ashwin Arendse se gesprek.

Deel van die dame se vraag was: “…en wanneer gaan ons nou ophou om die wit mense te blameer, shame, ek kry hulle so jammer al…”

Ashwin was vir my net briljant in sy antwoord op hierdie deel van sy antwoord. Natuurlik het ek my eie antwoord sou sy dit aan my stel, maar hierdie was sy moment. En hy het uitgeblink – dit kon ek ook sien aan die opgewondenheid van Jurgen se lyftaal – daai vingerklik wat die studente so doen en die applous wat Ashwin gekry het.  Bravo Ashwin en halala Ashwin!

Toe is dit Lester Walbrugh se beurt en die humor was daar –Prof Darryl vra vir hom: “Hoekom is jy vandag hier, Lester?”

Lester:”…Want u het my genooi, Prof?”

Dan is dit my beurt en ek gaan nie veel sê nie, behalwe dat ek tot in my diepste wese hoop dat aunty Ray my antwoorde via haar dogter gehoor het. Want dit is vir Aunty Ray en almal van ons se voorsate dat ek doen wat ek doen – ek wil hulle stem wees if and when allowed, want soos Harriet Tubman gesê het: “I have freed a thousand slaves, and I could’ve freed a thousand more, had they known that they were slaves.”

Toe is ek klaar en word oorval met liefde. Van die Dominique en Nadia se ouers wat ons early dinner gehost het, en mense wat vir my net ‘n drukkie kom gee het.

Ek en Grant (my partner) vir die dag – ja, daai Grant wat vir my oortuig het, bly nog vanaand ook man – en ek toe my Nanna se sestigste verjaarsdag partytjie gemis het die Sondag – het later gepraat oor hoekom ons doen wat ons doen deur ons skryfwerk en ons was dit eens dat dit nie is vir accolades en high and mighty status in die samelewing nie – ons is uitverkore boodskappers – daai is al.

Ons het opbeweeg na die kerksaal en toe is dit Clinton V. du Plessis se beurt en ek was verstom – oor sy woorde en die genuinity van sy voordrag – danksy Clinton het ek opnuut ‘n interes in digkuns gekry.

Julian Jansen is sjarmant en onopgesmuk en vol humor. Ek het hom ‘n vraag gevra oor Hannah Cornelius wie se dood ek vir een of ander rede nie kan vergeet nie – hoekom weet ek nie – dit kleef net aan my soos die Februarie hittegolf wat ons onlangs ervaar het.

Joanne Joseph se gesprek het ons net – net gevang –dus kan ek nie veel daaroor sê nie – net dat ek ongelooflik trots is op die dogter wat vir haar die vraag gevra het wat Joanne gesê het: Wow, that is a very deep question!

Jy is!, meisie – braaf tot die laaste letter en baie, baie intelligent – ek sien in jou ‘n toekomstige speaker of the house of dan ‘n toekomstige Ronelda S. Kamfer.

Toe beweeg ons na ons eetplek onder in die straat by Dominique en Nadia. Geliefdes, teen diè tyd was ek byna dood van die honger.

Met ons aankoms daar, staan daar bottels wyn en bier . Ek neem vir my ‘n Windhoek lager en sê vir Grant gooi die bier vir my in ‘n fênsie glas, dan lyk ek darem nie so kommin nie – ek’s geen wyn connoisseur nie en ek gaan my ook nooit so uitgee nie – wyn smaak vir my nie lekker nie – ek weet nie hoe om dit te proe en al daai tjokkeloks nie – en dit maak vir my buite orde raak – en dan kom al my ancestry wat op die dopstelsel was, na vore. Wag, laat ek my gedra. ‘n Biertjie is dit dan.

Daar is ‘n array van kos met malva poeding en verjaardag koek. Ek sit tussen Clinton se vroutjie en Grant en oorkant my sit Jits Ologie en Clinton – aan die punt van die tafel sit Julian Jansen en ek sê mense ek is nie ‘n ghiemba nie, maar ek’s vrek  honger, want my bord is hoog gestapel sien met die lamsbredie en rys, pampoenpoffers.

Ek sê vir Julian en Jits agterna: “Mense het jul gesien ek het nie die murg kliphard uit die beentjies gesuie nie – en my pinkie was hoog in die lug.”  Hoe de hel  kry mens anyways murg uit die beentjies met ‘n mes en vurk?

Dit bring vir my by Jits Ologie se vraag aan my.  En Jits, correct my as ek jou verkeerd verstaan het?

“Audrey, is jou manier van praat in protes teen wat ons perceive as normaal?”

Jits, neem ek aan verwys na my bry aksent – ek  was mos eers skaam om voor stedelinge te bry, want ons as plattelanders was myns insiens toenterjare op neergekyk oor ons aksent, wat duidelik uitgewys het ons is affie plaas – nee wag jong! Soos Hans, my ou vriend  sal sê – dis dan myne!

Kom ek gee dan nou vir Jits en almal wat hieroor wonder, ‘n breedvoerige antwoord en wie ek myself perceive om te wees.

Met verwysing na die gedig deur Adam Small, sê ek ek is die skepsel van Elob eerstens. Ek is saamgestel met die  DNA van die Hessekwa en ‘n Fransman en ‘n Nederlander en wie weet nog wie almal. Ek is die produk van slawerny en die agter – agter- agter tot in die nimmereinde dogter van plaaswerkers wat vandag nog, op ‘n Sondag met Ice Cream blikke na die naburige plase loop vir Sondag plates en poeding uitruilings en kuiers. Ek is ook die meisiekind met familielede wat magdomme rykdom en plase besit – of hulle dit nou wil weet of nie – en hier is geen oordeel nie. Ek is dan die jong ma wat in Taambay straat in Worcester afloop met ‘n maande oue baba aan haar bors – besig om te drink terwyl haar pa, ‘n vullisdrom trek en trots verklaar: hie’ is nou ‘n lekke groot drom vol wyn! Ek is dan die ma wat haar vyf jaar oue seuntjie “verkoop” aan ‘n pedofiel vir R150 en ‘n rugby bal. Ek is ook die dogter van ‘n tronkbewaarder uit die ou bedeling wat sy trauma opgetel daar , haar hele lewe lank dra. Ek is die luisteraar na Anzil Kulsen, wie se vermanings oor verbittering en vergifnis my nie ontglip nie.

Ek is die donker, slanke meisie hier in ons dorp wat haar fisieke waarde verkoop op ‘n daaklikse basis aan party bestuurders van wit 4 x 4’ met tralies en wit en swart kol honde agter op.

Ek is die suster van Bumper, ‘n oud SA Vlootman, wat naweke lekker ge- olie van sy kuierplekke afkom en love songs van Percy Sledge kliphard sing soos wat hy agter ons huis verby loop.

Ek is die dogter van die ou moeders en vaders wat met allpay hulle way dorp toe maak en soos wat ek tussen hulle deur beweeg, kry ek grepe van hulle daaglikse lewens (terloops, ek is mal om dorp toe te gaan met oumens pay – die karakters, die stories!).

Ek is ook die vriendin van ‘n mal haas wit meisie en ‘n nog meer looney male wit jong man wat vroeg more wanneer ek nog skaars die slaap uit my oë gevee het, vir my vra: “…en wat gaan ons nou drink? “

Ek is die skrywer wat vasgenael sit wanneer Petronel Baard vir Adam Small aanhaal en soos ‘n nagtegaal haar stem klanke die sterrehemel instuur met die show Saterdagaand by die fees en vir my laat wonder, nou hoekom faait ons dan so met mekaar as ons dit alles het?

Ek is die jazz lover wie se tone krul wanneer die baie aantreklike sanger Anneli Van Rooyen se Neem my op vlerke, so amorous uitlokkend laat klink dat ek wragtag myself vir ‘n oomblik vergeet daar en myself moet vermaan: Hou vir jou net in, goose!

Ek is ook Tecla, my hairstylist wat elke Donderdag Swellendam toe hitch hike vanaf Somerset West end an Saterdae weer terug  – alles vir haar kinders wie sy ‘n beter lewe wil gee.

Ek is die dogter van die voorsate vir wie die shackles by die slawe momument voor die museum in Pniël nou nog sway in die ligte Wynland breeze terwyl ek wag vir my taxi om terug te kom huistoe.

Daar is soveel  fasette tot my menswees en bogenoemde is ‘n kortlikse samevatting en dit is my bede dus dat ek deel  vorm van wat my begrip is van  wat  Adam Small bedoel wanneer hy sê in :

Die poet wie’s hy

Nai, 

djulle’s mistaken,

 nie hy nie

ma djulle is die poets, 

djulle wat innie straat in loep

ennie gladde bek verkoep

ma die dinge sien

en soema net daa God tien hulle roep!


*Hierdie is geen akademiese,  literêre analise van die Fees, die reus wat Adam Small was nie – dit is slegs observasies van ‘n feesganger en ook per toeval, ‘n skrywer. Terloops, ek weet nie hoekom nie, maar ek het altyd gedink hy is klein in statuur, maar toe ek bietjie oplees, sien ek hy was lank en slank – byna so lank soos Jits Ologie – snaaks nè, hoe ons vooraf perception ‘n rol speel  in wat realiteit is?

Aan Adam Small se nalatenskap, die MANwat hy was – dankie Meester, net dankie.

Aan die mense van Pniël, Prof Darryl, Janine Myburgh – almal wie se name ek vergeet het en per abuis hier weglaat, net ‘n doodeenvoudige : *Kai gangans* van my

Dr Sibs Moore of Moore’s End, you are the personification of a gracious host. Thank you for our kitchen counter conversation and that you were willing to drop me where I needed to be. For your endless “here, have some coffees, have some fruit, what can we make you for breakfast “ so that I finally succumbed to the muffins hand prepped yourself. You made me feel perfectly at home.

 If the only prayer you have ever said was thank you, that would suffice.” Meister Eckhardt

*Koekoegowab vertalings (wat ek nog kliphard besig is om aan te leer en enige foute is my eie), maar gangans aan *kham – ao Riaan Baartman wat my altyd op kort kennisgewing help hiermee)

Kham – ao Riaan, *Sida Ge!

*Elob – God, Skepper

*Îsa – mooi, awesome, amazing

*!Goasa – Mombakkie

*Kai gangans – Baie dankie

*Sida ge! – Ons is!

*Kham – ao – soldaat

Fotograaf: Menán van Heerden, LitNet (Voorblad foto: Skrywer Audrey Jantjies (As die katjiepiering blom, Kwela, 2022)

+ posts

Audrey Veronica Jantjies van Suurbraak, net duskant Swellendam, het na skool joernalistiek aan die destydse Skiereiland Technikon studeer, maar kon weens finansiële beperkinge ongelukkig nie haar kursus voltooi nie. Dit was nog altyd haar passie om mense se stories op te skryf. Sy het onlangs ʼn skryfkursus van Ingrid Winterbach bygewoon en dit het haar siening oor die “Afrikaans-wat-ek-ken” en haar manier van dink oor die “Afrikaans-waarmee-ek-kan-skryf” verander. Belangriker is die dringendheid waarmee sy opnuut besef het dat die stories van haar mense – die mense van Suurbraak se wêreld – vertel moet word, want hierdie mense het baie om te sê.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

2 thoughts on “Is festive hie’ buite”