Goeiemore, good morning all.
Baie dankie Mullersrus Primêr vir die geleentheid om deel te wees van hierdie super spesiale geleentheid.

“There is nothing to writing, all you have to do, is sit at a typewriter and bleed.” Ernest Hemingway.
Ek dink dit is die ideale opsomming en samevatting van skryf.
Wanneer jy stories probeer weergee op skrif, is dit myns insiens ‘n empatiese hike – of dan ryloop saam met die een wie se verhaal jy wil vertel.
Jy is permanent soos iemand wat op soek is, daar vat ‘n dringendheid binne in jou skrywers gees posvat wanneer jy iets observeer as iets opduik wat jy in woorde moet vasvat.
Daar is wonder in die ordinêre – ons moet net met ‘n wakker gees deur die lewe loop.

Soos die mooi van wat ek noem my vriendin – ‘n swart perd by die Swellendam Skougronde, wat onlangs gekalf het – Saterdag het ek daar verby gery en tot my hartsverblydende lekkerte, sien ek sy het gekalf – haar vulletjie het so uitgelate om haar rondgedans en uiteindelik het sy begin voed aan haar ma – ‘n oomblik wat vir my so heilig was en getuienis van die devine lieflikheid om ons – ons mis so baie van hierdie oomblikke omdat fokus te veel is op dinge wat ons in die negatief gooi.
Daar is iets so diepgaande aan die antie wat ek soggens sien loop met haar man – die eerste keer toe ek hulle sien, het ek gedink oe jinne! Hulle is darem verlief, maar drie dae later sien ek dat hy ‘n kierie het en ‘n baie donker sonbril – sy, met haar kopdoekie, pien en wit blokkies overalls en ‘n rugsak – ek sien hy is blind aan die manier hoe hy heeltemal vir haar wag om die pad oor te steek – sy is sy gids in die fisieke, maar duidelik is hy hare in die wêreld van die liefde – dit ervaar ek aan die manier hoe sy haar kop agteroor gooi wanneer hy vir haar iets sê wat vir haar laat skater – dan voel ek asof ek kompleet soos ‘n indringer in hierdie oomblik van die mooiste liefde.
Dit is dan ook die wereld van boeke en lees – hier het ek ‘n keuse – wil ek lag met ‘n les by, dan gaan lees ek Chase Rhys, wil ek die Kaapse vlakte in sy oopgevlekte waarheid ervaar, dan lees ek vir Nathan Trantraal en / of Ronelda Kamfer. Wil ek voel hoe leef my mede ex – Africans in Amerika, dan lees ek Toni Morrison. Wil ek die oorwinning teen afgryslike haat ervaar, dan lees ek Moby Dick van Herman Mellville.

Daar is soveel om te ontdek in lees. Dit is my bede dat hierdie biblioteek wonder wêrelde sal oopmaak vir die kinders en dat groot skrywers hiervandaan sal blom. En dankie vir almal wat dit moontlik gemaak het.
Sida Ge hoapa hâ – ons is oral.
Kai gangans.! Gaisé !gū re – baie dankie, julle moet mooi loop.
Audrey Veronica Jantjies van Suurbraak, net duskant Swellendam, het na skool joernalistiek aan die destydse Skiereiland Technikon studeer, maar kon weens finansiële beperkinge ongelukkig nie haar kursus voltooi nie. Dit was nog altyd haar passie om mense se stories op te skryf. Sy het onlangs ʼn skryfkursus van Ingrid Winterbach bygewoon en dit het haar siening oor die “Afrikaans-wat-ek-ken” en haar manier van dink oor die “Afrikaans-waarmee-ek-kan-skryf” verander. Belangriker is die dringendheid waarmee sy opnuut besef het dat die stories van haar mense – die mense van Suurbraak se wêreld – vertel moet word, want hierdie mense het baie om te sê.