Ek waag die vraag in die teenwoordigheid van ‘n groot gees.
Onder die wakende oog van Jakes Gerwel se portret by die etenstafel, val die woorde uit my mond: “Spook dit hier?”
Die vensters van die huis in Pauletstraat ratel, asof die huis self reageer.
Want by hierdie skrywersresidensie is geen gesprek taboe en geen onderwerp verbode nie. Elkeen vertel sy eie storie. Net soms skinder ons vriendelik en openlik van mekaar op hierdie blog: https://paulethousestories.jgf.org.za/
Daar is ses van ons by hierdie PEN-residensie in Junie 2022.
Mia Arderne, Emma Crebolder, Mphuthumi Ntabeni, Loit Sôls, Elodi Troskie en ek.
Die vraag oor die spook sweef rond tussen ander woorde wat bo-oor die etenstafel dwarrel.
Gesprekke oor elkeen se geskiedenis en komvandaan, gesprekke oor ‘n wye verskeidenheid onderwerpe.
Wie het Google of ‘n biblioteek nodig as Mphuthumi Ntabeni saam met jou aan tafel sit? Sy kennis van die Oos-Kaapse geskiedenis en wêreldletterkunde is verstommend. Loit Sôls se skryf-stils is vol ritme en klank, en hy deel sy wysheid en humor vrylik met al die tafelgenote. Daar is vertellings uit Tanzanië en voorlesings van gedigte in Swahili en Nederlands (Emma Crebolder), kennis van Earth Overshoot Day en hoe die aarde sy natuurlike hulpbronne opgebruik, besinnings wat almal van ons laat nadink (Elodi Troskie) en insigte oor visueel-skryf deur Mia Aderne, met haar drama-agtergrond en kennis van draaiboeke.
My oppervlakkige vraag oor spoke beland op die etenstafel. Bo-op die geblomde tafeldoek. Tussen die glase en die servette. Iewers tussen die kulinêre wonderwerke waarop sjef Gilbert van Zyl ons daagliks trakteer.
Die vraag het opgeduik omdat ons oor die Walter Battiss-museum net langsaan gepraat het, en net daardie oggend van die spook op die trap gehoor het.
Die vraag het hom nou gemaklik tuisgemaak, so sonder ‘n vraagteken op die rug van een van die huis se ornamentele skilpaaie.
Die vraag luister af hoedat ons die afgelope paar weke verhale oor al die onsigbare lewendes in ons persoonlike lewens met mekaar deel. Want in hierdie huis word daar geskryf. Maar mens kan nie so lank saamwees, en nie ook hoor van mekaar se kinders, ouers, geliefdes, ekse, vriende en vyande nie.
Soms wonder ons oor Stompie se grafsteen.
Soms raak ons ernstig oor ons elkeen se spoke, en die land s’n. Ons praat oor die geskiedenis, apartheid, witheid, kolonialisme, grond, en taal.
Ons pak die spoke uit en ons kyk na hulle. Wat is die punt van ‘n spook as jy hom nie kan ondersoek nie?
Ek het Paulet Huis toe gegaan om te kon skryf. Dit het ek gedoen.
Ek het ook beleef daar is ander waansinniges saam met my, wat soos ek deur woorde gedryf word. Ons almal het mekaar se woord-gekheid aanvaar. En dit omhels.
In hierdie paar weke het ek so baie by my tafelgenote geleer.
Die aand van my vraag, het ons die spook in die soldervertrek gaan soek. Ons het haar nooit gekry nie.
Maar net omdat ons haar nie gekry het nie, beteken dit nie sy was nie daar nie.
Want een ding het ek hierdie Junie vasgestel: Paulet Huis word bewoon deur baie vrye geeste. En ek het die voorreg gehad om vyf van hulle te leer ken.
Naomi Meyer, deesdae senior inhoudsbestuurder van LitNet, is ’n niepraktiserende prokureur. Ná haar regstudies en klerkskap in Bloemfontein voltooi sy haar meestersgraad cum laude aan die Universiteit van Kaapstad in die Departement Afrikaans en Neerlandistiek. Sy was in 2000 en 2001 voltyds betrokke by LitNet. Tussen 2002 en 2011 het sy in Ierland gewoon, waar sy by ’n regsuitgewer betrokke was, regsassistentswerk vir ’n prokureur gedoen het en viool by ’n musiekskool gegee het. Haar jeugroman Ruik jy die filmster het in September 2006 by Tafelberg verskyn en haar roman Webin 2017 by Queillerie.
