Jy is dalk ’n soort vroedvrou, of hoe? Betrokke by die geboorte van die boek. Hoe doen ’n mens dit – om ’n manuskrip te help ontwikkel, en ook om dit sensitief aan te pak, vir ‘n verskeidenheid skrywers wat elk hul eie stories het om te vertel, uit verskillende agtergronde? Wat is die lekkertes, wat is die uitdagings?
Ja, die vroedvrou is ’n goeie beeld, want die geboorte van ’n boek is nie speletjies nie, dis dikwels “blood, sweat and tears”. Vir my is die mentorproses ’n voortsetting van wat ek al jare lank as manuskripkeurder doen. Waar jy met ’n keurverslag in vier of vyf bladsye probeer aandui wat met ’n manuskrip skort en waar dit nog kan verbeter, beteken die mentorskap dat ek saam met die skrywer kan sit en in besonderhede die tegniese aspekte kan verduidelik, byvoorbeeld die vereistes van goeie dialoog of ’n geslaagde spanningslyn. As daar groot veranderinge nodig is, soos aspekte van die intrige wat nie oortuig nie of ’n slot wat nie sterk genoeg is nie, kan ek voorstelle maak of ons kan oplossings soek wat die skrywer dan kan toepas.
Iets wat ek baie belangrik ag, ook omdat dit ’n projek vir debuutskrywers is, is om die skrywer te help om sy of haar skrywerskap beter te verstaan en verder te ontwikkel. As mentor kan ek direk vir die skrywer sê: Kyk, hierdie is wat jy goed kan doen, dis wat vir jou natuurlik kom, en met hiermee sukkel jy, so jy moet harder daaraan werk. Met ander woorde, leer ken jou sterk punte sowel as jou swak punte as skrywer. Ek het ook al geleer, spesifiek in Mei 2020 toe ons weens Covid op Zoom moes werk, om heel eerste ’n incheck-sessie met die skrywer te hê en te vra: Hoe gaan dit regtig met jou? As die skrywers om een of ander rede swaarkry in hulle persoonlike lewe, is dit iets wat ek moet weet en in ag moet neem – dit help nie om net voort te storm omdat daar ’n sperdatum is nie.
Die lekkerste lekker van hierdie werk is altyd as die boek verskyn – om dit in jou hand te hou en te weet wat alles daarin gegaan het en hoeveel dit vir die skrywer beteken om hierdie prestasie te kon behaal. Ook om dan die skrywers se loopbane dop te hou en te sien hoe hulle groei en selfvertroue kry; om as spreker genooi te word na feeste, nominasies vir pryse, hulle verdere skryfwerk en publikasies te beleef.
Die grootste uitdaging van die werk is om van die begin af ’n goeie rapport met die skrywer op te bou. Sonder daardie vertrouensverhouding sal ’n mentorskap nie veel kan bereik nie.
Voorblad foto: Jeremeo Le Cordeur