Aangebied deur die Jakes Gerwel Stigting, die ATKV en NB-Uitgewers
’n Kind soos ek met Crystal-Donna Roberts, Deidré Jantjies en Suzette Myburgh
“Ek wou ’n karakter skep wat soos ek lyk,” sê Crystal-Donna Roberts oor haar debuut-jeugroman, Speurder Sammi. Op haar beurt teken Deidré Jantjies in Stories in die wind die verhale op van die mense van die Richtersveld, Namakwaland en die Kalahari. Beide skrywers was deelnemers aan die Jakes Gerwel Stigting en NB-Uitgewers se mentorskapprogram vir opkomende skrywers. Hulle teken die verhale op van mense wat vir té lank in kinderboeke afwesig was.
Jeremeo le Cordeur, gebore en getoë in Wellington in die Wes-Kaap, het ’n kreatiewe siel. Sedert hy aan City Varsity se Skool vir Media en Skeppende Kuns gegradueer het, werk Le Cordeur as kunsfotograaf en neem hy verskillende rolle in die teaterwêreld op. Le Cordeur is die entrepreneur agter Vulture Productions, ’n produksie- en ontwerpplatform vir kreatiewe en oorspronklike Suid-Afrikaanse teaterstukke. As vervaardiger en regisseur het Le Cordeur reeds vele suksesvolle teaterproduksies gelewer. In 2014 behartig hy die regie van Tannie Dora goes bos, Warren Meyer se skreeusnaakse spannings- en moorddrama wat tydens die Kunstekaap se agste Kunstefees vir Vrouemenslikheid opgevoer is. In 2019 is hy die regisseur van Mama, die karakterstuk waaraan hy met Chenal Kock meegewerk het. In dieselfde jaar sien sy twee eenmanstukke Jerry, an unconventional hero en Dude, wa’s my bakkie? die lig. In 2019 ontvang hy die NATi Jong Sterre-toekenning by die Suidoosterfees.
Deidré Jantjies is ’n professionele flamenco danseres en ook ’n kultuuraktivis wat passievol is oor die stories van historiese vroue. Sy is die stigter van Na Aap Produksies wat tot nog toe onvertelde stories en die geskiedenis van Suider-Afrika na die silwerdoek bring. Na ’n lang betrokkenheid by verhoogoptredes, spits Jantjies nou haar al haar energie toe op die skryf van haar eie stories vir kort- en speelfilms.
Crystal-Donna Roberts was 'n Suid Afrikaanse aktrise wat haar kinderjare deels in Bonteheuwel, Kensington en Factreton in Kaapstad deurgebring het en toe haar hoërskoolopleiding in Bloemfontein voltooi het. Sy het haar BA-graad in drama en teater aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf. Crystal-Donna was bekend vir teaterwerk soos Rondomskrik met Hennie van Greunen as regisseur, Kanna hy kô hystoe onder regie van Gerben Kamper en Bidsprinkaan met Janice Honeyman as regisseur. In die film- en televisiebedryf was sy betrokke by produksies soos The Endless River, Krotoa, Arendsvlei en Swartwater. Roberts is op 6 Maart 2025 oorlede.
Ons neem met groot hartseer afskeid van Crystal-Donna Roberts. Sy was nie net ’n uitstekende aktrise nie, maar ook ’n talentvolle skrywer. Ons het die borrelende Crystal leer ken toe sy haar boek, "Speurder Sammi: die blou steen" in 2021 as deel van die Bosberg-boekskryfprogram geskryf het. Sy was ’n besonderse deel van die Jakes Gerwel Stigting se skrywersfamilie, en ons sal haar nooit vergeet nie.
Suzette Kotzé-Myburgh werk sedert 1990 in die uitgewersbedryf en vir die laaste een-en-twintig jaar is dit op ’n vryskutbasis. Sy het haar BA-graad met lof behaal aan die Universiteit Stellenbosch, gevolg deur ’n honneursgraad in joernalistiek. Suzette is ’n vaardige taalgebruiker en, benewens die teksredigering wat sy doen, het sy ook die volgende op haar kerfstok: manuskripkeuring en -ontwikkeling, vertaal- en proefleeswerk, projekbestuur en selfpublikasies, boek- en filmresensies (LitNet, Die Burger, kykNET se Dagbreek) asook skrywersonderhoude (RSG se Skrywers en Boeke). Sy tree verder op as mentor vir teksredakteurs en as aanbieder van redigeringslypskole. Sy is die medesamesteller van Nuwe Kinderverseboek, Rympies vir Pikkies en Peuters, Rympies vir Kleintjies en Kleuters, Nuwe Stories 1, 2 & 3 en die US Woordfeesbundels vanaf 2016 tot 2019.