A place where stories unfold

Luisterryke aand werp lig op dié vraag: Wie was Nojoli? 

Die Jakes Gerwel Stigting se navorsingsprojek oor die naamsverandering van Somerset-Oos in die Oos-Kaap na KwaNojoli in 2023 is op Donderdagaand, 22 Mei, op luisterryke wyse bekendgestel. Die geleentheid het in die tuin van die stigting se historiese skrywershuis, Paulet Huis, plaasgevind. 

Hierdie projek, aangepak in samewerking met die Somerset-Oos Museum en moontlik gemaak deur die ruim finansiële ondersteuning van die Nasionale Erfenisraad (NHC), het ten doel gehad om lig te werp op koningin Nojoli—haar belang binne die dorp se geskiedenis en die breër noodsaak van dorpsnaamveranderinge. 

Aan die stuur van die projek was Mphuthumi Ntabeni, bekroonde skrywer van historiese romans soos The Broken River Tent en The Wanderers. Soos met die KwaNojoli-projek, dokumenteer hy die onderbeligte geskiedenis van die AmaXhosa van die Oos-Kaap. 

In samewerking met Siya Taho, bestuurder van die Somerset-Oos Museum, het Ntabeni sy navorsing begin deur die herinneringe van ouer inwoners van die dorp en omgewing op te teken. Soos dikwels met orale geskiedenis, het die betekenis van Nojoli se naam oor geslagte heen verander. Alhoewel sy die vrou was van koning Nkosi Rharhabe, wat ’n kraal aan die voet van die vrugbare Boschberge gehad het, het haar naam later verband gehou met dié berg, en uiteindelik met ’n trein wat gereeld deur die dorp beweeg het. 

Ntabeni het hierdie onderhoude, vervleg met beskikbare navorsing, saamgestel in ’n boekie getiteld
Our Voices are Left with our Bodies: The Early Black History of KwaNojoli.  Hierdie insiggewende publikasie is tydens die geselligheid aan bykans 120 gaste oorhandig in ’n stylvolle geskenksak met ’n KwaNojoli-kenteken. 

Die aand het ook die première van die dokumentêre film KwaNojoli: The Origin Story ingesluit. Hierdie 37-minute lange produksie is die resultaat van samewerking tussen die videograaf en musikant Buntu Duku en die internasionaal-erkende dokumentêre filmmaker Isa Jacobson, bekend vir haar aangrypende The Apartheid’s Killer, verfilm in opdrag van die BBC. 

KwaNojoli. The Origin Story vertel nie net die verhaal van Nojoli nie, maar bring ook randfigure na vore, soos John Kebe, wat in ’n grot in die berg gewoon het, vee van boere gesteel en dit aan arm swart gemeenskappe gegee het. Die film belig verder die trauma van gedwonge grondverskuiwings, asook die impak van werkloosheid en armoede op ’n gemeenskap wat eens die broodmandjie van die Oos-Kaap was. 

Dit is veelseggend dat Nojoli en haar mense juis hier tuiskom. Paulet Huis is meer as twee eeue gelede deur Lord Charles Somerset gebou vir sy tweede vrou, Poulette. Nou is ons almal hier bymekaar om Nojoli te vier—juis in die huis van die man na wie die dorp eens vernoem was.

Theo Kemp, uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel Stigting. 

Die Burgemeester van die Blue Crane Munisipaliteit, Bonisile Manxoweni, asook Brenda Ngcukayitobi en Mphuthumi Ntabeni het na afloop van die filmvertoning vrae uit die gehoor beantwoord. 

Die seremoniemeester vir die aand was Sphamandla Dlakwe, wat voorheen aan ’n liriekskrywings-residensie by Paulet Huis deelgeneem het. Hy het ook opgetree, saam met die multi-kulturele musiekgroep, die Iva Collective

Die Iva Collective het verskillende klanke bymekaar gebring om by te dra tot ‘n heerlike aand.

Beide die boekie en die film is beskikbaar op die Jakes Gerwel Stigting se webwerf: www.jgf.org.za. Die dokumentêr is ook beskikbaar om te kyk op die Jakes Gerwel YouTube kanaal.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *