A place where stories unfold

Dicky en Tricky en die wit stinkhout 

Die kleintjies weet al: As hulle daai grys bakkie sien aankom op die stofpad, is dit sulke tyd. Konserttyd. Dicky (Gary Naidoo) en Tricky (Jonathan Dreyer) is terug met hulle manewales. Vanjaar neem Dicky vir Tricky kamtig op piekniek, maar niks wil vlot nie. Die juffrouens kry die kinders nie tot bedaring nie en gee dan moedig op. Dis oukei, laat die kinders begaan. Laat hulle deel in die magic. Daar word gekul, ge-Michael Jackson en gelag. En gelag. Later wys die kinders hul eie danstruuks; van die onderwysers jive ook saam! Dan raak dit stil en die leesassistente moedig die jong lesertjies aan – gaan wys bietjie hoe mooi jy al kan lees! Een vir een skuif hulle voor die mikrofoon in.  

Die skedule is druk. Daar is immers 14 skole om te besoek en 3 000 kinders wat angstig vir die bakkie wag. Ons ry van Pearston na KwaNojoli na Cookhouse, dan op die plaaspaaie. Mooi name soos Beenleegte, Middelwater en Witmos val my op.  

Die kunstenaars ken van; hulle raak nie sommer moeg nie. Elke keer is dit showtime, asof hulle vir die heel eerste keer die stuk opvoer. Elke jaar besef ek net hoeveel die teatermaker Rafiek Mammon sy sout werd is. Hy skep nie net ’n magiese ervaring vir die kinders nie en hy bring ook nie net lag nie. Om te behoort en die wete dat daar omgegee word, bring hoop. Dat die Stigting sal aanhou glo aan die toekoms. Want in elke kind is daar potensiaal wat eenvoudig ontsluit moet word; op elke skoolbank sit ’n Jakes Gerwel. Dankie tog dat daar vennote is wat saam met ons glo. Dankie aan die Suidoosterfees wat elke jaar saam met ons die projek moontlik maak. Dankie aan Citizen Connect en dankie aan die Social Employment Fund wat die assistente maandeliks vergoed. 

Oral is die leesassistente op hul pos, al 40 van hulle in helderkleurige T-hemde. Die leeskamers kom mooi aan. Van hulle is al bont geverf en die storieboekies het al varkore. Hulle word nie net uitgestal nie, hulle word gelees. Nou kort ons nog leesmatte, leersame plakkate en hier en daar ’n boekrak of twee. Leeskamers word nie in ’n dag gebou nie, maan ek myself om geduldig te wees. Nes leesagterstande ook nie oornag uitgewis word nie.  

Smiddae is die kunstenaars poegaai. Hulle kamers is stil. Ek sit en werk in my gunstelingkamer in Paulet Huis. Hier kyk ek uit op die Bosberge en my oog vang dan en wan ’n voetganger. My gunstelingverbygangers is die beeste. Maar dan leun ek verder by die venster uit en sien hoe groot die wit stinkhout al geword het. En ek onthou: Toe ek jare gelede hier begin het, was dit maar ’n dun ou stammetjie. ’n Voëltjie moes dit daar kom plant het. Netjies die saadjie in sy snawel gevlieg van die hoofboom agter by die kombuis, tot hier reg voor die huis. Wat ’n goeie besluit. Hierdie bome gee koelte in ’n Karoo-rige dorp waar die son nie speel nie. Dis ’n inheemse boom. Gehard en dankbaar. Voëls maak goeie tuiniers uit, besef ek meteens.  

Dis ons laaste vertoning. Ek verkyk my weer aan die uitbundigheid, die totale oorgawe wat net kinders kan hê. Ek klap ekstra hard teen die einde. Nie net vir die puik kunstenaars nie, maar ook vir my mense wat so hard agter die skerms werk. Vir Xolela Takai en Nompumelelo Sokoyi – my absolute staatmakers. 

Nompumelelo Sokoyi (programbestuurder), Jonathan Dreyer as Tricky, Gary Naidoo as Dicky en Xolela Takai (program-assistent)

Ons gee vanjaar nie meer sakke vir die kinders nie. Dit het duur geraak en dis belangriker dat die kinders elke dag by die skole gehelp word om te kan lees. Maar hoe verduidelik jy dit nou vir ’n kind? En net daar, op hierdie warm dag in die Oos-Kaap, kry ek die bevlieging om vir elke kind ’n Krismispakkie op te maak. Sal mense help? wonder ek hardop. Is daar mense wat op so ’n pleidooi sal reageer? R50 per pakkie gee vir ’n kind ’n mooi boekie, ’n soetding, ’n tjippie en ’n sappie. Ek weet ’n mens kan nie oral help nie, maar liewe leser, ek vra mooi. So min as R50 per kop kan die wêreld vir ’n kinderhart beteken. Glo my, ek sien dit elke keer hier. As jy kan en wil, klik hier om ’n bydrae te maak.

Wie weet, oor ’n jaar of wat is die stinkhout net mooi groot genoeg om opgemaak te word as Krismisboom. 

+ posts

Theo obtained his master’s degree in creative writing at Stellenbosch University. He has been involved with various projects in the arts before in his role as, among others, project manager of the Woordfees, advertising coordinator at NB Publishers, programme manager at the KKNK as well as at the Vrystaat Literature Festival and as executive director of the Breytenbach Centre in Wellington.

Theo is the author of two novels, Skool and Strafjaart.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *