Jy staan agter in die klaskamer. Voor jou is ’n see van klein mense se agterkoppe. Jy ken van hul gesigte, want hulle het ons bakkie vroegdag al by die hek ingewag. Jy verkyk jou aan die klein lywe op die skoolbanke; die uitbundige gelag; die skoolskoentjies wat uit pure genot stamp op die sementvloer. Jy loer na die juffrou wat ook iewers agter in die klas sit. Sy lag saam met die klas, maar kyk gereeld op haar selfoon. Het sy ander verpligtinge? wonder jy.

Die hoogtepunt was om die kinders so te sien lag.
Heel voor in die klas is die gelukbringers van die dag. Eers is dit Nompumelelo Sokoyi wat een van die boekies in Xhosa – en later in Afrikaans – voorlees. Sy roep ’n seun nader om saam te lees. Hy hou sy hand voor sy mond, asof hy onseker is hoe die woorde moet uit. Nompumelelo moedig aan. Sy laat die klas sing. Jy dink: Wat is die kanse dat sy oor jou pad gekom het? Hierdie vrou van Pearston wat nou al vir sewe jaar lank hierdie boekeprojek saam met jou aanpak. Nompumelelo wat, lank nadat jy terug in die Kaap is, meer as twintig weeskinders se monde moet voer. As dit nie vir haar was nie, het Gift of the Givers nooit ingegryp en waterlorries na haar mense gestuur nie.

Die gelukbringers van die dag: Gary Naidoo, Nompumelelo Sokoyi en Charles Tertiens

Nompumelelo Sokoyi lees saam met een van die leerders van die plaasskool Hambakuhle.

Nompumelelo Sokoyi lees storieboek voor.
In die beginjare het ons twee alles alleen gedoen. Saam in die bakkie geklim en na die paar skooltjies afgesak. Maar nou, met die 3 000 kinders op ons lys, is ons diep dankbaar vir al die ekstra hande. Hande wat swaar kratte pak en dra. Hande wat rugsakke stik en knip. Hande wat ken van grondpad ry.
As Nompumelelo klaar gelees is, stap twee kulkunstenaars in blink kostuums die klas binne. Jy begin sag lag, want jy weet wat kom. Jy weet hoe dié twee, Dicky en Tricky, met die kinders se koppe gaan smokkel. As hulle eers kamtig ’n Coke-bottel laat wegvlieg, is die kinders baldadig verby!

Magical! Tricky en Dicky

Dicky speel hoender-hoender en druk ’n eier.

’n Eier word ’n bal


Stoute Dicky laat die kinders skaterlag.
Saans om die etenstafel in Paulet Huis is Dicky en Tricky uit karakter. Dan is hulle Gary Naidoo en Charles Tiertens. Hulle is sigbaar moeg. Dis nie kinderspeletjies om elke dag vir vier skole op te tree nie; en van die skole is ver uit mekaar. Dan is daar nog die onvoorsiene elemente. By sommige skole is die groepe so groot dat hul stemme wegraak. By ander speel hulle onder sinkafdakke. Maar the show must go on, en daarvan maak Dicky en Tricky dubbeld en dwars seker.

Tricky en Dicky besig om te kul jou hier en kul jou daar

Leerders na vertoning en lees van storieboeke
Jou oë dwaal na die plakkate teen die mure. Jy probeer iets aflei van die juffrou en die klasopset deur te kyk na wat sy opplak. Jy onthou dat jy iewers die verweerde prent van Madiba gesien het. Jy onthou dat jy toe gewonder het oor die simboliek daarvan. Is dit die nalatenskap van ’n man wat baklei het vir gelykheid, wat vervaag?

Die nalatenskap van Mandela vervaag.
Wat gaan word van daai klein mannetjie as hy grootword sonder om vlot te kan lees? Waar gaan hy werk kry? Jy kyk uit by die venster – na die Karoo-landskap wat jou bly bekoor. Jy staan by die deur en gee die boeksakke aan. Sê dankie, herinner die juffrou die verbaasde kinders. Kyk, daar hol die mannetjie met die sak reeds op sy rug. Die Jakes Gerwel Stigting se logo op sy rug. Wat sou van Jakes Gerwel geword het as sy pa nie ’n skool gebou het nie? Bracefield. Jy breek ’n vetplant-steggie af by Jakes se grootwordskool. Jy gaan dit plant en as dit groei, sal jy onthou van Jakes se pa en die skool. Dis ’n storie van hoop en durf.

Karoo-landskap buite die klaskamer

Die leerders van Bracefield. Ons sal altyd ’n sagte plekkie hê vir Jakes Gerwel se grootwordskool.
Juffrouens en hoofde praat met jou oor hoe swaar die skole kry. Nee wat, lag ’n ander juffrou als af, die rondloperbeeste is haar skool se grassnyers. Vir alles het sy ’n plan, want wie kan dan nog wag vir die regering om wakker te skrik. ’n Ander juffrou skep bakkies kerrie vir ons op. Die onderwysdepartement dreig om die plaasskole toe te maak. As die besluitnemers van hul gemakstoele sal afklim en saam met ons hierheen ry, dink jy woedend, sal hulle mos verstaan dat die kinders geen ander heenkome het nie? Hoe loop jy honderde kilometers skool toe per dag? Dropouts, dis wat word van sommige van die kinders. Hulle verdwyn van al wat ’n lys is.

Groentetuin by Witmos Laerskool
Maar jy skep weer hoop as jy die groentetuin sien: Wortels en spinasie en tamaties groei geil uit binnebande. Hier is ’n juffrou wat omgee. Dankie tog. Sy sal sorg dat die kinders nie verdwyn nie; sy sal aanhou baklei dat die skooldeure oopbly. Dankie tog, dink jy met die wegry, daar is nog mense wat omgee. Dankie tog vir die Jakes Gerwel Familietrust, vir die stigting se wyse raadslede wat elke jaar jou begroting goedkeur. Dankie vir Book Dash vir die mooiste storieboeke, vir Uzwelo se bont sakke, vir die Suidoosterfees wat ons elke jaar help met die teaterstuk. Dankie vir die DG Murray Trust wat die krisis van ongeletterdheid in ons land so goed verstaan. Ons kan nie nou hoop verloor nie, herinner jy jouself, daar is hopeloos te veel hande wat nog boeke kort. En daar is genadiglik genoeg hande wat sal aangee.

Edmund Jeneker, voorsitter van die Suidoosterfees, oorhandig boeksakke.

Kinders van Gilbert Xuza Primer

Leerders by William Oats Primêr met hul rugsakke

Vanjaar se sakke is vrolik en lig soos die show.

Rugsakke gemaak deur Uzwelo

Paulet Huis se Sjef Gilbert van Zyl gaan ook saam na die skole toe.
Theo obtained his master’s degree in creative writing at Stellenbosch University. He has been involved with various projects in the arts before in his role as, among others, project manager of the Woordfees, advertising coordinator at NB Publishers, programme manager at the KKNK as well as at the Vrystaat Literature Festival and as executive director of the Breytenbach Centre in Wellington.
Theo is the author of two novels, Skool and Strafjaart.
One thought on “Hande wat storieboeke gee en neem”
Dit is ‘n hartverblydinde storie en fotos. Wens ek was jonger en kon saamwerk. Veels Geluk en Beste wense met die grootse taak .🤗🤗🤗