Dis vroegoggend se ry uit die Baai. Ek neem die sonsopkoms af langs die pad. Gou maak, die skrywer wag vir my by die busstop. Amanda Strydom se liedjie is in my kop – “Rit huistoe”. Al die ou bekende name groet my langs die pad. Bakens wat nog sterk staan, wat my altyd huis toe vat. Die branderbrekers langs die kusweg. Die soutpanne. Die koffie en roosterkoek by Nanaga-padstal. Ek wonder hoeveel keer het ek al hierdie pad gery. Ek hoop hardop dat daar nog baie ritte oor die Olifantskoppas sal wees.

Ek kon nie anders om te stop en die strale wat deur die wolke op die seemond breek, te probeer vasvang nie.

Die son en die wolke hou toneel.

Nanaga is ’n moet-stop voor jy dieper die land inry.

Die branderbrekers wag moedig vir die waters.

Een van die grootste bakens. Olifantskoppas.
Ons praat oor soveel dinge, ek en die skrywer. Kinders wat gestraf word vir hul ouers se dade, afwesige pa’s, die toekoms van Kaaps, tronktaal en die stiltes tussen woorde. Ek swenk uit vir ’n bobbejaan. Die lewe is vol keuses, sê die skrywer, jy moet net die remote control druk. Maar in wie se hande is die afstandbeheer van die kind wat steeds nie kan lees nie? Wie se ouers leef van grants. Almal moet doen wat hulle kan doen, dis al, praat die skrywer moed in. Ons is die eerste ouers van die demokrasie, ons moet help groot maak. Daar’s ’n rede dat die Boesmans mekaar geleer het om eers na veertig te begin drink. Voor dit is jy te jonk om dronk te raak. Dis hoekom ons – beide in die diep kant van veertig – die regte ouderdom is om iets te doen. Om te help grootmaak aan die land se kinders.
Vir wat het ek nie al die gesprekke met vorige passasiers opgeteken nie? Die miershope en die kraaineste op die telefoondrade, hulle is almal die stille getuies van wat op hierdie pad oor die jare heen al gesels is. Dis asof die eerlikheid van die landskap buite die glas ’n mens laat praat. Diep praat.
Ek onthou die eerste rit soos gister. Dis iewers in Oktober 2017. Ek is ’n skoon besem wat wil vee. Min het ek geweet wat op my wag. ’n Begroting moes klop – en somme is nie my sinne nie. ’n Huis moes opgeknap word. ’n Skrywershuis moes opgedroom word. Watter lieflike droom waarvan ek steeds nie wakker geword het nie.
Ek roep die vorige geselse op. Al die gelag. Die openbarings. Die het-jy-gehoor-stories. Ek kan lankal nie meer tel hoeveel skrywers ek al so aangery het nie. Honderd-en-dertig hou ons in ’n jaarboek telling, maar die stories in my kop is meer as ’n hele uitspansel vol.
Is dit Mia Arderne wat opgemerk het dat die sterre anders lyk in die Oos-Kaap? Wragtig. Als is anders hier. Oper. Vryer. Ek draai die venster heeltemal af. Met my arm buite die raam, soos ’n wafferse boer, nooi ek die reuke in. As ek maar ’n skilder was.

Die noorse en die wolke. My hartland.
Kyk net hoe geil is die plantegroei, net om ’n paar kilometer weer die gestrooptheid van die Karoo vir jou te wys. Hier is altyd iets langs die pad. Die landskap spog nes die wolke, hulle goël jou. Nou is dit weer turksvye-tyd, ander keer is die aalwyne in volle blom. Smouse hou die vrug in die lug. Weet jy hoe bleddie moeilik dit is om daai goed gepluk te kry? Ek kan nie onthou wanneer laas het ek ’n turksvy geëet nie. Yskoud moet hy wees op ’n warm dag soos wat dit lyk vandag gaan wees.

Digte bosse langs die pad

Dis nog geil groen en dan skielik is jy in die Karoo.

Turksyverkopers langs die pad
Dis Boesmansrivier oor, dan Beenleegte. Ons kom al nader. Kommadagga, liefste Kommadagga. Kyk, doer is die Bosberge, daar is die afdraai. Longhope. As die beeste baasloos oor die pad stap, weet jy jy is hier. Ons het die pad kort gepraat, bedank ek die skrywer. Welkom by Paulet Huis. My ander huis in my ander dorp. Ek is tuis.

Die beeste van KwaNojoli behoort net aan hulself.
Foto’s: Theo Kemp
Theo obtained his master’s degree in creative writing at Stellenbosch University. He has been involved with various projects in the arts before in his role as, among others, project manager of the Woordfees, advertising coordinator at NB Publishers, programme manager at the KKNK as well as at the Vrystaat Literature Festival and as executive director of the Breytenbach Centre in Wellington.
Theo is the author of two novels, Skool and Strafjaart.
6 thoughts on “Die rit huis toe”
So vreeslik trots op jou.
hartsmooi skrywe het ek nou beleef deur jou pen. 🎈
Jy’s so ongelooflik talented Mnr! Baie dankie vir die storie! Dit het sommer ‘n bietjie (klomp) heimwee hierdie kant veroorsaak 😉
ek het nie te lank terug daardie pad gery…jy so mooi opgesom in jou storie…☺
this is so lovely: Die noorse en die wolke. My hartland.
and now I am in Die Huis.
Glad you enjoyed the story, Gerda. And are enjoying being in Die Huis. Mooi bly …