Hier onder volg ’n onderhoud tussen Theo Kemp (die uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel Stigting) en Naomi Meyer (LitNet) oor die diskoersgesprekke wat die Jakes Gerwel Stigting by vanjaar se Suidoosterfees aanbied.
Wat is vir jou belangrik as dit kom by die Jakes Gerwel-gespreksreeks by die fees? Hoekom bied julle dit aan, jaar na jaar? Gaan dit oor gemeenskapsbou, diversiteit, ’n plek om mense in te lig, ’n omgewing waar mense kan saamgesels, ’n omgewing waar boeke verkoop kan word en raakgesien kan word wat andersins nie ’n platform sou kry nie, ’n manier om sosiale en politieke kwessies te bespreek, waar niemand in die gehoor hoef stil te bly nie …? Wat is die belang van die Jakes Gerwel-gesprekke?
Alles wat jy hier noem is wat ons wil aftik! Dit gaan daaroor om gesprek te fasiliteer; en om dit behoorlik te kan doen, moet mense jou vertrou. Dit is waarom dit vir my so belangrik is dat die Stigting heeltemal neutraal moet staan, heeltemal omarmend moet wees teenoor alle mense met alle soort ideologieë. Want sodra jy diskoers wil fasiliteer, maar mense vermoed jy het ’n soort agenda of ’n ideologiese raamwerk waarbinne jy kamtig die seepkis wil staanmaak, verloor jy geloofwaardigheid. En soms raak dit my op ’n persoonlike vlak as iemand van die verhoog af iets negatiefs kwytraak oor ’n groepering of so waarmee ek my identifiseer. Maar dis juis waaroor dit gaan – ons moet na mekaar kan luister, ons moet vir mekaar grasie gee. Ek wens ons kon in elke liewe dorp in die land sulke gesprekke aanbied, want dis so belangrik. Dis waar ons telkens vashaak.
En in ’n wêreld waar leiers op mekaar skree, raak dit al hoe belangriker om ruimtes te skep waar mense werklik tot mekaar kan deurdring. Jy hoef nie iemand anders te oortuig nie, solank ons net kan begin kop dat daar verskillende maniere is van dink. So die Jakes Gerwel-gesprekke is eintlik ’n soort oefening – oor en oor moet ons leer om te praat, om te vra sonder om reeds ’n antwoord te weet, om te verstaan sonder om te oordeel. En dis moeilik, want ons het vir soveel dekades nie met mekaar gepraat nie.
Praktiese sake: Waar vind al die gesprekke plaas, wanneer, en hoeveel kos dit? Koop mens kaartjies by Webtickets, of kan mens ook net opdaag en by die deur kaartjies koop?
Die gesprekke is heeltemal gratis en verniet en pasella. Jy kry op die koop toe nog ’n koffie ook gratis! Jy moet egter wel groot asseblief jou plek op Webtickets bespreek, want daar is beperkte plekke. Jy kan ’n kans waag om by die deur vir jou ’n sitplek te kom kies, maar dan is jy nie gewaarborg van ’n sitplek nie.
En bring jou geld tog saam om ’n boek of tien te koop. Anders as by ander kunsvorme word skrywers normaalweg nie betaal vir openbare deelnames nie. Hulle hoop maar jy koop ’n boek. Alles gebeur by die ATKV-Boeke-Oase – wat by die Innovation Lounge is reg langs die operahuis. Aan die een kant is die gesprekke, en net om die draai is die boeke te koop. Alles maklik en gerieflik, en jy kan hier maklik geselsies aanknoop met die skrywers na jy hulle boeke gekoop het.
Lees hier verder: