Dis ’n tipiese wintersoggend in die Karoo: sonnig, met ’n paar verdwaalde vlieswolke in die bloue hemel. Die radio sukkel oor Bruintjieshoogte. Ons is op die pad tussen Pearston en Somerset-Oos, deesdae KwaNojoli. Ek skakel die gesuis eerder af. Dis in elk geval nie nodig vir afleiding nie, daarvoor is daar vanoggend genoeg gesprek en geskerts in Jakes se bakkie. Gewoonlik is dit net ek en Nompumelelo Sokoyi wat die skoolbesoeke doen. Maar vandag is Xolela Takai saam met ons. Dis tyd vir nuwe bloed, het Nompumelelo ons aan mekaar voorgestel.
Dis inderdaad tyd vir nuwe dinge. Onthou sy hoe ons in die einste bakkie die eerste keer sakkies met ’n paar boeke na die skole geneem het? Ja, lag Nompumelelo. Dit voel soos nou die dag. Oor die jare het die skoolkinders meer geword, en die skamele boeksakkies het volwaardige rugsakke geword.
Sestigduisend boeke en hordes sakke later, morge se grondpad ry agter plaaskinders aan, en ons is hiér. Hier waarvan ek so lank gedroom het. Die kinders gaan nou nie meer net een keer ’n jaar by die hek vir ons wag as ons met poppe en props en boeke en wat nog by hulle kom kuier nie. Nee, want met die Greater Stellenbosch Trust en die Social Employment Fund agter ons, kan die Stigting vanjaar dertig jongmense in diens neem wat elke liewe skooldag by die kinders gaan wees. Jong, slim mense vir wie daar nie werk is nie.
Daarvoor is die krisis in ons land hopeloos te groot. Daarvoor is daar te veel jongmense wat jaar op jaar op straat beland. Ongeletterd, onopgewasse, ontneem van ’n toekoms.
Daar’s kinders, dertien jaar oud, wat steeds nie kan lees nie, skuif Xolela van agter tussen die voorste sitplekke in. Ek kyk in die truspieël na die skugter man, seun van Pearston. In sy oë sien ek die dringendheid, asof hy wil vra dat ek voet in die hoek moet sit. Hy weet beter as ek hoe die krisis in ons land handuit geruk het. Hy sien sy skoolmaats van ouds werkloos op straat. Dropouts, wat ’n vieslike naam vir hierdie ongeletterdes? Onopgewassenes, ontneem van ’n toekoms.
Xolela hou ’n clipboard in sy hande waarop al dertig assistente se name en take gelys is. Vandag moet ons hoeka almal ontmoet en bestekopname neem van wat als wat nodig is om vir ons assistente leeskamers in te rig. Mooi maak mooi, en daarom moet ons leeshoeke sag wees. Alleen maar op ’n knus mat tussen bont rakke en prentjies sal ons mense daarin slaag om woorde in die kinders se koppe te plant. Woorde maak sinne, en om sin te maak van alles, is om te dink in paragrawe, so vloeiend op mekaar soos konsepte. Om te weet wanneer ’n nuwe hoofstuk begin, om die slot van jou eie verhaal te skryf, moet jy hier tussen die boeke saam met die kind op die mat sit. Moet jy wys hoe die b ’n boep maak, en die donkie se d ’n lekker paar boude het. Dis wat ons vandag vir die assistente wil vra. Gaan sit saam met die kinders op daai mat. Een letter op ’n slag. So red ons ’n nasie.
Dis nie ’n geringe taak om die admin van ons boekeprojek te hanteer nie, en dis Xolela se baba. Dis van vorderingsverslae invul, almal se werksure noukeurig nagaan, sorg dat almal genoeg leesboeke het en die onderwysers weet waar wie inpas.
Tussendeur die besoeke loop ek rond, neem ek foto’s van goed wat my op daai oomblik daar hou. Onderwysers plak bemoedigende boodskappe vir mekaar op. Leer die kinders dan nog van die ou koloniale geskiedenis? wil ek by een juffrou weet. Ja, antwoord sy ferm. Sy leer nie halwe waarhede vir haar kinders nie. ’n Jesusbeeld, ’n kruis. Ek sien skeepsvraghouers by skole wat voorheen nie daar was nie. Die een is vir ’n kombuis, die ander vir ’n bib. Dis tekens van hoop, besluit ek. Tekens van verandering. Soos die weer. Want as ons teen laatmiddag by Paulet Huis indraai, dra die berg al haar nagrok. Gilbert se vuur brand hoog. Vanaand smul ons weer aan sy kos en verkyk ek my aan Rashid Lombard se swart-en-wit kiekies van Jakes en al sy medestryders wat die strate invaar om te baklei vir gelyke regte. Vir ’n better life for all.
Theo obtained his master’s degree in creative writing at Stellenbosch University. He has been involved with various projects in the arts before in his role as, among others, project manager of the Woordfees, advertising coordinator at NB Publishers, programme manager at the KKNK as well as at the Vrystaat Literature Festival and as executive director of the Breytenbach Centre in Wellington.
Theo is the author of two novels, Skool and Strafjaart.