A place where stories unfold

Theo Kemp: Kom binne, kom lees om te droom

Dis ’n grou en windverwaaide Vrydagoggend op die Kaapse Vlakte.‘”Enter to Learn, Leave to Serve,” is die leuse van Parkfields Primêre Skool. Ons – dis nou ek, Thérèse Hulme (Praat jy!-fasiliteerder), Audia Stanley (vakadviseur) en Noni Mashologu (Otto-stigting) – kloek in die voorportaal saam vir die skenking van boeke en ’n boektrollie. Thérèse kan haar opwinding nie beteuel nie. Die projek kry lewe. Nou het ons al boeke, ’n fancy trollie, en die kinders is besig met ’n toneelstuk. Een van hulle is aan die rap. Dis die begeesterde onderwyser, Eric van der Byl, wat ons klomp hier uitgebring het. Onderwysers soos hy is dun gesaai.

 Parkfields Primêre Skool, Hanover Park

Hoe kan ons kreatiwiteit vir jongmense leer as hulle nie kan lees nie? As hulle nie boeke het nie? Maklik: jy kry mede-begeesterdes bymekaar. ’n Audia, ’n Noni, ’n Thérèse en ’n Eric en voila! Maar ek weet dis nie so eenvoudig nie. Dis slegs deur onverdunde omgee, vertroue opbou, aanhou en aanhou.

Twee weke gelede staan ek – ook op ’n winderige dag, in die vertreksaal van die Dawid Stuurman-lughawe. Thérèse bel: Sy is moedeloos. Miskien is dit tyd om die tuig neer te lê. Ons twee ken mekaar al donkiejare  – ’n testamentiese vriendskap soos sy eenkeer spottenderwys daarna verwys het. Soos ’n Rut en ’n Naomi, net heeltemal anders, volg ons mekaar van dorp tot streek, van skoolbank tot swartbord. Van Wellington tot Grassy Park en nou hier: Hanover Park. Dis sý wat my geleer het dat daar altyd water is; dat jy moet rustig wag totdat daai talent opstoot en in helder strale deur die harde grond breek. Jy moet leer om te vra sonder om die antwoord te weet, is haar ander les. En nóg ’n juweel: jy moet die black wattles, die indringers van taal, uitroei. Jy kan dit net doen as jy aanhou vrae vra. Jongmense het soveel om te sê, daar is bruisende waters onder die oppervlak.

Noni plak ’n houtteken: “Read to Dream” op die trollie.

Noni plak ’n houtteken: “Read to Dream” op die trollie wat sy met soveel sorg laat maak het. Ons stoot dit soos stout kinders in die gang af tot by die klaskamer. Groot kragpale blink teen die donker wolke. Kinders is op die speelgronde. Hulle groet so vriendelik, merk ek op. ’n Groep met pakkies Niknaks roep my nader: Uncle, neem ons ook af.

Dieselfde woorde “Enter to Learn, Leave to Stay” is opgeplak teen die kleurvolle Graad 7- klaskamerdeur. Noni oorhandig die boektrollie; die kinders begin dadelik die boeke aangee en inpak. Lees vir ons gaste voor, vra Erik vir een van die leerders. ’n Paar maande gelede was dit ondenkbaar dat die seun die moed gehad het om hardop voor te lees. Nou doen hy dit met groot ingenomendheid.

Die kinders begin dadelik die boeke aangee en inpak.

Na die oorhandiging gesels Thérèse oor die klas se toneelteks-in-wording. Daar is ’n ongeërgde onderwyser in die stuk; iemand anders wil polisie toe gaan oor ’n geboudvattery. Sitvlak, het die jong skrywers dit in die teks genoem. Wat vir ’n ding is dit, lag Thérèse. Skryf soos jy praat, dat ons kan verstaan.

En dan onthou ek een van haar heel belangrikste lesse: maak nie saak waar jy bly nie, wat jy te sê het is die moeite werd om gehoor te word. Niemand kan jou storie vertel soos jy dit kan doen nie, want niemand kan dit sien soos jy nie.

Niemand kan jou storie vertel soos jy dit kan doen nie, want niemand kan dit sien soos jy nie.Thérèse Hulme (Praat jy!-fasiliteerder),

Ek kan nie wag vir volgende jaar om die play te sien nie, moedig ek die kinders aan. Eers volgende jaar? wil een weet. Kom ons maak dit nog voor Krismis, vra sy. Teen volgende jaar is daar ander beats om op te maak en ander lines om te skryf. Dis reg, knik ek en groet. Die wolke waai nóg wind van doer uit die see oor Tafelberg. Ek sit my Google Maps aan en ry stadig deur die strate terug na die Bolandse berge van my dorp.

Foto’s: Theo Kemp

Voorblad foto: Murray La Vita

+ posts

Theo obtained his master’s degree in creative writing at Stellenbosch University. He has been involved with various projects in the arts before in his role as, among others, project manager of the Woordfees, advertising coordinator at NB Publishers, programme manager at the KKNK as well as at the Vrystaat Literature Festival and as executive director of the Breytenbach Centre in Wellington.

Theo is the author of two novels, Skool and Strafjaart.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

2 thoughts on “Theo Kemp: Kom binne, kom lees om te droom”