A place where stories unfold

Al die foto’s wat ek nie geneem het nie 

Dis agtuur en die son is al skerp hier by Pearston Primêr. Ons was vroeg uit die vere by Paulet Huis om betyds te wees vir die groot doe. Oor die mooie Bruintjieshoogtepas tussen KwaNojoli en Pearston verkyk ek my aan die berge wat nog laas week vol sneeu was.  

Inderdaad, knik ek my kop toe ek dié teen Pearston Primêr se muur sien.

Dis ek, Gilbert van Zyl en Siena Arends van die Jakes Gerwel Stigting, Leana Kotze van Citizen Connect, dr Zakaza van Nal’ibali en haar seun, Luxolo, asook die oogkundige Johan van der Merwe en sy span van The Small Projects Foundation. Later sluit ASSITEJ se teatermakers ook aan. En nog later gaan haal ek Nompumelelo Sokoyi by haar huis. My regterhand hoort eintlik in die bed – sy’s afgeboek met ’n seer rug, maar wil niks misloop nie. Hoe wonderlik dat daar nou al soveel hande is. 

Die program vir die dag is haarfyn uitgewerk, maar ons weet nou al: Hier kry Afrika-tyd ’n heel nuwe definisie. Ja-nee, lag Gilbert langs die tafel wors en broodrolle. Hier gaan niemand dood van stres nie; beslis nie oor laat wees nie. Hy en Siena maak al van gister af reg vir die meer as vyfhonderd monde wat vandag gevoer word. Sap en vrugte is op verskillende stasies uitgepak.  

Die opwinding is hoorbaar, tasbaar. My foon is 100% gelaai, reg om foto’s te neem. Ek wil immers hierdie dag dokumenteer vir al die anoniemes wat op BackaBuddy bygedra het vir die kinders se geskenkpakkies; vir KAMERS/Makers se ondersteuning; vir ons vennote soos Suidoosterfees wat elke jaar help om teater na die skole te bring; en NB-Uitgewers wat ruimhartig boeke skenk. 

Wat gebeur vandag hier? pols ek die kleintjies. Die goed vir die oë, maak ’n seuntjie met sy vingers brilrame om sy kykers. Beslis ja, The Small Projects Foundation se bussie staan reeds voor die skoolhek geparkeer. Hierdie kombi is ingerig om kinders se sig te toets. Nie net word dit gratis gedoen nie, maar is die brille ook pasella. 

Johan van der Merwe besig met ’n oogtoets

Wat gebeur nog? Ek mik na die geskenkpakkies wat die assistente sorgvuldig in die kratte in een van die klaskamers gepak het. Die kinders wis van niks! Een van ASSITEJ se akteurs klim in ’n warm pak om die kinders te vermaak. Mariska Spoormaker, RSG-joernalis, trek my eenkant toe. Is daar nie ’n kind wat vir haar sal voorlees nie? Vinnig-vinnig is daar ’n klompie byeen. Sjoe, hoekom lees jy so mooi? Nee, Juffrou, kom die antwoord, ek is van Johannesburg. Daar lees almal blykbaar mooi, lag ons.  

Die kinders van Lukhanyiso loop van die township aan die anderkant van die dorp, oor die brug. Nee, besluit ons, van die kleintjies sal ons eerder aanry. Hulle is hopeloos te klein om so ver te loop. Almal wat kan, help aanry. Die kinders begroet my met ’n liedjie, ons high five. Ek sing saam, sonder om een enkele woord te ken. Dans-dans klim ons in die kar. Die juffrou sit langs my, die klein gesiggies in die truspieël fluister agter hul handjies. Ek hoor die verbasing in hul stemme. Vermiste fotogeleentheid: die gesigte van kinders wat die anderkant, skaars vyf minute se ry, vir die eerste keer sien.  

Die dag word gevul met ons leesassistente wat die kinders op verskillende plekke op die perseel laat speel en dans, die energieke dr Zakaza wat die skaamste kinders aan die lees kry, die kleintjies wat een vir een vir hul oogtoetse aanmeld. Vir die eerste keer besef sommiges hoe helder die wêreld eintlik is! 

Groot boekpryse is op die spel – die kinders lees om te wen!

Ek neem die een foto na die ander. Van kinders wat worsrolle verorber, wat sap afsluk teen die dors. Hoe dan anders in ’n dorp sonder lopende water? Ek neem foto’s van die klaskamers, jong lesertjies, klein voetjies wat dans. Hande wat gulsig om vrugte vou. Ek wis die meeste daarvan uit. So wys jy nie armoede nie, so verkondig jy nie die goed wat jy vir ander doen nie. Dit wat ons bevoorregtes as so vanselfsprekend, so alledaags beskou, is hier luuks. 

Drie vriendinnetjies trek aan my broekspype. Ek moet van hulle ook foto’s neem, nogals elkeen met ’n sterretjie op die voorkop. Haasbekkies. Is julle nie te klein om al in die skool te wees nie? Sy’s só oud, hou die enetjie wat haarself as Koekie voorstel vier vingers bo haar voorkop. Ek neem af, wetend dat ek nie hul gesigte op sosiale media mag versprei nie, en hulle giggel vir hoe hulle lyk.  

Die aktiwiteite kom tot ’n einde. Die kleintjies tou voor die assistente wat vir elkeen ’n geskenk in die hand stop voordat hulle in die stofstrate buite die skoolhek verdwyn. Moenie nou al oopmaak nie! roep die juffrouens agterna. Vir wat nie? wil ek vra, maar wil ook nou nie op tone trap nie. ’n Klompie kan nie hul nuuskierigheid beteuel nie. Hulle is skaars buite die skoolhek en die kardoessakkies is klaar oopgeskeur. Die gesigte van verbasing, wat wonder of hulle eerste die boekie moet uithaal, die KitKat, die tjippies of die speelding. Dis gesigte wat ek nie hoef af te neem nie; dis sekuur vasgevang in my binneste.  

*** 

Vuisvoos sit ons klompie en nabetragting hou op Paulet Huis se stoep, darem met ’n glasie yskoue Boland Kelders-wyn in die hand. Ek wil foto’s neem, maar bedink my. Niemand is nou in die bui nie; ons is boonop gaar na die dag in die son. Ons deel stories oor ons eie kinders by die huis, oor die skoonheid van die Oos-Kaap, oor hoe lekker dit is om saam te kan werk, oor die soort onbeskryflike gevoel van genoegdoening wat ’n mens put uit die gedagte dat jy tog ’n verskil in ander se lewens se maak. Die behoefte is groot, en die hande kan nooit genoeg wees nie. Ons durf onsself ook nie te hard op die skouers klop nie. Daarvoor is ons almal te dankbaar, blink geëet aan Gilbert se gedekonstrueerde Beef Wellington.  

Later luister ons na Brenda Fassie, Paul Simon en Johnny Clegg. Die paartie kan nie te lank aanhou nie, want môre is nog ’n dag. Ek gaan bed toe met die wete dat ek nêrens anders wil wees nie. Hierdie land, met al sy gekrokthede, met die laid-back-geit en die warmbloedige mense, is waar ek hoort.  

*** 

Die volgende oggend is dit KwaNojoli se beurt. St Theresa’s en William Oates hou saam Krismispaartie. Ons kom later by Masiqaqambe aan, wat saam met Gilbert Xuza Primêr ’n heenkome bied vir die Xhosa-leerders in die township. Ek is stomverbaas oor die moeite wat hier gedoen is: ’n Tent is opgeslaan teen die son wat al klaar skroei, vrolik versier met Krismisversierings. Kersliedjies speel oor ’n luidspreker. Daar is u sitplek, wys die skoolhoof na stoel voor ’n tafel vol blinkers, goue sterre en ’n kraffie water. 

Lithemba, een van ons leesassistente, gee my een kyk en ek weet wat hy bedoel. Ek kan nie nou agteroor sit nie. Ons sal ’n plan moet maak om nie af te steek teen die juffrouens – almal uitgevat in rooi en wit – se moeite nie. Ons sit af dorp toe om ’n Kersvader-kostuum te gaan soek. In hierdie kleine dorp met sy beperkte winkels is dit makliker gesê as gedaan. Ons kry later ’n straatverkoper wat ons stuur na sy huis toe, waar sy vrou ons sal help. Nee, frons sy toe ons haar vertel van ons nood, sy het net kinderkostuumpies. Ek en Lithemba lag skelm – wie op aarde maak Kersvader-klere vir kinders? Dis dan juis hulle wat vermaak word deur grootmense? Ons koop dit maar; iemand sal dit seker kan dra. Waar vind ons tog nou ’n kind wat nie meer in Vader Krismis glo nie? Dis ook nou nie juis iets wat jy sommer net vir ’n jongeling kan vra nie … Op pad terug bedink Lithemba ’n plan. Die pak sal pas vir een van die kleinste meisie-assistente in die groep. Ek hou toe eerder my bedenkinge vir myself, maar was diep bly toe ek verkeerd bewys word. Ek wens ek het ’n foto geneem van Lithemba wat breed glimlag toe sy plan uitwerk.  

Dank Vader vir Afrika-geduld, dink ek toe ons bykans ’n uur later terug is by die skool. Dit lyk nie asof iemand agtergekom het ons is weg nie! Kersmoeder trek in een van die klaskamers aan terwyl die assistente die kinders besig hou. Dan kom sy uitgestap, ewe met ’n ballon in die maag om die vrygewige vet oompie met die lang baard na te boots.  

Later, lank nadat die funksie verby is, ry ek die assistente stuk-stuk aan na Paulet Huis. Hier staan Gilbert en Siena reg met hamburgers en tjips vir al die hongeres. Net voor ek die bultjie neem na Masiqaqambe, stap Gilbert Xuza se kinders in hul geel-en-swart uniforms terug na hul skool toe. Ek sien dit te laat om af te neem: ’n Groep seuns loop en lees uit hul nuwe Book Dash-boekies. Kan dit wees! Lees hulle sowaar boek? En dit nog seuns wat ek gewoonlik hierdie tyd van die middag sien bal skop. 

*** 

Terug by Paulet Huis draai die weer. ’n Harde donderbui sak uit. Agge nee, wat nou? vra ek benoud aan Siena. Hoe maak ons plek vir almal in die huis? Dit lyk ook nie of die druppels hulle pla nie. Nou doen ons niks, lag Siena. Nou geniet ons dit net. Die reën is mos ’n blessing.  

+ posts

Theo obtained his master’s degree in creative writing at Stellenbosch University. He has been involved with various projects in the arts before in his role as, among others, project manager of the Woordfees, advertising coordinator at NB Publishers, programme manager at the KKNK as well as at the Vrystaat Literature Festival and as executive director of the Breytenbach Centre in Wellington.

Theo is the author of two novels, Skool and Strafjaart.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *