Twee-en-twintig verhale is gekies vir publikasie in die negende Stellenbosch Woordfeeskortverhaalbundel. Dit sluit kortverhale in van gedugte skrywers soos Frederik de Jager, die bekroonde joernalis Murray La Vita, en ons eie Daneel Jantjies, wat laasjaar deel was van ons Kommadagga-slypskool.
Volgens Suzette Myburg, die sameroeper van die beoordelaarspaneel sedert 2016, is 368 inskrywings vanjaar ontvang. Die inskrywings bestaan uit ’n wye verskeidenheid temas, maar een tema wat veral uitgestaan het, is die tema van die moeder.
Weereens baie geluk aan Daneel Jantjies! Ons is opgewonde om te sien hoe jou skryfloopbaan aanhou ontwikkel.
Die algehele wenner word op 28 September 2024 by die bundelbekendstelling tydens vanjaar se Stellenbosch Woordfees aangekondig. Sterkte aan al 22 skrywers!
As jy ’n aspirantskrywer is, moenie vergeet om aansoek te doen vir die Kommadagga-slypskool vir kort skryfkuns nie!
Gedurende die drie week lange residensie sal die skrywers onder leiding en mentorskap van Fourie Botha, voorheen uitgewer en nou voltydse digter en literêre agent, aan verskeie kort prosastukke werk en leer om hul styl aan te pas vir verskillende gehore.
Hierdie jaar se slypskool, wat geskeduleer is vir 14 Oktober tot 3 November, bied boonop die uitsonderlike geleentheid om Paulet Huis met die ikoniese skrywer Zoë Wicomb te deel.
Sperdatum vir aansoeke is 26 Julie 2024.
As jy wil deelneem aan vanjaar se opwindende Kommadagga-slypskool, doen aanlyn aansoek by https://jgf.org.za/af/aansoek-kommadagga/.
Klik hier vir meer inligting oor die Kommadagga-slypskool.
Klik hier vir meer inligting oor die 2024 Woordfeeskortverhaalbundel.