’n Terugblik op Kaap tot KwaNojoli – Abigail Jelander

Ek is ’n opkomende skrywer van ’n klein plattelandse dorpie. Hier waar enige iets kuns en kultuur basies net as entertainment gesien word. Met dit gesê is die motivering soms maar swak en verstaan meeste nie dat skryf nie sommer net gebeur nie, terwyl ander ondersteun met die verstaan dat dit slegs dien as ’n stokperdjie. Behalwe een digter, wat nou al baie oud is, wat in ons streek woonagtig is, is ek huidiglik die enigste een in my gemeenskap wat daarna strewe om ’n gevestigde skrywer te word wat by uitgewers publiseer. Dit is maar ’n op-en-af omdat ek geen mentors, of mense wat weet wat skryf behels, hier het nie. Alles wat ek alreeds bereik het tot dusver (met my skryfwerk roete) is die gawe van woorde wat ek ontvang het van God af, ’n natuurlike aanleg vir skryf of dit verhale, liedjies, gedigte of drama stukke is, en aangeleerde kennis (boeke, Google en YouTube).

Ek was so senuweeagtig die eerste dag, ek het geen ervaring van die Kaapstad omgewing gehad nie, geen formele opleiding en as ’n ambivert is ek nie so goed in maklik kommunikeer met vreemde mense nie. Met die registrasie, die verwelkoming en die woorde van die eerste gasspreker, Me Fredericks, het ek net een sin gehad: “I found my tribe.” Vir die eerste keer kon ek die sin in my kop formuleer: ek is eintlik normaal. Hier was ek vir die eerste keer in my lewe, omring met mense wat klink soos ek, wat praat soos ek, wat voel soos ek ten opsigte van skryf.

Met elke sessie was ek uitgedaag om breër en groter te dink, ek het soveel tegniese vaardighede aangeleer wat ek nie geken het nie of in die verlede toegepas het sonder om die tegniese benamings vir dit te ken. Ek het met soveel nuwe vaardighede terugkom, soveel kennis wat ek weer kom toepas. Wat vir my baie beteken het was die sessie waar ons moes feedback gee oor mekaar se werk. Ek het nog nooit die geleentheid gehad dat ander skrywers my werk deurgaan en terugvoering gee nie. Hierdie terugvoering het so baie vir my beteken en gehelp om te sien waar ek verkeerd gegaan het en waaraan ek moet werk. Huidiglik is ek besig met herskryf aan my manuskrip, om navorsing te doen, foute reg te maak, veranderings en aanpassings te doen deur wat ek geleer en ontvang het.

Hierdie werkswinkel was my motivering en inspirasie dat my droom kan verwesenlik word, dat ek oor die potensiaal beskik om ’n skrywer te wees met my boek op die rakke, om ’n verskil te maak in my gemeenskap en my mense te wys jou drome kan bewaarheid word.

Ek is dankbaar dat ek gekies was as een van die deelnemers van hierdie besonderse geleentheid. Die Jakes Gerwel Stigting het met die werkswinkel ’n nuwe wêreld vir my oopgemaak en dit sal altyd die dryfkrag wees dat ek moet nie ophou voor ek nie gekom het waar ek moet wees nie.

My opregte dank en waardering vergesel hierdie skrywe.


Abigail Jelander het deelgeneem aan die die drie-dag skryfwerkswinkel Kaap tot KwaNojoli aangebied deur die Jakes Gerwel Stigting, in samewerking met die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie en moontlik gemaak deur die Wes-Kaapse Regering se Departement van Kultuursake en Sport.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

One thought on “’n Terugblik op Kaap tot KwaNojoli – Abigail Jelander”