Dit was een van daai Sondae in die laat Sestig jare kort na die groot Tulbag aardbewing. Met Derra se geroeste KB bakkie, volgestop met opgeknopte oompies, anties, niggies en newe, trotseer die KB die lang sloegtog na Oom Ben en Antie Maalie se ‘caretaker’ plaas op ‘n droee stofasie van ‘n vlakte duskant Gouda. Oom Ben, wie my een oom na verwys as ‘aangenaaide familie’, is my ouma Jakoba Galant van my ma se kant af se neef. Destyds het ek maar my oom geglo toe hy verduidelik dat die woord ‘aangenaaide’ nie ‘n vloekwoord is nie, maar eintlik verwys na its wat ‘n ‘seamstress’ in die fabriek doen.
Net voor ons Tiervlei verlaat het, het Derra ons seuns op die jard bymekaar geroep en vertel dat ons iets baie spesiaal daardie dag op Oom Ben se plaas gaan sien – “Bul eiers gaan uitgesny word!” Dié storie word toe later n’ geskilpunt opad na die plaas en Dannyboy, die neef wat altyd slimmer wil wees, se in sy gewoonlike hoogmoedige toon:
“As jy ‘n jong bul se eiers uitsny, ‘moo’ hy beter.” Nou die ding van neef Dannyboy wat my altyd dwars in die krop gesteek het, is dat hy alyd as juffrou se witbroodjie, eerste in die klas by Wepner Laerskool gekom het en nog daar bonop die enigste tenoor sanger in die skoolkoor was wat totaal en al uit meisies bestaan het. Ek, geïriteerd met sy hoogmoedige houding, skree toe: “‘n Bul wie se eiers uitgesny word is dan ‘n koei wie soos jy met jou piepstem soos ‘n meisie sing!”
Soos gewoonlik, as die sensitiewe Dannyboy onsteld is, hoor en sien almal dit en die oorsaak word uitgekruit as die vark in die verhaal. Dis toe dat my half-gewingerde oom wie saam ons agter op die bakkie sit met ‘n ses borrel kan Lieberstein tussen sy bene in tree nadat hy eers ‘n vol glas wyn aan my pa aangegee deur die uitgebreekte agter ruit. “Julle weet sweet boggerol van die dinge nie. Wag tot julle by die plaas kom dan sien julle rerog hoe lyk iemand wie se ballas uitgesny is. Sy dae van emskoelems is overs ke-dovers! Niks maakie net bona!” Almal raak skielik stil want ons oom is ‘n legende in emskoelems met agt kinders van verskillende vrouens.
Die stilte heers totdat ons uiteindelik met die seskan Lieberstein op sy laaste bene by Oom Ben se plaas aankom. Toe ons stop steek die tenoor skreeu van ‘n jong bul wie se eiers uitgesny word ons ore. In die vêrre tussen ‘n warrelende stofwolk verskyn die gestaltes van Oom Ben en sy twee plaaswerkers langs ‘n pik swart drom. Ons hardloop groetend opgewonde nader maar Oom Ben beveel ons woordloos met sy vinger op sy lip om stil te bly. Dit is amper asof ons opgewondenheid ‘n heilige ritueel steur.
Oom Ben lei my na die swart drom en ek loer oor die rand. Dis toe wat ek iets sien wat verewig in die windmeule van my psige sal rond dwaal: ‘n wit-vaal nes van bloed belope bees eiers wat lyk asof hul pleitend na my opstaar. Ek staan terug en aan my regte kant, gewaar krenende gesnyde bulletijies wat soos pasgebore kalwers ongemaklik struikel om te loop. Aan my linker kant staan mak jong ongesnyde bulle in die voer-kraal rond in vreemde stilte.
Voor ‘n bloedbelope slagtafel staan Oom Ben in alle erns slaggereed met sy gereedskap wat ordelik gerangskik is. Een van die stukke lyk soos n destydse metaal roomys ‘scoop’ en ‘n ander is ‘n kort lem Bowie dolk. Skielik gooi die twee werkers ‘n jong bul op die slagtafel en Oom Ben gryp sy gereedskap. Die fyn van gestel Dannyboy, stort onmiddelik ‘n oordramatiese onmanlike traan en hardloop met tenooe snikke nag die niggies wie saam met Antie Maalie op die plaashuis se stoep sit. Maar ek, dié JEREMY, bly braaf en volborstig vasgeanker langs Oom Ben met ‘n houding wat skrik vir niks. Oom Ben woeker blitsig met sy gereedskap in die jong bul se geslagsdele terwyl die dier ontemenslik hard skree soos een van daai maer varke wat Derra gewoonlik slag oppie djard in Balvenie. Met een geweldige handeling gryp die twee werkers die gesnyde bul en gooi hom onder die ander gesnydes.
Oom Ben knik sy kop stadig iop en af in my rigting en se:
“Ja nee Jeremy, vandag het ons daai jong bul gehelp om in die toekoms ‘n sterk vleisbul te word.”
“Hoe so Oom?”,vra ek.
Toe trek Oom Ben weg met klassieke plaas metaforiese spreektaal en se:
“Seun, dit is ‘n feit soos ‘n koei dat as jy ‘n jong bul van een eier ontballas dan groei hy meer gespierd. En dit is belankrik vir enige vleisbul.”
“Hoe so Oom?”, vra ek weer.
Oom Ben gee ‘n wyse sug en antwoord:
“Seun, alhoewel jy nog ‘n bietijie nat agter die ore is en nog nie ‘n gatjie in die grond kan pis nie, sweer ek sowaar aan jou vandag. Dit is ‘n feit wat staan soos ‘n paal bo water dat as jy ‘n jong bul se jarsgeid vroeg inkort, gaan al daai jarsgeid in sy groei en hy word meer vleis as vet.”
Hierdie wyse woorde het my goed te staan gekom in later jare op maniere wat ek liewers nie nou oor wil utbrei nie. Maar hiernamaals, in direkte of indirekte verband, het baie dinge gebeur in ons newe se manswording. My Lieberstein Oom het aan Oupa Vearey geraporteer oor Dannyboy se onmanlike gedrag op die plaas we beveel het dat hy nie meer in die skoolkoor moet sing nie en onmiddelik vir Tigers gaan rugby speel soos al die ander newe.
Word vervolg: Die verdraaide ware stories van Jeremy vannie Elsies.
Jeremy Vearey het grootgeword in Elsiesrivier. Hy was ’n lid van MK en ’n lyfwag vir oud-president Nelson Mandela. Hy is ’n vorige majoor-generaal in die SAPD en was tot onlangs adjunk-provinsiale-kommisaris in die Wes-Kaap SAPD. Vearey se biografie Jeremy vannie Elsies het in 2018 by Tafelberg verskyn. Sy book Into Dark Water: A Police Memoir (Tafelberg 2021) is benoem op die 2022 Sunday Times Literary Awards langlys.