My Ouma Galant se neef Oom Ben op Saron het ‘n gesêgde gehad wat hy altyd gebruik het as hy sien iets ongesê broei te lank. “Moenie dat daai woorde in jou hart smoor nie, dit gaan jou binnerstes uitbrand. Uit met dit my klong, dit wíl nóú gesê word.”
Oor die durfdadig maar deerniswaardige manier waar daar oor kwessies van identiteit en taal deur “bruin Afrikaansprekendes” in die boek “ONS KOM VAN VER” besin word, verdien dit die Oom Ben van Saron toekenning vir Woorde Wat Nóú Wíl Gesê Word. En hiervan is Dr Cornelius Thomas se bydra met die brawe titel “HOOFLETTER K KLEURLINGE – ‘N BESONDERE SUID-AFRIKAANSE GESKIEDENIS”, by uitstek, ‘n sprekende voorbeeld.
In ‘n slotparagraaf oor wat ek hedendaagse neo-kleurling weltanschauung noem, wíl sy woorde die volgende:
“Kleurlinge gaan vandag pragmaties deur die lewe en met ‘n oop gemoed vir enige kulturele produkte en invloede, hoe koloniaal of neo-koloniaal of postmodernies of armoedig hulle ook mag wees. As die Kleurlinge ‘n mantra sou hê, sou dit waarskynlik wees: Integreer alles en harmoniseer dit as ‘n styl en lewenswyse.”
[‘ONS KOM VAN VÊR – Bydraes oor bruin Afrikaanssprekendes se rol in die ontwikkelling van Afrikaans’. Redakteurs WAM Carstens en Michael Le Cordeur. 2016]
Ek weet dat stoere ideologiese koffie nou oorhaastig deur die verkeerde keelgat gesluk gaan word, en daar op polities heilige koeie verstik gaan word, maar lees liewers die boek voordat jy oordeel vel.
Stiek uit jou bang woord!
Kô lat ôs praat.
Jeremy Vearey het grootgeword in Elsiesrivier. Hy was ’n lid van MK en ’n lyfwag vir oud-president Nelson Mandela. Hy is ’n vorige majoor-generaal in die SAPD en was tot onlangs adjunk-provinsiale-kommisaris in die Wes-Kaap SAPD. Vearey se biografie Jeremy vannie Elsies het in 2018 by Tafelberg verskyn. Sy book Into Dark Water: A Police Memoir (Tafelberg 2021) is benoem op die 2022 Sunday Times Literary Awards langlys.