Ek was al in baie tale deur vroue afgesê. Dié strek van hoogdrawende Engels tot boere Afrikaans en township Xhosa. Maar niks kom naby ‘n Elsies Rivier Afrikaapse afsê nie. Djy wiet somma alles is klaa sonne enage komplikasins en onnorage baggage. Ek wil my nie uitlaat oor wat tot hierdie afsês gely het nie. Julle moet maar self afleidings maak.
Die Engels afsê was soos volg – “Jeremy my slum angel; it isn’t about you, but about me. I need some space to find myself again outside of us.” Watse kak is die? “Space”! Is djy dan ‘n astronaut!!! Soos jy kan sien verlang hierdie tiepe afsê ten minste ‘n doktoraat in sterrekunde en eksistensieële filosofie om dit te verstaan.
Die boere Afrikaanse afsê was soos volg – “My geliefde bruin spysige wors. Die tyd het aangebreek dat ons paaie polities skei. Jy weet dat jy met my onwettig verkeer as ‘n bruin man met ‘n wit vrou. Terwyl ek met jou verkeer as onskuldige wit vrou wie deur bruin tuinier verlei was. My ligaam mag joune wees, maar my hart en verstand hoort by my volk!” Nou daai maak darem sin, en as aktivis kan ek verstaan hoe klas en ras sosio-ekonomiese faktore beslissend daartoe aanleiding gegee.
Die township Xhosa afsê was meer pittig tot die punt – “Hamba kahle my overgrown caramel piekenien. I am so sorry, but there is too much foreskin between us.” Alhoewel dit begrip vir kultuur en veral besnydingstradisie verg, het ek dit onmiddelik aanvaar uit respek vir ons land se kulturele diversiteit.
Maar die Elsies Rivier Afrikaapse afsê dra die kroon. Dit moet verkieslik baie hard oor die hek voordat jy die djaard inkom geskree word. “DJY JEREMY JOU GEMORS! DJY RAAK MY KAK GEWOONT! VAT DJY VI MY VIRRE GAT?! KRUIP IN JOU MOER VIR-EWAG!!!” Dit word ook soms gevolg deur die Ma wie van binne die huis skree – “EK HET JOU AL LANKAL GESÊ DJY MOET DAAI GEMORS LOS!”
Soos jy kan sien – dit is DUIDELIK. Jy het dadelik wat die Engelse “closure” noem, en weet onmiddelik presies wat om daarna met jouself te doen.
Jeremy Vearey het grootgeword in Elsiesrivier. Hy was ’n lid van MK en ’n lyfwag vir oud-president Nelson Mandela. Hy is ’n vorige majoor-generaal in die SAPD en was tot onlangs adjunk-provinsiale-kommisaris in die Wes-Kaap SAPD. Vearey se biografie Jeremy vannie Elsies het in 2018 by Tafelberg verskyn. Sy book Into Dark Water: A Police Memoir (Tafelberg 2021) is benoem op die 2022 Sunday Times Literary Awards langlys.