Ek verlaat die kamer,
neem plek in oppie troon,
laat die trane loop oor my wange
en verlaag my kroon.
>
Trane van frustrasie,
want ek bid vir hoop,
ek’t nie altyd die antwoorde,
en my oë vertel ‘n storie van wanhoop.
>
Oppie pot kalmeer ek my,
probeer my eie vrees omseil,
hoe ek my naaste gaan troos,
al is my hart broos en feil.
>
My plek om asem te skep,
te breek of selfs te verlep,
myself moed in te praat
al voel ek nie paraat.
>
Huil oor die pyn,
vir hoop wat wegkwyn,
huil oor die vreug,
want daar is ook nuus wat my verjeug.
>
My troon, my pot,
my meditasie spot,
waar ek jou ook vind,
Verlig jy my dark spot.
Theolla Langenhoven (1982) werk tans by die Universiteit van Wes-Kaapland na jare in die staatsdiens. Sy wil haar skryfwerk gebruik om haar gemeenskapswerk, haar liefde vir administrasie en haar kennis van sielkunde en kriminologie te kombineer en lig te werp op die maatskaplike kwessies wat gemeenskappe in die gesig staar. Van haar kortverhale en artikels is in Kuier gepubliseer. Haar gedigte het in die Lekka Poems-bloemlesing verskyn en in 2023 het sy ’n gebedsboek vir tieners, Die Here kom sterk deur, gepubliseer. Sy beskou dit as ’n voorreg om in 2020 te kon deelneem aan die Kommadagga-slypskool vir kortverhaalskrywers. In 2023 het sy ’n AfriCAN Honoree Authors’ Award ontvang.