Terwyl sy onsigbare strale
oor jou vel streel,
die armhare liggies roer,
jou skouers terug laat sak,
jou ogies vernou,
jou handpalms oopmaak,
bene uitstrek,
terwyl ‘n sug deur jou lippe ontsnap.
Verlei vader Son jou
na ‘n oomblik, ver weg,
waar jy vergeet van jou sorge,
jou pyn, en slegs mooie
herinneringe en emosies
laat opvlam.
Theolla Langenhoven (1982) werk tans by die Universiteit van Wes-Kaapland na jare in die staatsdiens. Sy wil haar skryfwerk gebruik om haar gemeenskapswerk, haar liefde vir administrasie en haar kennis van sielkunde en kriminologie te kombineer en lig te werp op die maatskaplike kwessies wat gemeenskappe in die gesig staar. Van haar kortverhale en artikels is in Kuier gepubliseer. Haar gedigte het in die Lekka Poems-bloemlesing verskyn en in 2023 het sy ’n gebedsboek vir tieners, Die Here kom sterk deur, gepubliseer. Sy beskou dit as ’n voorreg om in 2020 te kon deelneem aan die Kommadagga-slypskool vir kortverhaalskrywers. In 2023 het sy ’n AfriCAN Honoree Authors’ Award ontvang.