Brein uittie skedel,
derms innie hand,
longe hap na lug,
baby hang tussen boude,
gat deurie been,
bloed sypel na die grond,
lewe verdwyn uit die oë.
Ma snik, pa kners,
broers vannie gang
plan revenge hit,
SAPS sak sy kop,
medic ken die scenes,
fireman in disbelief,
dink patient sallit maak.
Oë mis niks,
Wil eintlik niks sien,
Oë sien te veel,
Oë kreun van pyn,
Oë treur na binne,
want Oë wag vir next view.
Theolla Langenhoven (1982) werk tans by die Universiteit van Wes-Kaapland na jare in die staatsdiens. Sy wil haar skryfwerk gebruik om haar gemeenskapswerk, haar liefde vir administrasie en haar kennis van sielkunde en kriminologie te kombineer en lig te werp op die maatskaplike kwessies wat gemeenskappe in die gesig staar. Van haar kortverhale en artikels is in Kuier gepubliseer. Haar gedigte het in die Lekka Poems-bloemlesing verskyn en in 2023 het sy ’n gebedsboek vir tieners, Die Here kom sterk deur, gepubliseer. Sy beskou dit as ’n voorreg om in 2020 te kon deelneem aan die Kommadagga-slypskool vir kortverhaalskrywers. In 2023 het sy ’n AfriCAN Honoree Authors’ Award ontvang.