As ‘passenger seat driver’, het ek die beste uitsig van almal wanneer ons die pad vat. Deur my klein sy-venster sien en ervaar ek dinge wat ek op daai oomblik nie eers met manlief kan bespreek nie, want ek wil nie sy aandag van die pad afhaal nie.
Ek beleef elke seisoen deur die einste venster; sien hoe hulle mekaar inhaal en mekaar verbysteek: wanneer die somerson so gloei van agter die berg of wanneer ons langpad vat en dit doer ver oor die plaasvelde sy straalvingers oor die koringlande of die kleine skapies laat rus. Sien hoe die bestuurders half verergd hul sonbrille opsit, anders kan hulle mos nie sien voor hulle uit nie. Sien hoe ons mensdom ontwaak, wanneer hulle een-een by hulle huise uitkom, oppad om die nuwe dag in te vaar en te ervaar. Sien daar langs Modderdam-weg se Sewende Laan-plakkerskamp, hoe die kleine perdjies vreedsaam eet aan die grassies: onbewus dat hulle oppassers net ‘n paar maande gelede moes veg vir oorlewing toe van die houthuisies afgebrand het.
Wanneer die herfswind alles voor hom wil skoonvee: ai, ek voel dan so jammer vir die mense wat in sy pad kom, want ek weet hoe dit voel wanneer dit voel of die wind jou ‘n veeg gee en jou verder in die straat afjaag, soms verby jou afdraai. Sien ek hoe die blare begin verkleur en afval en dit laat my dan besef dat ons nes daai blaar ver van ons voorsate ‘val’om erens anders ‘n nuwe begin te maak en sodoende ook ‘n verskil te maak. Sien ek ook hoe mense hul baadjies stywer om hulle lywe begin vasmaak, want die koue begin bietjie te sny deur die lae wat ons dra. Iets wat nie mooi is om te aanskou nie, is wanneer ons verby areas ry en sien hoe kinders al nes die grootmense in die bus en trein, hulle lekkers en tjips-pakkies langs die pad neergooi. Ek wil dan sommer by daai einste venster uitskree en vra of hulle dit by die huis ook doen. Hoe gaan ons plekke skoon bly as ons dit self vuil mors? Orals waar ons kyk, waai winkel-sakke en so meer orals rond. Ai, ek bid sommer dat die wind dit tot bo-op die ashoop sal waai, so onooglik!
Ai, dan praat ek nie van die koue winters nie. Wanneer dit hartsverskeurend is om te sien hoe die arme brug-mense hulle bedjies al vroegmiddag regmaak, voor vannag se ysigheid oor hulle sak. Of soggens, net so voor ses wanneer die straatbewoners van die Kaapse middestad hulle koppe nog verder toetrek, want wie wil dan nou daai tyd van die more opstaan? Tot die dag wanneer Mr Law Enforcement hulle werk moet doen en seker weens klagtes die arme mense verwilder van die winkelstoepe wat dien as hulle slaapkamers. En vanaand wanneer daai bui sak, raak my hart mismoedig wanneer ek aan daai einste mense dink wat nou nie eens ‘n dak oor hulle koppe het nie. Dink ek daaraan wanneer my huis soms te klein voel, wanneer die kinders binne speel en die plek omkrap.
Ervaar met verlange wanneer die skoolkinders oppad huistoe, op ‘n reenerige dag, die water plas en mekaar probeer natspat, asof hulle nie alreeds nat is nie. Of kyk na die olie-kolle in die pad, wat soos klein reenbogies lyk. En seker saggies ‘n wens maak, soos in ons tyd. Ai, verlang ek dan om uit te klim en saam met hulle te speel.
Lente is nie meer lente nie. Lente bring ook sy eie ‘deurmekaar’ weer saam. Deur my nou bekende venstertjie, sien ek hoe die arme blomme en plantjies (of is dit onkruid) langs die pad probeer uitkom. Ek dink met die dat die son sukkel om sy koppie te voorskyn te bring, sukkel die outjies maar. Maar die weer sit nie die mense af nie. O nee! Lentedag, dan is van die kleinste skoolkind tot die oudste tannie uitgevat in hul blommeprag. Dis ‘n regte fees vir my oog, om te sien dat maak nie saak waar deur ons mense gaan ne, hulle nog klein dinge soos Lentedag waardeer en geniet nie. Dis lekker om dan weer te ervaar dat ons mense met graagte hul winters-lae afskud en met ‘n nuwe lied in die hart en ‘n vrolike hup in die stap weer lus het om die lewe in oenskou te neem.
Ja, ek ervaar baie dinge wanneer ons erens moet ry. Ook gun my klein venster my die geleentheid om saggies te bid vir die ambulansdienste, brandweer- en polisie ouens wat alweer erens heen gaan om ander in nood te help. Of net om my eie lewe te waardeer. Dat die voorreg wat ek het om in ons klein karretjie te kan ry, vir baie ander nie beskore is nie. So, volgende keer wanneer jy in jou motor klim, geniet jou uitsig en kyk met nuwe oë rondom jou.
Was gepubliseer in Kuier ‘n paar jaar gelede.
Theolla Langenhoven (1982) werk tans by die Universiteit van Wes-Kaapland na jare in die staatsdiens. Sy wil haar skryfwerk gebruik om haar gemeenskapswerk, haar liefde vir administrasie en haar kennis van sielkunde en kriminologie te kombineer en lig te werp op die maatskaplike kwessies wat gemeenskappe in die gesig staar. Van haar kortverhale en artikels is in Kuier gepubliseer. Haar gedigte het in die Lekka Poems-bloemlesing verskyn en in 2023 het sy ’n gebedsboek vir tieners, Die Here kom sterk deur, gepubliseer. Sy beskou dit as ’n voorreg om in 2020 te kon deelneem aan die Kommadagga-slypskool vir kortverhaalskrywers. In 2023 het sy ’n AfriCAN Honoree Authors’ Award ontvang.