(Goeie Vrydag-gedig)
Ek’t geweet ek moet jou laat gaan,
maar steeds is dit seer.
My seun, die pyn maak my gedaan,
hòè kan ons diè uiteinde keer?
Jou laaste dae herken hulle jou as Koning:
Palm takke onder jou donkie se pote versprei.
Vandag is jou kruisiging –
hoe kan ‘n ma haar kind bevry?
Bloed sypel oor jou engelgesig,
jou palms is deurboor,
Jou lyding is nie in sig;
hulle is reg om jou te moor.
Jou klere word geloot,
terwyl my hart pyn te Kopbeen,
Die skare juig en jubel
besef hulle nie Jy is ‘n seën?
Die donkerte kruip ook in my hart,
Aarde is in skemerte gehul.
Soos ‘n dolk in my hart,
sny jou laaste uitroep: “Vader, in U hand gee ek my lewe oor.”
Die soldaat ervaar jou heiligheid,
maar dit is te laat.
My kind, my kind: Jy,
het die aarde vir eers verlaat.
Theolla Langenhoven (1982) werk tans by die Universiteit van Wes-Kaapland na jare in die staatsdiens. Sy wil haar skryfwerk gebruik om haar gemeenskapswerk, haar liefde vir administrasie en haar kennis van sielkunde en kriminologie te kombineer en lig te werp op die maatskaplike kwessies wat gemeenskappe in die gesig staar. Van haar kortverhale en artikels is in Kuier gepubliseer. Haar gedigte het in die Lekka Poems-bloemlesing verskyn en in 2023 het sy ’n gebedsboek vir tieners, Die Here kom sterk deur, gepubliseer. Sy beskou dit as ’n voorreg om in 2020 te kon deelneem aan die Kommadagga-slypskool vir kortverhaalskrywers. In 2023 het sy ’n AfriCAN Honoree Authors’ Award ontvang.
One thought on “Trane van ‘n ma”
Theolla, so beautiful.