Hartklop van ’n ma
Ek het jou leer ken
As ’n hartklop in my baar.
Nes ’n regte moederhen,
Het ek ure na jou gestaar.
Dagga, mandrax en tik
Het ons plek ingeneem.
As ouers gaan ons gebuk
onder smart, wat jou van ons vervreem.
Lollies is nie meer soet
Dit maak van jou ’n draak.
Witpyp kon ons nie verhoed
My kind, wat laat jou brein vashaak?
’n Skoon lyf is nie meer prioriteit,
blink hare nie meer jou trots.
Verslete klere bedek jou naakheid,
Slaap jy ook in jou kots?
Ek ken nie die kyk in jou oë
Die krom aan jou skouers.
Het ons gefaal in ons vermoë,
is ons regtig slegte ouers?
Ons bid jy sal omdraai
Daai dwelms net so los.
Sal jy daai euwel kan verraai
Theolla Langenhoven (1982) werk tans by die Universiteit van Wes-Kaapland na jare in die staatsdiens. Sy wil haar skryfwerk gebruik om haar gemeenskapswerk, haar liefde vir administrasie en haar kennis van sielkunde en kriminologie te kombineer en lig te werp op die maatskaplike kwessies wat gemeenskappe in die gesig staar. Van haar kortverhale en artikels is in Kuier gepubliseer. Haar gedigte het in die Lekka Poems-bloemlesing verskyn en in 2023 het sy ’n gebedsboek vir tieners, Die Here kom sterk deur, gepubliseer. Sy beskou dit as ’n voorreg om in 2020 te kon deelneem aan die Kommadagga-slypskool vir kortverhaalskrywers. In 2023 het sy ’n AfriCAN Honoree Authors’ Award ontvang.