Ciara sit op haar bed en tuur uit haar kamervenster, terwyl ‘n hartseer trek om haar mond speel. Vandag is haar een en twintigste verjaarsdag, maar alhoewel sy baie opgewonde is oor die vooruitsigte van die vieringe, is daar tog iets wat haar hartseer maak. Saggies trek sy haar japon se punte nader aanmekaar, asof sy haarself van die pyn wil beskerm en vou haar arms oor haar bors. Onbewustelik skud sy haar kop, asof sy die gedagtes wil afskud.
‘n Kloppie aan die deur, bring haar uiteindelik terug na die aarde. “Kom binne”, antwoord sy terwyl opstaan en na die deur stap. Rosemary kom binne en stap na die stoel, voor sy haarself daarop neerplak. Ciara draai terug en gaan neem weer sitplek in op die bed. In stilte sit hulle so, totdat Ciara die moed bymekaar skraap om die gewigtige saak op te haal.
“Rosemary?”, sê sy saggies. “Hoekom wou jy nooit my ma wees nie?”, gaan sy voort, met ‘n stem wat bewe. “Hoekom het Ma Nettie my grootgemaak, terwyl jy my eintlike ma is?”, gaan sy voort terwyl haar stem bietjie meer standvastig begin raak. Sy draai na Rosemary, soos haar moed meer begin raak en vra met ‘n kilte in haar stem:”Is jy skaam vir my of sou dit beter gewees het as jy my kon aborteer?”
Haar skielike uitbarsting vang Rosemary heeltemal onkant en die skok laat haar regop sit, terwyl sy snak na asem. Vir ‘n lang ruk sit sy so totdat haar asemhaling weer na normaal terugkeer. “Ek wou nie vandag van alle dae laat enigiets jou dag ontsier nie, maar as die dinge jou so pla laat jy my geen keuse as om jou die waarheid te vertel nie”, antwoord Rosemary met ‘n fluisterende stem. Sy skuif haar weer reg en haal diep asem voor sy begin praat.
“Ek was baie jonk toe ek verlief geraak het op hierdie oulike ou”. Haar gesig kry so ‘n ver trek soos sy haar verhaal begin vertel. “Hy was ‘the new kid on the block’ en toe hy my as sy meisie kies, was ek in die wolke. Ek was mos half tomboyish en outjies was nie rêrig op my horison nie, maar ek het sy aandag verskriklik geniet. Hy was my eerste boyfriend en hy het my goed laat voel oor myself.” Sy haal diep asem voor sy haar verhaal voortsit. Ciara sit in stilte en hou Rosemary stip dop, amper te bang om asem te haal. Ingeval sy iets mis.
“Hy was die eerste ou met wie ek handjies vasgehou het. My eerste soen. Die eerste ou met wie ek my karnaval toegegaan het.” Haar öe kry ‘n hartseer trek, maar sy gaan moedig voort. “As standerd nege meisie was ek nog baie nat agter die ore as dit by romanse gekom het. Een dag, toe nooi hy my oor na sy ouerhuis onder valse voorwendsels. Ek was onder die indruk dat sy ma my wou sien, maar toe ek daar kom was dit duidelik dat hy alleen was. Weereens het ek gedog dat hy net quality time met my wou spandeer.” Rosemary se hande is so styf geklem, dat Ciara haar kneukels kan sien, maar sy is te bang om haar gedagtegang te steur.
Haar stem raak al sagter soos sy verder vertel dat Caira moet vooroor leun om haar te kan hoor. “Ons het op die rusbank gaan sit en terwyl ons gesels oor die skooldag, het hy my begin soen.” “Dit was mos normaal, mos wat outjie en meisie doen? Of hoe?”, het ek gedink. “Sy soene het al dringender begin raak en hy het begin vroetelrig raak. Ek kon later nie meer sy hande keer nie en soos dinge erger begin raak het, het hy my neergepen op die rusbank”. Haar stem jaag teen hierdie tyd, maar sy vertel voorts. “Ek was nie seker wat gebeur nou nie, want ons het nog nooit sulke goed gedoen nie. Ek onthou op ‘n keer het ek probeer gil, maar hy het my mond met soene toegehou. Ek kon nie asemhaal nie”. Teen hierdie tyd, sit Ciara met groot öe en opgehoude asem na Rosemary en luister.
“Toe alles oor was, het hy my huistoe gevat. Ek het hom afgesê. Maande later toe ek uitvind dat ek swanger was, het Ma Nettie die waarheid uit my geforseer. Sy ma het natuurlik geglo dat haar engelkind nooit so iets sou doen nie. Gmf! Ek wou nie die kind; vir jou laat aborteer nie”. Vir die eerste keer kyk Rosemary na Ciara, terwyl sy hierdie woorde uiter. “Maar ek kon nie ma wees vir jou nie. Dit was te pynlik. Ma Nettie het laat ek skool klaarmaak en jou wettiglik aangeneem. Ek het na skool gaan werk, want al kon ek nie emotionally met jou connect nie, wou ek seker maak jy kom niks kort nie.”
Vir die eerste keer, kry Ciara haarself so ver om iets te sê:”Wat het toe van hom geword?” vra sy. “Hulle het weer getrek en ons het nooit weer van hulle gehoor nie. Ek het ook nie belanggestel om enigiets met hom te doen te hê nie.” Hierdie keer is daar ‘n vurigheid in haar, wat Ciara verbaas na haar laat kyk.
“Ek is jammer as ek jou afgeskeep het op emotional level, maar weet dat ek altyd daar sal wees vir jou. Ek sal my naels stompies werk in daai fabriek om jou die beste in die lewe te kan gee. Ek belowe om van nou af te probeer om ‘n ma vir jou te wees, maar dit gaan tyd vat. Ek weet nie hóé om ma te wees nie.” Rosemary staan op vanaf die rusbank. Soos een val hulle in mekaar se arms en snik.
So kom kry Ma Nettie vir hulle. Haar instink sê haar waaroor die tranedal gaan en saggies slaan sy haar arms om haar twee dogters. “Ek sal altyd lief wees vir julle en sal totdat ek my laaste asem uitblaas, dié pad met julle stap. Maar, nou moet ons makietie gaan hou. My baby is mos darem groot vandag”, sê sy met ‘n glimlag in haar stem. “Toe, toe. Jy moet nog klaar aantrek, Rosemary het baie betaal vir die party en niemand gaan laat wees vandag nie. Anders is daar perde!” Rosemary en Ciara kyk glimlaggend na mekaar, terwyl Ma Nettie so kamma skel en gee mekaar weer ‘n drukkie. “Baie dankie dat jy my nogsteeds gehou het, selfs na alles wat jy deurgemaak het, Rose… ek bedoel Mammie. Vanaf vandag noem ek jou Mammie Rose, want dis wie jy is. My ma wat nog al die jare vir my gesorg het.”
Ciara kyk na Ma Nettie en Rosemary en antwoord vir oulaas voor sy haar sitplek voor die spieëlkas inneem. “Ek is geseën om twee ma’s te het. Ander het geen.”
30 Januarie 2020
Theolla Langenhoven (1982) werk tans by die Universiteit van Wes-Kaapland na jare in die staatsdiens. Sy wil haar skryfwerk gebruik om haar gemeenskapswerk, haar liefde vir administrasie en haar kennis van sielkunde en kriminologie te kombineer en lig te werp op die maatskaplike kwessies wat gemeenskappe in die gesig staar. Van haar kortverhale en artikels is in Kuier gepubliseer. Haar gedigte het in die Lekka Poems-bloemlesing verskyn en in 2023 het sy ’n gebedsboek vir tieners, Die Here kom sterk deur, gepubliseer. Sy beskou dit as ’n voorreg om in 2020 te kon deelneem aan die Kommadagga-slypskool vir kortverhaalskrywers. In 2023 het sy ’n AfriCAN Honoree Authors’ Award ontvang.