Wanneer jy met die liefde van jou lewe trou is een van die items op die program om trou te sweer aan jou maat. Meeste lê die wêreldbekende troubeloftes af, terwyl ander hul eie skryf.
Maar hoeveel kan spog hulle moes ten minste een van die beloftes letterlik op dieselfde dag uitoefen? Nie veel waarvan ek weet nie!
En ek praat nie nou van haar skoene of handsak hou of sy baadjie regtrek vir nog ‘n foto nie. Ek verwys na die “vir beter of slegter” deel. Ons word een oggend tydens die pandemie gebel en word genooi na goeie vriende van ons, se troue. Aangesien hulle in George woon en ons in die Kaap, reël ons onmiddelik verblyf en verlof want ons wag al lank vir hierdie dag en eintlik enige rede om die langpad aan te durf.
Die drie maande na April kruip stadig, maar uiteindelik breek die langnaweek aan. Ons gaan makietie hou! Ek en manlief is opgewonde, want dis die eerste keer in ‘n lang tyd waar ons sonder die klôgoed iets doen en my voete jeuk vir ‘n ordentlike geskoffel. En met die familie wat van heinde en ver, so ver as Windhoek en Amerika gaan ons ons gate uit geniet. Wat ons toe ook doen, toe ons in Heroldsbaai land: maak nuwe vriende en verken die pragtige area.
Die volgende dag ruis almal vroeg uit die vere en begin gereed maak vir die groot dag: die hare word gedroog tot die rook bol in die sitkamers van die huisies en amper almal onherkenbaar mooi lyk want ons het lanklaas ons beste rokke en pakke oor ons koppe getrek.
Later beweeg almal na die kapel wat eenkant op die plaas staan om vir die bruid en haar gevolg te wag. Die vars lug en die pragtie dekor het almal in vervoering en toe sy uiteindelik uit haar koets klim lyk die prinses van die dag, asemrowend. Meneer Bruidegom kan sy trane (en miskien sy geluk nie glo) toe hy na sy aanstaande kyk, nie hou nie Die predikant hou ‘n kort plegtigheid en daarna slaak ons almal ‘n sug toe die twee hul troubeloftes aflê. Hier en daar pink mense die trane weg. Ek inkluis.
Die eerste groepfoto’s word in die skemer lig geneem, met ‘n pragtige dam as agtergrond. Skielik is dit soos iemand wat die ‘pause’ knoppie op die kassetspeler druk en die verrigtinge tot ‘n ‘stop’ bring – die bruidegom is siek.
Die mediese professioneles in die groep maak ‘n vinnige waarneming en neem ‘n besluit: hy moet onmiddelik hospitaal toe vir waarneming. Huh?! Hoe nou?!
Al wat ek van die sykant af hoor is:” Ek los nie my man nie. Ek gaan saam met hom.” Dis nou die nuwe Mev. Bruid wat so antwoord op iemand se vraag. En daar help hulle beide in die kar.
Ons verneem Mnr Bruidegom het verkoue, maar wou nie sy groot dag ontwrig nie. Het medisyne gedrink en gehoop dit sal help. Ons kry later tyding hy toets positief vir Covid, maar die bruidspaar het die hospitaalpersoneel se aand gemaak deur met hul gewaad daar aan te kom. ‘n Eerste vir die personeel. En veral om die bruid so langs haar gom se sy te sien.
Terwyl ons met mev. Bruid oor die selfoon gesels, besluit ons om met die aandete en dans voor te gaan Die families het van ver gekom en die paartjie gaan nie in hul pad staan om die aand te geniet nie. En watter uitstekende besluit was dit nie! Ons het gekuier tot negeuur, soos voorgeskryf deur die landswette en kon nuwe kennisse (as ek eerlik is, dansmaats) maak.
Alhoewel die twee vir omtrent ‘n uur getroud was, kon ons heelwat uit hul troudag se belofte van “deur siekte en gesondheid” leer. Wees daar vir jou maat, veral tydens ‘n siekbed. Jy besef nie altyd hoe belangrik ‘n drukkie of soentjie op die voorkop vir die sieke is nie. Moet nie dinge wegsteek vir mekaar nie. Indien hy vroeër gesê het hy voel olik, kon hy gouer behandel word. En liefde vir mekaar en vir jou familie is nie selfsugtig nie – ons kon die aand geniet en deur videos vir hulle ook genotvol maak. So het hulle gevoel hulle is steeds deel van die verrigtinge en nie hul geld verloor deur die funksie te kanselleer op die laaste minuut nie.
Theolla Langenhoven (1982) werk tans by die Universiteit van Wes-Kaapland na jare in die staatsdiens. Sy wil haar skryfwerk gebruik om haar gemeenskapswerk, haar liefde vir administrasie en haar kennis van sielkunde en kriminologie te kombineer en lig te werp op die maatskaplike kwessies wat gemeenskappe in die gesig staar. Van haar kortverhale en artikels is in Kuier gepubliseer. Haar gedigte het in die Lekka Poems-bloemlesing verskyn en in 2023 het sy ’n gebedsboek vir tieners, Die Here kom sterk deur, gepubliseer. Sy beskou dit as ’n voorreg om in 2020 te kon deelneem aan die Kommadagga-slypskool vir kortverhaalskrywers. In 2023 het sy ’n AfriCAN Honoree Authors’ Award ontvang.
2 thoughts on “Tot die dood ons skei”
Dis nou lekker skryf, die! Jy borrel oor, en jou woorde, die borrel saam. Pragtige skryfstyl ook: ek was geboei van begin tot einde. Sal enige tyd jou boek koop waar jy tien of vyftien sulke stories, saam bundel. Skryf soe voort!
Beautiful, i am super proud as a fellow Belharian LOL, Stellar writing there Theolla