A place where stories unfold

NATi Jong Sterre 2020: Mannetjie

Toneel 4
(Tyd: Sowat 5 jaar gelede. Mannetjie is al bietjie ouer, maar die klere bly toiings. Hy is steeds op die plaas, kaalvoet.)

Mannetjie: En toe, op die warmste Woensdagmiddag van die jaar, kom my ma nie weer terug van die plaasboer se huis nie. Ek sien die oop, wit deure van ‘n ambulance onder die groot bome en ek sien hoe flash die rooi ligte op die pool se water. Die honde blaf en tjank deurmekaar. Later, toe kom die plaasboer se vrou my roep. Sy stap tot net voor die deur. Ja, Mevrou? Jou ma het geval. Inmekaargesak. Op ons kombuisvloer. Seker beroerte. Die borde is flenters. Meneer het die ambulans gebel. Maar dit was te laat. Sy’s dood. En sê my wie gaan nou vir die begrafnis betaal? (Stilte)

Deesdae bly ek in die kinderhuis omdat die welsyn antie my hier gesit het. Die dag toe sy my hier met my suitcasie en met een Shoprite sakkie kom aflaai het,het sy my aan die skouer gevat met: Jy sal dit hier like! Soet wees!

In die Shoprite sakkie was dié teddybeer. (Lees die denkbeeldige kaartjie op die effes groot Teddybeer.) Aan Samantha- Tannie is baie lief vir jou en jy moet jou nuwe blyplek geniet. Sy wou dit seker vir ‘n ander kind gegee het, maar toe kom ek in die pad.

Hier is niks om voor bang te wees nie. Jy sal gou baie maatjies maak. Die antie se mondhoeke glimlag, maar haar oë bly moeg en wil-wil net wegkyk. Haar foon lui benoud. Ja, Herman ek kom nou! Steek solank die vuur aan. Daar is nog ‘n sakkie ys in die deepfreeze. Ek sort net gou die laaste enetjie uit. OK, bye! Sy slaan die deur hard toe.

Hierdie skurwe, koue, geroeste hekke van Huis Helpmekaar is nie vir my nie. Dit voel en lyk eider soos ‘n tronk. Langs die paadjie na die groot, hout voordeur neem die bossies so plek-plek oor. Die welsyn antie het net weer vinnig weggery en ek het haar nooit weer gesien nie. Sy het nie eens teruggewaai nie, al het ek verdwyn af in die pad. Die antie is ook seker ‘n ma. Sal sy een van háár kinders hier wou los? Never!

Daar lê ‘n deurgetrapte, vuil matjie skeef voor die deur. Ek kyk af. Die letters sê: WELKOM. ‘n Stout kind het met vetkryt die letters O-N vooraan gekrap en nou lees dit eintlik ONWELKOM as jy mooi kyk.

‘n Meneer en vrou kom vinnig aangewaggel. Die oom het ‘n boepens en lelike beenhare en die vrou se stem is koud. Hulle lyk dik, dom en difficult. Ag jirre, Hester, kyk hoe lyk hierdie enetjie weer! Hy’t seker nie eens ‘n koekie seep saamgebring nie en dan moet ons alles gee. Party kinders wil dit ook maklik hê! Kala die oom terwyl die antie my na ‘n kamer lei.

Die gang is koud en net een kaal ganglig brand so in die middel. Die verste kamerdeur stoot oop en ek sien 4 staalkooie. Later sou ek uitvind die een behoort aan Kokkerot en die ander aan Vaalpiet. En in die hoek lê Lastag. Maar op daai oomblik was die kamer leeg. (Mannetjie stap na die een staalbed). Is dit my kooi, antie?

Sit solank jou sakke neer. Onthou, kooi is vir die plaas (hard en ferm, asof sy met baie kinders praat.) Hier word dit ‘n bed genoem en ‘n bed is net om op te slaap. En ek is nie jou antie nie. Noem my Tannie Hester. Toe-toe gaan was gou jou hande. “Al is mens arm, jy moet steeds skoon wees” quote sy. “Jy bly nou by die witmense.” Die toilet is af in die gang; en droog sommer nou al daai snot en trane af; tannie wil niks hoor nie- maar ek luister niks meer nie. Sy draai om en loop. Haar Passion of Midnight spray trek in die gang af -soos Psalm 119,terwyl die vuilpienk slippers so tjier-tjier saam met die reuk verdwyn.

(Mannetjie steek die geel sak met Teddy daarin gou onder die kopkussing weg.) Ek wil nie hê die ander moet van hom weet nie. Sy lyfie is sag en snoesig en dit voel lekker as ek hom styf teen my gesig vasdruk. (Die oomblik raak amper intiem.) Later van dae sou ek hom onder die kooigoed begin wegsteek. Of in die kas. En saans uithaal as ek dink die ander slaap al.

(Benoud) Ek gaan soek die pee-plek. Ek pis sommer in die badkamer se wasbak om die antie te spite. Die gang is lank en daar’s net toe deure orals. Een van die deure maak gelukkig oop toe ek verbystap.

Sorrie. Waar’s die toilet? Die gesig kyk my net aan asof ek ‘n vreemde taal praat. Nwata, ek’s Boytjie en lyk ek vir jou soos ‘n fokken padkaart? Voetsek djy. Skielik voel ek of ek net daar in my broek gaan pee. Jissis, die lug hier druk my keel toe en ek verlang mý mure en mý kooigoed.
(Mannetjie af.)

Lees verder hier:

+ posts

Gerhard Visagie is gebore in Durban, het skoolgegaan in die Paarl, sy studies voltooi in Stellenbosch en gee tans Engels in Fraserburg waar hy alombekend geword het as “Sir”. Hy het ʼn fyn aanvoeling vir kinders en die kompleksiteite in hul lewens en is juis daarom intens betrokke by die bevordering van letterkunde en toneel in die Fraserburg-gemeenskap. As voorsitter van die reëlingskomitee van die jaarlikse Fraserburg Logan Toneelfees is gebeure in skoletoneel iets wat hom elke slag opnuut meevoer: om te beleef hoe ʼn skoolproduksie deur die klankgrens breek, is iets besonders.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *