AB: Hy was op ‘n volmaan gebore. Jessie. Klein liggaam van vlees en bloed en stem. Stem wat so hard en oortuigend geskree het dat ek self oortuig was dat hy elke sonde uit my liggaam kon wis. Stem belowend. Stem wat kon protesteer en keer en baklei vir die wat nie kon stem vind nie. So duidelik daar. Ons moes eintlik van die begin van die swangerskap af geweet het hoeveel potensiaal vir impak hy saam met hom gedra het. Of hoe min gewig sy eintlik saam met haar kon dra? Wêreld reeds te swaar. Want sy hét moeilik aan hom gedra. Net, net kon hou. Die gewig van die baba, die belofte, meer as wat ons kon verstaan. Na die eerste drie maande het sy stadig oor haar heupe begin vryf, so asof sy die pyn uit haar spiere kon knie. ‘n Maand later het sy al stadiger regop gestaan.
‘Dit voel asof ek ‘n reus dra’, het sy gegrap.
‘Moet ons nie dokter toe gaan nie, Jane?’
‘Nee, jouself nou kom slim hou nie. Dis mos maar net ‘n ou baba, hy groei maar net. Ek sal maar net meer spinasie en so moet eet.’
‘Jane’
‘AB, ek gaan nie verder hieroor praat nie.’
‘n Maand daarna het sy uit die bed geval toe sy probeer opstaan. Haar bene kon nie onder haar opkom nie.’
Ons is dokter toe.
Pelvic Girdle Pain.
Of so iets.
Wat ons basies van die dokter verstaan het, is dat Jane nie kon dra nie. Nie die kind nie, nie haarself nie, nie ‘n ons gewig nie. Maar sy was hardkoppig.
‘Dis ‘n klomp kak wat die dokter kwyt raak, watse ma kan dan nie haar eie kind dra nie.’
Ek het nie regtig geweet wat om verder vir haar, of die mense om my te sê nie. Die laaste drie maande van die swangerskap het sy in die bed spandeer. Elke seisoen van CSI gekyk, kaaskoek geëet, oor die dominee geskinder. Dae omgedroom oor wie en wat hy sou wees, die klein maan-mannetjie wat tuiste kom skep het daar in haar maag. Seer. Ek kon sien sy het seer gehad, maar sy het dit elke keer vermom as ek by die kamer ingestap gekom het. Totdat hy die aand gebore is. Rond en vol. ‘n Gewig wat die aarde se kors getref het.
My ouers het later by die hospitaal opgedaag. Skuwerig by die kamer ingestap gekom, asof die nuwe lewe van ‘n paar kilo’s, hul eie jare in ‘n paar minute kon oorrompel.
‘AB?’
‘Ja, pa?’
‘Kom ons gaan stap ‘n end, my kind.’
‘Ek wil nie regtig vir Jane nou los nie, pa.’
Hy het net sy hand gewaai, en soos ‘n sewejarige skoolseun ek het nie verder vasgesteek nie. Ons het in die hospitaal se gange afgestap, sonder om ‘n woord vir mekaar te sê, beide te oorweldig met die onskuld wat in wit kombers toegemessel was. Toe ons buite op die bankie gaan sit het my pa ‘n botteltjie Jack Daniels uit sy baadjie se sak gehaal. Ons het saam gedrink.
‘Jy was nog kleiner.’
Dit was die eerste keer dat ek besef het hoe weerloos ons as mens, as kind, eintlik is.
‘Ten minste weet ons sy stembande makeer nie iets nie. Hy sal sorg dat ons hom hoor.’
‘Dit is so, ja.’
Ons het altwee weer gesluk. Na die maan gekyk.
‘Dis volmaan vanaand.’
‘Ja’
‘Wat sê die dokter oor Jane?’
‘Dis nog te vroeg om te sê, maar dit lyk nie goed nie. Daar is baie skade aan die ruggraat opgedoen. Hulle dink nie sy sal weer ordentlik kan loop nie.’
‘AB?’
‘Ja, pa?’
‘Jy weet mos wat hulle sê oor die volmaan.’
‘Nee, pa.’
Ek was nie eintlik lus vir die kak praatjies nie.
‘Die ou mense glo dat die volmaan moeilikheid bring vir ‘n kind.’
‘Hoe so, pa?’
‘’n Volmaan word geskep as die maan direk teenoor die son staan. ‘n Direct opposition. En dat ‘n kind wat op ‘n volmaan gebore is teenoor homself staan, nes die son en die maan.’
‘Pa, ek is nie lus om nou oor…’
‘Nee, vanaand moet jy vir my luister. Daai kind van jou gaan konstant teen sy eie wese baklei. Hy gaan sukkel om te weet waar hy staan. Konstant die ander deel van die wêreld wil gaan soek. Julle sal mooi moet kyk.’
‘Ons sal.’
My pa se woorde bly tot vandag deur my kop sing. Stem hard en oortuigend. Ek wou myself oortuig dat my pa daardie aand net ‘n strontstorie oorvertel het. Dat die tannies in die straat se bygelowe, die stories oor sout wat val, spieëls wat kraak, uile wat die dood kom roep, maar net bangmaak-praatjies was. Iets wat ons as kinders in toom kon hou. Maar ‘n rivier het daardie aand oor my pa gevloed, water diep. Ek het dit afgemaak. ‘n Dronk man wat iets profeties op die aand van my kind se geboorte wou kwytraak. My pa het daardie aand iets van die waarheid beetgekry, en ek het ‘n leuen aan hom afgesmeer. Ons het nie mooi gekyk nie. Nie een van ons nie. (Hy kyk na die maan) Het ons, my lief?
Die maan word eweskielik swaar. Te swaar om te dra. Daar is iets wat in die maan begin treur.
Kanya Viljoen is ook besig met ’n meestersgraad in Drama- en Teaterstudies en wel aan die Universiteit van Kaapstad. Sy het onlangs gedebuteer deur die toneelstuk RAAKby die Vrystaat Kunstefees 2018 op die planke te bring. Dit is as Beste Produksie genomineer en het ook twee KykNET Fiësta-nominasies ontvang. Kanya is verder laasjaar as Beste Opkomende Regisseur deur die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Teater (SATMag) aangewys en is hierdie jaar vir ’n Fleur du Cap Teater-toekenning benoem. Kanya se Die man en die maan vertel deur ’n kombinasie van bewegingsteater en poëtiese monoloog die magiese verhaal van ’n gesin wat deur die maan verskeur word.