Gaynore loop haastig af in St George’s Wandellaan, in die Kaapse middestad, want sy wil nie laat wees vir haar afspraak met haar beste vriendin nie. Oorkant Edgars, daar sy by die gebou in en stap na die Lavazza-koffiewinkel, waar Mary haar gaan ontmoet. Met diè dat sy windverwaai is, sien sy nie onmiddelik die man raak nie en loop trompop in hom vas. “Jammer”, sê sy terwyl sy aan hom vashou om haar balans te hou. Hy glimlag af in haar gesig en sê laggend:”G’n probleem, die wind waai baie kliënte in my rigting”, terwyl hy knipoog. Hy lei haar binne die koffiewinkel en wys haar na die tafeltjie in die hoek, waar sy plek inneem.
Terwyl hy wegloop om die spyskaart te gaan haal dink sy dat hy bekend lyk, maar sy kan haar vinger nie daarop lê waar sy hom vantevore gesien het nie. Sy kyk vir die eerste keer rond in die klein winkel wat vol memorabilia is en kan verstaan hoekom haar vriendin versot op hierdie winkeltjie moet wees. Mary, is ook ‘n Hard Rock Café-meisie en by die toonbank is daar heelwat t-hemde uitgestal. “”Seker Mr Sexy s’n”, dink sy terwyl sy haar verkyk aan die ander oudhede en prente en moenie van die klomp Nestle Hot Chocolate-houers vergeet nie. “Ek wonder of die vroue kom vir die warm drankie of die eienaar”, dink sy glimlaggend.
Op daai oomblik kom Mary die koffiewinkel binne en groet eers die kelners vriendelik, voor hulle mekaar om die hals val en mekaar druk. “Sjoe, die wind waai darem koud hieronder, ek’s bly jy het die plekkie gevind”, praat sy uitasem. “Ek kan nou verstaan hoekom jy nie meer kla oor julle Departement na hierdie gebou getrek het nie. As so ‘n sexy man elke dag my koffie maak, sal ek ook nie moan nie”, sê sy en knipoog vir Mary terwyl die haar hare agteroor skud en glimlag. “Aag man, mens raak gewoond aan hom, maar ek kan nou verstaan hoekom Wilmien hom anderdag so gegryp het. Hy het daai regte rowwe Jack sexy look wat ‘n mens nie elke dag meer sien nie. Vandag se manne is tè metro vir my. Niemand wat meer soos daai ou in die Camel-advertensie van jare terug lyk nie,”sê Mary droomverlore. “Soos hulle sê”, gaan sy geselend voort, ”Die goeies is almal gevat.”En knik met haar kop in sy rigting.
“Hoekom lyk hy so bekend?”, vra Gaynore, terwyl sy in hom rigting kyk. “Hy was Zach in 7de Laan. Wilmien se kêrel. Die een met wie sy later weg is. Hy is nou die eienaar van die koffiewinkel”. “Ek wou sê dat hy bekend lyk, maar kon nie onthou nie. Hmmm, hoe kon ek vergeet?”, sê Gaynore en lag. Die kelnerin kom neem hulle bestelling en toe sy wegloop vra Mary:”En waaraan het ek die besoek te danke? Hoekom het dit so dringend geklink?”, vra sy terwyl sy haar vriendin stip dophou.
Hulle kom al van Sondagskooldae af aan en met ‘n vriendskap van oor die twintig jaar, kan hulle nie dinge vir mekaar wegsteek nie. Dis hoekom Gaynore met haar moet gesels. “Ek het iemand ontmoet, maar weet nie hoe aunty Milly en oom Danie gaan reageer nie. Dis hoekom ek eers met jou moet gesels”. Haar ouers is soos alle ouers wat sy ken: streng en wil nie sien dat hul kinders seerkry nie. Hulle het haar ook die reg en verkeerd van die lewe geleer en daar was nie eers toegelaat dat hulle met verkeerde vriende deurmekaar raak nie, dis hoekom sy nie weet hoe nou gemaak nie.
“Danver wat jy al ontmoet het; ons het besluit om dinge ‘n stap verder te neem en ons platoniese vriendskap in ‘n ‘n verhouding om te sit. Ons hou van mekaar, het dieselfde belangstellings en voel ons is oud genoeg om in ‘n ernstige verhouding te gaan, met die vooruitsig op trou en met ‘n gesin te begin. Beide van ons het goeie werke, het ons eerste motors gekoop en wil so spoedig moontlik die eiendomsmark betree. “, sê Gaynore en vat eers ‘n sluk van haar espresso voor sy verder praat. Mary sit net rustig en teug aan haar hot chocolate, terwyl sy haar vriendin dophou. “Vriendin, als klink perfek”, sê Mary vinnig. “Wat is fout?”, vra sy bekommerd. Gaynore kyk op en nadat sy ‘n diep asemteug gevat het, antwoord sy met ‘n sagte stem, ”Sy pa is ‘n high flyer”.
“’n Wat!?”, vra Mary geskok, seker dat sy haar verbeel het, want in hulle opvoeding was sulke mense beslis nie deel van hulle gemeenskap of lewe nie. “Jy het reg gehoor, Mary”, sê Gaynore bietjie skerper as wat sy bedoel het. “Jammer, ek het ook eers onlangs uitgevind”, sê sy terwyl sy haar vriendin se hand verskonend ‘n drukkie gee. “En jy wil nogsteeds met hom deurmekaar raak? Jy is lankal nie meer ‘n bakvissie nie, so hoe het jy oop oë in die ding geloop? Of was jou oë ooit oop?”, vra Mary op haar reguit manier, terwyl sy haar kop skud. “Jy weet natuurlik wat voorlê by die huis, nê?”, vra sy maar verwag nie eintlik ‘n antwoord nie. “Dis hoekom ek vandag met jou gesels, sodat jy ten minste kan verstaan”, sê Gaynore met ‘n mismoedigheid in haar stem. “Vertel my hoe julle ontmoet het en hoekom hy jou so interesseer. Wanneer ons met aunty Milly en oom Danie gaan praat, sal ons, ons storie moet ken”, sê Mary terwyl sy haar vriendin met ‘n sagte blik aan kyk.
“Hy het eendag saam met ‘n vriend as vrywilliger by De Novo Dwelmbehandeling sentrum, kom uithelp. Ons het sommer gekliek en het sedertdien telkemale saamgewerk. Hy is ‘n maatskaplike werker wat rerig omgee vir sy medemens en is in die tusentyd permanent aangestel. Hy is veral goed met die seuns en motiveer selfs diè vir wie ons amper nie meer hoop het nie. Hy het al vele jeugmisdadigers gehelp om hul lewens te verander en om weer op hul voete te staan. Baie keer het hy selfs van sy eie geld geneem om hul familie te help met byvoorbeeld kos of vervoeronkostes. Sy natuurlike gevoel vir situasies; hoe hy dinge wat gebeur op die terrein, het my altyd te bowe gegaan. Hoe hy geweet het wanneer ‘n baklei gaan uitbreek en presies hoe om die situasie te ontlont, was bewonderbaar.” Gaynore neem eers weer ‘n slukkie van haar espresso, roep die kelner nader en vra vir ‘n refill. “Soos ons meer en meer van mekaar begin sien het, het ons begin agterkom dat ons van mekaar hou. Ons het af en toe gaan uiteet, fliek en selfs Artscape toegegaan vir een van Emo se vertonings. Ons geselsies het maar altyd terug geneig na ons werk, want dis ‘n diepe belangestelling wat ons deel.”
“Verlede week, toe ons koffie gaan drink het na ‘n fliek by Canal Walk, toe het hy die moed om my in sy vertroue te neem”. Gaynore bly eers vir ‘n tydjie stil, voor sy verder gaan. “Ek het hom vertel dat ek my elke keer verkyk wanneer hy situasies by die sentrum ‘lees’en ons seker al baie keer uit groot moeilikheid gehelp het. Ek wou weet hoe hy dit regkry en hoekom dit so natuurlik vir hom kom. Toe sê hy dat sy pa bekend staan as Bennie Gold, die bekende high flyer. Die man wat vir honderde sake gearresteer was, maar nooit skuldig gevind was vir selfs èèn nie, want sy ‘ouense’ neem die sake op hulle.
“Nee, voor jy vra, Danver se ma het al vroeg besluit dat haar enigste seun nie soos sy pa sal wees nie. Alhoewel sy ouers getroud was, was sy ma gekant teen sy pa se ‘sake-onderneming’. Sy het hom ook beskerm teen sy pa wat hom natuurlik wou ‘oplei as sy regterhand’ en aan sy pa ‘n ultimatum gestel, dat indien hy met sy planne sou voortgaan, dat sy na Nasionale Intelligensie sou gaan en als aan hulle sou vertel. Sy pa weet dat sy ma se prokureur met ‘n dokument sit wat stipuleer dat indien enigiets onnatuurliks met haar of haar kinders sou gebeur, dat haar man die eerste persoon moet wees wat hulle moet ondersoek, want sy besighede sou moontlik ‘n rol in hul sterfte gespeel het.”
Op ‘n sekere manier het sy agtergrond hom ‘n soort van ‘n voorreg gegee, want nie een van ons weet altyd wat gaan gebeur nie, totdat dit te laat is”, gesels Gaynore verder terwyl ‘n sagte glinstering in haar oë verskyn. “Selfs nou dat ek weet van sy pa se besigheid pla dit my nie, want ek weet dat hy nie daarin belangstel nie. Hy is goed in sy werk en ek is rêrig lief vir hom, maar hoe gaan ek dit aan hom oordra?. Mary druk haar hand op die tafel en kyk haar vriendin met liefde aan.
“Kom ons geniet eers ons ete, voor ons sulke gewigtige besluite neem”, antwoord sy terwyl die kelnerin hul borde neersit. Soos hulle gewoonte is, bid hulle eers en eet dan in stilte. Na die tyd, kyk Gaynore op na Mary. “Vriendin”, begin Mary ”Soos ons jou ouers ken, moet ons maar eerlik wees met hulle”. “Maak jy en Danver ‘n afspraak met hulle en laat hy hulle die waarheid vertel. Jou pa gaan in elk geval dink hy is ‘n lafaard as jy hulle moet inlig. Hulle het hom al ontmoet en hulle het nogals ‘n hoë dunk van hom. Natuurlik sal hulle bekommerd wees of sy pa se besigheid nie gevaar vir julle sal inhou nie, maar as hy hulle kan verseker dat hy jou mooi sal oppas, dan behoort daar nie probleem te wees nie. Wees altyd eerlik en openlik met hulle, sodat hulle nie onnodige kwellinge oor julle sal hê nie.” Mary glimlag vir haar vriendin, wat aandagtig na haar luister.
“Onthou, liefde vra nie adres nie. Hy gee ook nie net vir sekere ouers se kinders ‘n lewensmaat; gebaseer op die ouers se gedrag of lewenskeuses nie. Selfs bergies vind liefde en dan is hulle tot die dood lief vir mekaar.” Toe hulle later afskeid neem van mekaar, loop Gaynore met nuwe oë en verkyk haar aan die groenigheid van St George’s Wandellaan. Ja, liefde vra nie adres nie. Terwyl sy nou daaraan dink: wanneer sy eendag trou, sal niemand anders as Mary haar strooimeisie wees nie, want wie anders sal haar met sulke goeie raad op die ‘straight and narrow’kan hou, soos sy?
Theolla Langenhoven (1982) werk tans by die Universiteit van Wes-Kaapland na jare in die staatsdiens. Sy wil haar skryfwerk gebruik om haar gemeenskapswerk, haar liefde vir administrasie en haar kennis van sielkunde en kriminologie te kombineer en lig te werp op die maatskaplike kwessies wat gemeenskappe in die gesig staar. Van haar kortverhale en artikels is in Kuier gepubliseer. Haar gedigte het in die Lekka Poems-bloemlesing verskyn en in 2023 het sy ’n gebedsboek vir tieners, Die Here kom sterk deur, gepubliseer. Sy beskou dit as ’n voorreg om in 2020 te kon deelneem aan die Kommadagga-slypskool vir kortverhaalskrywers. In 2023 het sy ’n AfriCAN Honoree Authors’ Award ontvang.