A place where stories unfold

Hare maak nie die mens nie

Kroeskop. Pittekop. Plek-plek bewolk. Staalwol hare. Jou hare kan nie pom-pom nie.  As jy in die jare 80’s en 90’s grootgeword het en jou hare sou nie die potlood toets slaag nie, behoort jy welbekend met hierdie uitdrukkings te wees.

As kind was ek altyd skrikkerig vir hierdie tipe uitdrukkings, want my hare was mos nie net kroes nie, maar ook verskriklik dik.  Ek onthou hoe die kam-proses ‘n uitdaging van sy eie was; hoe my trane gerol het as my dit my beurt was vir hare vleg. Die herinneringe aan volwassenes wat opmerkings maak soos:”Shame, haar draad is nie so sterk nie”, of onnies wat jou herinner dat jy nie soos ‘n sekere ander kind in die klas “gladde hare” het nie, het mens innerlik laat krimp en gewens dat die aarde jou kan insluk.  Dus, toe daar nuwe produkte op die mark kom wat ons hare reguit en dunner kon maak, was ek maar te gretig om toe te laat dat dit op my kop ‘getoets’ word. 

Oor die jare heen, het meer en meer produkte en toebehore ons laat glo dat niemand meer met kroesies hoef rond te loop nie. Ek moet erken dat dit my by tye bietjie hartseer gemaak, want dit het gevoel ek is nie rêrig wie ek wil wees nie.  Moet my nie verkeerd verstaan nie.  Om my hare te kon skud, was elke keer ‘n ‘goed voel’ oomblik.  Dit het gevoel asof ek inpas by my vriende en selfs familie.  Maar die ellelange proses van jou hare met chemikalieë beplak of ‘relax en straighten’ soos ons dit ken en dan dit skroei met ‘n haardroër en/of haartang, kan enigiemand mismoedig maak.  Die alewige gebrande kopvel of voorkop en ore kan soms nogals te veel raak.  Dit het my laat wonder of die ‘suffer for beauty’ ooit die moeite werd is, want opmerkings soos:“Hoekom gaan jy nie eerder vir ‘n Brazilian treatment nie”,  is nogsteeds deel van ons samelewing.  Dus, my hare sal nooit goed genoeg wees vir die kritiseerders nie.

Dit het my besluit om my hare van nou af natuurlik te dra, aangemoedig.  Dit het aanvanklik baie oorreding en ‘n kopskuif geverg, maar die geestelike vryheid wat daarmee gepaard gaan is prysloos.  Ek moet erken dat dit eintlik moeiliker is om jou hare kroes te dra, want dit kos baie tyd, aandag, geld en navorsing.  Dit beteken ook dat jy baie verduidelikings moet gee oor jou besluit, want nie almal verstaan hoekom jy nou skielik jou natuurlike self wil aanvaar en koester nie. 

Ek het tydens my reis van selfontdekking agtergekom dat baie vrouens deesdae hierdie besluit neem, want hulle is besig om hulself te aanvaar en lief te hê net soos hulle is. Baie onkundiges oor hierdie onderwerp, dink dat ons net lui is, maar besef nie dat dit werk vereis om jou hare in sy natuurlike toestand te onderhou en versorg nie.  Vir baie beteken dit om te besluit of hulle deur die oorgangsfase gaan òf gaan hulle wat bekend is onder die Natties die big chop doen.  Hierdie is seker die mees belangrikste besluit tydens hier reis, want dit is nie net oor hoe jy jou hare gaan versorg nie, maar ook op watter vlak jou selfvertroue is.  ‘n Big chop beteken dat jy as mens ‘n lewensverandering aanpak, wat jou in ‘n heel ander rigting kan stuur, want met die knip van jou hare kyk jy met nuwe öe na jouself en hoe ander jou sien.  Met ‘n oorgangsfase of beter bekend as transitioning, kan jy nog haarstyle probeer wat die verskil in jou draad kan kamoefleer, maar nie met die big chop nie.

My besluit was ook beinvloed deur die feit dat ek ‘n dogter het wat nou die storm-en-drang jare van tienerskap begin ervaar.  Ek wou haar leer om haarself te aanvaar en lifhê. Die feit dat manlief en die seuns gladder hare as ons het, sou dit nie makliker maak wanneer sy geboelie word deur ander kinders nie.  Ek wil hê dat sy en ander wat in dieselfde bootjie is, nie moes wegskram van hoe hulle geskape is oor hulle nie soos die popsterre lyk nie.  Gelukkig is daar deesdae ook baie ondersteunings groepe onder die Natties, wat mekaar met raad, daad en plaaslik vervaardige produkte bystaan.

Dit gaan dus nie net oor hare nie.  Dit gaan oor baie vroue besef dat ons is wie ons is, take it or leave it. Ons wil net onsself aanvaar en ons natuurlike mooiheid koester.  Dis nie meer ‘n keuse om ander tevrede te stel nie, maar ons neem hierdie besluit vir onsself.  Noem my selfsugtig, maar dit gaan nou oor MY.  Dit het my amper 40 jaar geneem om te besef dat as ek wil hê ander moet my liefhê en aanvaar, dat ek dit eerste moet doen.  Die gospelsangeres, Bernice, het jare gelede gesing:”Wees jy net jy, soos die Here jou gemaak het”.  So, dis wat ons nou doen en ander sy negatiewe kommentaar sal ons nie van stryk bring nie.  Ek liefies myself net soos ek is!  Kom oor dit.

Gepubliseer in Kuier in 2019

Website | + posts

Theolla Langenhoven (1982) werk tans by die Universiteit van Wes-Kaapland na jare in die staatsdiens. Sy wil haar skryfwerk gebruik om haar gemeenskapswerk, haar liefde vir administrasie en haar kennis van sielkunde en kriminologie te kombineer en lig te werp op die maatskaplike kwessies wat gemeenskappe in die gesig staar. Van haar kortverhale en artikels is in Kuier gepubliseer. Haar gedigte het in die Lekka Poems-bloemlesing verskyn en in 2023 het sy ’n gebedsboek vir tieners, Die Here kom sterk deur, gepubliseer. Sy beskou dit as ’n voorreg om in 2020 te kon deelneem aan die Kommadagga-slypskool vir kortverhaalskrywers. In 2023 het sy ’n AfriCAN Honoree Authors’ Award ontvang.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *