Die graf lieg nie

Clareen stap stadig na die graf.  Vandag voel sy darem haar ouderdom.  Voel sy hoe elke been in haar liggaam saamtrek, styfgespan soos ‘n boog wat reg is om uitgeskiet te word. 

Wie sou ooit kon dink dat hierdie fikse antie wat al 80km wedrenne gehardloop het, vandag haar 60-jaar sou voel, dink suster Clareen soos sy in haar gemeenskap bekend staan.  Drie maande.  Drie maande van hel. Dit is waardeur sy gegaan het.  Is dit wat die Here vir haar uitgesit het?  Is dit wat Hy ingedagte gehad het vir haar toe hy haar geseën het met ‘n pragtige kleinseun, maar hom toe wreed kom haal het?!

Suster Clareen voel-voel hoe die weerstandigheid weer sy nou bekende plek in haar hart wil kom inneem.  Maar vandag is die dag dat sy dit in oënskou gaan neem en as dit bedoel dat sy die duiwel ook by sy horings gaan neem en hom gaan rondpluk, sal dit ook gebeur.  Drie maande gelede was Clareen se kleinkind wreed vermoor.  Agtien jaar oud en execution style van agter in sy kop geskiet.  Die koeël was nie eers vir hom bedoel nie, maar vandag tel selfs dit nie meer nie.

Clareen kyk op na die hemel, terwyl sy onbewustelik sand in haar hand skep. 

“Here, hoekom Here? Ek weet dat ek nie U mag bevraagteken nie, maar hy was nog ‘n kind.  Met sy hele lewe nog voor hom.  Hy wou nog engineering study, maar nou”, sy hou op praat terwyl ‘n snik by haar mond uitglip. 

“Jinne Here, hy was my regterhand, myne en sy ma s’n.” 

Vir ‘n rukkie sit sy in stille terwyl die sand stadig uit haar hand gly. 

Taygan, haar ander kleinkind, gaan asof onbewus van sy ouma se sagte uitbarsting, onverstoord voort om die gras wat op die graf gegroei het uit te trek.

“Sedert ek ‘n kind was en nie eens rêrig verstaan het wat die woord God beteken nie, het ek U gedien.  Ek het as jongmeisie toe die ander dansplekke gaan opsoek het, nie eers daaraan gedink nie, maar eerder verkies om bybelstudie te doen op ‘n Saterdag-aand.  Toe ek trou en kinders kry, het ek hulle grootgemaak met die wete dat ek ‘n gelofte voor U afgelê het, met hul doop.  Nie net was dit ‘n empty promise nie, maar hulle het geweet dat U eerste moet kom in hulle lewens.” 

Weer kyk sy op en gaan verder met haar gesprek met haar Maker: ”Ja, ek erken vandag dat ek nie perfek is nie, sal ook nooit wees nie. Wat het ek gesondig Here?  Hoekom het U vir Ryan aan ons geskenk om hom so wreed terug te gee?  Hy was ‘n lieflike kind, ‘n kind wat ons net vreugde en trots besorg het.  Ja, hy het ook stoutegeite aangevang soos toe hy Merle, ons neighbour, se venster uitgegooi toe hulle tok-tokkie gespeel het.  En die ander keer toe hy en sy vriende gevang was waar hulle leer rook het, maar hy het sy les geleer, na die hoof hulle vir detensie gestuur het en hul ouers ingelig was.”

Clareen kyk af na haar hande en sien vir die eerste keer dat dit deurweek van die trane is.

“Heer,” sê sy terwyl ‘n snik weer uitglip.

“Ons het lekker tye met daai klong gehad.  Hy was sò lief vir sing.  Sy plekkie in die jeugkoor is leeg en Sondae se brekkie in die bed mis ek ook.  Sy juffrou het gesê dat as dit nie gebeur het nie, sou hy einde van die jaar diplomas gekry het, want hy het rêrig hard gewerk. Sy vrinne mis hom en Taygan mis hom ook.”

“Ek wil nie eers van sy ma praat nie.  Sy moes al ‘n paar keer dokter toe, want sy kan nie slaap nie en dis asof haar lewe ook opgehou het daai dag toe sy haar kind in die straat sien lê het, Here.  Dis mos nie reg dat ‘n ma so iets moet deurmaak nie!  Sy was nog oppad om haar vriendin by die hospitaal af te los, wie se kind leukemia het.  Nog ‘n kindjie wat toe gesterf het, Here.  Dit het vir haar gevoel asof sy twee keer platgeslaan was.  Here, nie net is my kleinkind dood nie, maar ook my eie kind.  Sy leef in ‘n waan en ek weet nie hoe om haar te help nie, want my hart is net so seer. Hoe verduidelik ék, ‘n godvresende vrou, aan haar kind uit hierdie seer gaan iets goeds gebeur, Heer? “  Clareen kyk na die hemele.

“Hoe maak ek om my kind weer te laat glo in U? Ek kan nie.  Ek self weet nie hoe om daai jongens te vergewe nie.  Hulle skiet verkeerde kind, brag daaroor en dan doen die polieste ook nog niks aan die saak nie. Hoeveel kinders moet nog dood gaan voor U ingryp Here?  Die government kan of wil niks meer doen nie, hoe moet ons getroue, godsdienstige mense nòg sukkel om ons kinders te leer om U te vertrou en nie verkeerde dinge te doen as ons gemeenskappe kreun onder die gangsterism?  Hoe lank nog?”

Hierdie hele tyd het Taygan geluister na sy ouma se pleidooie.

 “Ouma?” sê-vra hy. 

“Is Ouma nou klaar baklei met God?” vra hy met kinderlike onskuld. 

Die afgelope tyd was ook vir hom moeilik, want sy broer, sy beste vriend is vir ewig weg.  Clareen kyk na hom en ‘n glimlag breek onwillekeurig oor haar gesig uit.  “Ouma baklei nie my kind.  Ouma praat met God oor Ouma seer is”, antwoord sy.  “Ouma moenie met God baklei nie.  Ek mis ook vir Ryan en ek weet nie hoekom hy geskiet was nie.  Dit was die slegste dag in my lewe, maar God sal ons help, Ouma.  Ek weet my ma is nou siek en dat sy kwaad is, maar ek weet God gaan ons sterker maak, nes Ouma altyd vir ons sê.  Vandag maak ons sy graf skoon en ek kan sien dat die graf nie lieg nie, maar ons moet nou ophou huil.  Ons moet nou ons harte ook skoon maak van die kwaad – weer try om happy te wees. “

Taygan kyk na sy Ouma.

“Ryan was altyd happy.  Ek dink nie hy likes ons lang gesigte nie. En Ouma moet help skoonmaak, want Ouma het gesê dat ons nie kan lank bly nie, want die jongens wat al begrawe is, baklei hier onder in die grafte en die ander hierbo, gaan ons try rob. Dan moet ons nog weer taxi huistoe vat.”

Heeltyd terwyl Taygan gepraat het, het Clareen skaamte in haar binneste gevoel.  Ja, sy wou haar ‘bors skoonmaak’ teenoor God, maar sy behoort van beter te weet.  Dat haar tienjarige kleinkind haar vandag ‘n les moes leer.

Clareen staan op en slaan haar arms om hom. 

“Kom hier, jou slim kind.  Dankie dat jy my weer remind dat daar ‘n tyd vir alles is.  Ons tyd van rou het gekom en dis nou die tyd om weer op God en ons doel op aarde te fokus.  Ons gaan ook help om jou mammie by te staan en haar help om weer lus vir die lewe te kry.  Dit gaan nie maklik vir ons wees nie, maar met God aan ons sy sal dinge weer beter raak. Kom, ons maak klaar hier en kyk weer die lewe vierkantig in die öe.”

Clareen kyk vir ‘n laaste keer na bo en woordeloos vra sy vir God verskoning en sê ook dankie dat Hy hierdie jonge kind gebruik het om haar weer te laat glo.  Nadat hulle die graf skoongemaak het, verlaat hulle die begraafplaas; sy kleine hand in sy ouma se sterke hand, net soos God dit doen met sy kinders.

Theolla Langenhoven profile pic
Website |  + posts

Theolla works at the University of the Western Cape, whilst studying an Honours in Women & Gender Studies part-time. Her poetry and short fiction have been featured in anthologies and magazines such as Kuier Tydskrif or IOL’s Landisa Project. She published Die Here kom sterk deur, in 2023, which received the Cape Flats Literary Award for Teenagers’ Books. She’s since received three more Cape Flats Literary Awards for her contribution to literature and for best poem for "Hou jou bek". Her debut novel, Soetroos van Saron, is soon to be published by Kwela Books. But she says her favourite story is being a mom and wife.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *