Die skielike raps op die deur laat Ursula haastig opkyk na die beeld van haarself in die spieël, voor sy ‘n glimlag op haar gesig plak en na die klein ingangsportaal stap om oop te maak. Voor haar staan James, die man met wie sy die afgelope jaar in ‘n verhouding is, maar nogsteeds ‘n misterie vir haar is. “Kom binne, wat sal ons so staan asof ons vreemdelinge is”, sê sy en staan effens op haar tone om hom ‘n soen op sy lippe te gee. Nadat hulle die vertrek binne gestap het, sit hy sy arm om haar middel en lei haar na die rusbank by die venster. “Verbeel ek my of het jy bietjie opgetel?”, sê hy terwyl hy haar kielie. “Moenie!”, gil sy terwyl sy haar kop agteroor gooi, soos sy skater. “Wil jy iets hê om te drink, Lief?”, vra sy terwyl sy sy hande ontglip. “Nee, kom sit hier. Ek wil jou net styf teen my vashou”, sê hy terwyl hy haar styf teen sy liggaam vashou en oor haar kop by die venster uit tuur. Lank sit hulle so; selfs toe die aandskemer saggies om hulle vou. Dis asof beide onbewustelik besef dat iets anders is, dat na vanaand dinge nie weer dieselfde gaan wees nie. Later wriemel sy haar saggies uit sy arms, staan op en stap saggies na die kombuis om vir hulle koffie te maak. Die simpel taak van koffie maak, gee haar ook kans om haar emosies weer in toom te kry en haar voor te berei op die nuus wat sy met hom moet deel.
Toe sy met die koffie terugkom in die sitkamer sit hy nogsteeds op die rusbank, soos sy hom agtergelaat het; diep in sy eie gedagtes versonke. Sy buk voor hom en laat die koffie reuk sy neus prikkel. Hy kyk met ‘n skugter glimlag op en neem die koffie uit haar hand. “Lief, ek het jou vanaand oorgenooi, omdat ek iets met jou moet deel”, sê sy terwyl sy langs hom ‘n sitplek inneem. “En ek moet ook iets met jou deel vanaand”, sê hy sonder om in haar rigting te kyk. Sy neem eers ‘n diep teug van die koffie voor sy die moed bymekaar skraap, die koppie op die koffie-tafel neersit en na hom draai. Terwyl sy sy hande in hare plaas, kyk sy hom vol in die oë en met ‘n bewende stem sê sy:”Ons gaan ouers word”. Sy voel hoe sy liggaam ruk en lees duidelik die skok in sy oë. Hy spring vervaard op en vra:”Hoe?! Dit kan nie wees nie. Dit mag nie wees nie”, sê hy voor hy weer op die rusbank neerval.
“Ek’s jammer. Dis net so ‘n groot skok vir my, was glad nie voorbereid op dit nie. Ek weet nie wat om te doen nie, weet nie hoe ek my ouers in die oë gaan kyk nie. Wat bedoel jy, dit mag nie wees nie?”, vra sy verbaas terwyl trane uit haar oë stroom, sonder dat sy daarvan bewus is.
Hy staan op en stap met swaar treë na die venster. James staar lank nikssiende in die verte en toe hy uiteindelik praat, is sy stem grof en vol emosie. “Jy mag nie swanger wees nie, want ek staan op trou met my verloofde”. Daar, dis gesê. Iets wat hy sedert die begin eerlik oor moes gewees het. Hy staar steeds voor hom uit, toe Ursula in ‘n knielende posisie op die vloer inmekaar sak, hortend en snikkend uiting gee aan die skok van die skielike swangerskap, hoe sy dit aan haar ouers gaan vertel en die nuus wat sy nou by James hoor. James draai weg van die venster en tel haar in sy arms op en gaan sit met haar op sy skoot op die rusbank. Saggies vryf hy oor haar hare en laat haar toe om haar uit te huil. Toe sy uiteindelik sagter snik, begin hy saggies te vertel. “Lief toe ek jou die eerste keer ontmoet, kon ek nie my oë van jou afhou nie. Ek weet ek moes nie eers kontak met jou gemaak het nie, maar ek kon myself nie keer nie. Toe ek jou beter leer ken, kon ek nie glo hoe ‘n goeie mens jy is en kon toe nie myself sover kry om die waarheid te vertel nie. Ek weet jy sou my in die pad gesteek het, maar glo my, dit was nie bedoel om jou seer te maak nie. Ek het nog nooit iemand soos jy ontmoet nie en weet wat ek aan jou gedoen het, is onvergeeflik.” Hy lig haar kop op en kyk haar diep in die oë. “Ek is verskriklik jammer, ek weet nie hoe dit gebeur het dat ek twee vroue lief kan hê nie”, sê hy terwyl hy haar ooglede saggies soen.
Dit is asof die sagte beweging op haar oë haar terugbring na die werlikheid. Sy beur weg en staan op. “Loop.”, sê sy met ‘n koue stem. “Loop en moenie terugkom nie”. Sy beduie na die deur, met ‘n klipharde kyk in haar oë. Hy staan op en strek met sy arms na haar, maar die uitdrukking in haar oë laat hom sy arms sak en stadig, soos ‘n moeë, ou man beweeg hy sleepvoetend na die deur. By die deur draai hy om en sê vir ‘n laaste keer:”Ek is regtig waar jammer”. Toe maak hy die deur toe; vir die laaste keer.
Ursula sak uitgeput op die rusbank neer en staar nikssiende voor haar uit. Eers toe haar selfoon begin lui, skrik sy uit haar gedagtes op. Dis haar ma. Sy het nie nou lus om met haar te praat nie, maar as sy nie antwoord nie, gaan sy agterdogtig wees. “Naand ma”, antwoord sy en probeer glimlag. “Naand my kind, hoekom klink jy so moeg?”, vra haar ma bekommerd. “Dis die werk ma. Ons is besig met finansiële jaareinde, so dis nou druktyd”, probeer sy dit afmaak. “Hoe gaan dit by die huis? En met Pa”, vra sy gemaak belangstellend, maar ook om haar gedagtes besig te hou. “Nee dit gaan goed met ons. Pa vra dat jy die naweek moet huistoe kom. Ons verlang en wil bietjie vir Ouma gaan kuier, maar jy weet sy wil jou altyd sien”, val haar ma sommer met die bus in die huis. Dis nou een ding van haar ma, jy wonder nie lank waaroor sy skakel nie, want sy hou nie van die nuwe selfoon-gedoentes soos sy dit noem nie. “Die naweek? Is dit rêrig nodig dat ek moet saamgaan, Ma? Ek mis julle ook, maar met die bedrywige tyd by die werk en nog die lang reis na werk, gaan dit bietjie moeilik wees.”, probeer sy uit dit kom. Sy sien nie nou kans vir ‘n kuier by die huis nie. Haar ouers, veral haar ma, kyk deur haar en sal sien iets is nie reg nie. “Dan is dit reeds reg dat jy kom, sodat jy kan rus. Ek sal al jou gunsteling kos maak, so sien jou Vrydag-aand.”, knip haar ma haar verskonings kort. “Oukei Ma. Lekker slaap”, eindig sy die gesprek af. Sy weet sy gaan nie gou uit ‘n kuier kan kom nie en sy sal haar swangerskap seker ook nie vir lank kan wegsteek nie. So, dis beter as sy gaan en hulle inlig en dit sal ook help om nie alleen in haar woonstel te wees nie.
Die week vlieg verby en toe sy haar kom kry, is dit Vrydag-middag; tyd om die twee-uur rit aan te pak na Citrusdal, haar tuisdorp, waar haar ouerhuis is. Haar veilige hawe, waar haar ouers altyd haar seerplekke kon reg soen. Sy het nie vir haar ma gejok toe sy gesê het dat dit besig is by die werk nie en dit het haar gehelp om nie op haar huidige ‘situasie’ te fokus nie.
James het sedert daardie aand onverpoos probeer om haar in die hande te kry, maar sy ignoreer sy oproepe en e-posse. Sy moet haar self beskerm en dis al hoe sy dit nou kan doen. Sy het nog nie eers aan sy woorde gedink nie, want dit maak te seer. Nadat sy Kaapstad se middag-verkeer agtergelaat het en op die N7 aangesluit het, gaan haar gedagtes outomaties na wat die afgelope tyd gebeur het. Sy en James het ‘n jaar gelede toevallig by ‘n kollega se verjaarsdag partytjie ontmoet en spontaan het ‘n verhouding ontstaan. Hy is haar eerste kêrel, want haar ouers het geglo sy moes eers haar studies voltooi en ‘n permanente werk hê, voor sy ‘muisneste oor outjies kon kry’. Hy het haar voete behoorlik onder haar uitgeboul en die wonderlikste tyd in haar lewe het aangebreek. Romantiese etes selfs op ‘n seiljag, dans tot die môre-ure en baie klein dinge wat hy gedoen het om haar spesiaal te laat voel. Selfs haar ouers het van hom gehou, gesê hy het regte ‘plattelandse maniere vir ‘n Kaapse klong’. Nooit het sy so iets vermoed nie en selfs nou dat haar kop vol vrae is, kan sy nie dink wanneer hy by sy verloofde was as hy so baie tyd met haar spandeer het nie. Sy sou nooit met hom betrokke geraak het, as sy geweet het dat hy in ‘n verhouding is nie. Selfs al was dit ‘n aan-af verhouding. Vir die eerste keer gee sy haar gedagtes vrye teuels om aan haar situasie te dink, terwyl sy soos ‘n outomaat bestuur. “Waar laat dit haar? Hoe verduidelik sy dit aan haar ouers? En vriende? Hoekom het hy dit aan haar gedoen?”
Toe sy vanaf die N7 afdraai skud sy haar kop, asof sy so van haar gedagtegang gaan ontslae raak. Sy kan nie met ‘n lang gesig by haar ouerhuis opdaag nie; haar ouers gaan dadelik agterdogtig wees en haar nie met vrede laat nie. In die dorp, stop sy eers by die vier-rigting straat voor sy verder ry en by die eerste straat regs draai, in hul straat in. Hul huis is naby die plaaslike hospitaal, waar haar ma werksaam is en haar pa is die hoërskool se prinsipaal vir die afgelope tien jaar al. Toe sy voor die huis stilhou, verkyk sy haar eers aan die netheid van hul tuin, wat haar ouers met soveel liefde versorg. “Hier gaan my kleinding speel”, dink sy instinktief en hierdie skielike gedagte laat haar vervaard uit die motor klim. Nogsteeds ondervind sy nie die spontane blydskap en liefde vir die baba nie, want sy het maar Maandag tydens haar roetine doktersbesoek uitgevind dat sy swanger is. Haar gedagtes word onderbreek deur haar ouers wat na haar oor die grasperk aangestap het. “Middag Ma, middag Pa. Ai, dit bly maar die lekkerste plekkie op aarde”, sê Ursula met ‘n sug, terwyl sy haar ouers groet. Soos hulle die huis binne gaan, begin hulle sommer staaltjies te vertel aan haar, maar steeds bly die swaar gevoel in haar binneste. Nadat haar naweektas in die kamer neergesit is, gaan was sy haar gesig en stap na die kombuis waar haar ma besig is om koeldrank vir hulle te gooi.
“My kind, wat pla?”, onderbreek haar ma se stem haar gedagtes. Haar hande om die glas raak stil.”Hoe bedoel ma nou?”, vra sy ontwykend en vermy oogkontak met haar ouers. “Ek kan sien iets is nie reg nie en moenie eers probeer stry nie”, sê haar ma met haar streng stem. Ursula staar lank na die glas, sien nie hoe haar ouers bekommerd na mekaar kyk nie. Toe sy uiteindelik haar moed bymekaar skraap, sê sy, amper onhoorbaar:”Ek is swanger Ma. James is die pa maar toe ek hom vertel van my geval, toe sê hy dat hy op trou staan met iemand anders”. Ursula se oë skiet weer vol trane en sy kan nie eers opkyk na haar ouers nie. Geskok kyk hulle na mekaar en impulsief reik hulle na hul enigste kind wat nou snikkend met haar kop op haar arms lê. Saam huil die ouers met hul enigste kind wat deur hierdie moeilike situasie getref is. Toe hul trane opdroog, gaan sit haar ma die ketel aan en maak vir hulle moerkoffie, een van haar gunstelinge.
Wanneer hulle elk met ‘n stomende koppie koffie sit, begin haar pa vir die eerste keer te praat. “My kind, ons is jammer dat jy in hierdie situasie is. Jammer dat ‘n lafhartige jong jou in hierdie tyd, in die steek laat. Ons kan met trots sê dat jy so lank gewag het voordat jy ‘n outjie in jou lewe toegelaat het. Nou, eers op 30, is jy swanger. Maak nie saak van die omstandighede nie, daardie kindjie is ‘n geskenk van God. Hy of sy sàl met liefde in hierdie huis groot word. Dis ons kleinkind en ons sal jou ondersteun. Jy het ‘n goeie werk so jy gaan ook nie bakhand hoef te staan vir die baba nie. As jy iets nodig het, ons sal help waar ons kan. Daar is altyd ‘n rede hoekom dinge met ‘n mens gebeur, ons weet nie nou hoekom nie, maar daar is definitief ‘n les vir jou te leer hieruit. Jy gaan jou kop omhoog hou en ‘n goeie moeder vir jou kind wees.”, sê haar pa terwyl hy haar ‘n stywe drukkie gee. “Dankie Pa”, sê sy toe begin sy weer huil. Hierdie keer van verligting. “Toe, toe, toe. Stop die ge-tjankery en laat ons jou vet voer! Ons kleinkind moet gesond wees en net môre gaan vertel ons jou Ouma Saar van die vreugde wat ons te beurt val” sê haar ma. Haar ouers druk haar weer en terwyl hulle so staan, dank sy God vir haar goeie ouers wat haar nogsteeds ‘een voor is’ en weereens wys dat hulle haar ondersteun en lief het, deur als.
Theolla Langenhoven (1982) werk tans by die Universiteit van Wes-Kaapland na jare in die staatsdiens. Sy wil haar skryfwerk gebruik om haar gemeenskapswerk, haar liefde vir administrasie en haar kennis van sielkunde en kriminologie te kombineer en lig te werp op die maatskaplike kwessies wat gemeenskappe in die gesig staar. Van haar kortverhale en artikels is in Kuier gepubliseer. Haar gedigte het in die Lekka Poems-bloemlesing verskyn en in 2023 het sy ’n gebedsboek vir tieners, Die Here kom sterk deur, gepubliseer. Sy beskou dit as ’n voorreg om in 2020 te kon deelneem aan die Kommadagga-slypskool vir kortverhaalskrywers. In 2023 het sy ’n AfriCAN Honoree Authors’ Award ontvang.