Jan strek hom uit terwyl hy sy hande voor sy oë hou om die son te blokkeer. Ek smaak nie vandag vir bedel nie, want mense likes nie boemelaars op Krismis nie, dink hy. Hy skuif reg om te slaap en amper onmiddelik dui sy sagte snork aan hy is in droomland.
‘n Sagte gesnik maak hom wakker. Ai, wat nou weer, dink hy vererg. Soos hy regop sit, sien hy ‘n ou wat op die N2 Modderdam-brug se muur sit.
“Yor, ek lus nie vir dit vandag nie. Wie smaak spring op Krismis-dag?” vra hy binne-monds. Miskien moet ek hom los en met daardie gedagte skuif hy weer reg om verder te slaap.
“Hmmmmm” kom die geween aangesweef na Jan.
“My broe, níé man! Kan jy nie sien ‘n man smaak ‘n lekker nap vat voor die aand nie, auw,” vra hy vererg en staan op.
“Jinne, dan pyn my mank bien oek nog!” skel Jan soos hy stadig nader beweeg.
Jason kyk verskrik op en vir een oomblik hou die trane ook op vloei. Sy kneukels spierwit soos hy klou aan die muur. Hy het nie gedink hier sal iemand wees nie en vir ‘n vlugtige oomblik voel hy skaam.
Sy kop val op sy bors en die dam breek weer. Sy skouers ruk onder die gewig van sy kop en die magdom trane wat loop. Dis asof hy dit nie kan keer nie. Onbewustelik klou hy aan die muur, kneukels nou deurskynend en bene gevleg deur die muur se openinge.
Motoriste begin hom sien en toet onophoudelik soos hulle onderdeur vlieg.
Wil hulle hê hy moet spring of probeer hulle hom waarsku, dink Jan. Hy verstaan nie aldag die mensdom nie.
‘n Oorverdowende gil skeur deur die lig. Jan sukkel mank-mank die laaste tree tot by die klong en gryp hom. Nie seker wat nou gaan gebeur nie. Hy klou hom. Wanneer die snikke sagter raak, staan Jan een tree terug.
Vir die eerste keer kyk hy na hom. Skat hom so 20-jaar oud. Mooi klong, hare gejel en netjies aangetrek. Toe hy hom gryp het hy niks foon gevoel nie, so dié klong wil nie eens erken word as hy jump nie, dink Jan.
“Kind, wat is jou naam?” vra Jan saggies en kyk hom reguit aan.
Hy staan bietjie agtertoe, maar los hom nie. Hy weet sy nabyheid sal die kind bietjie kalmeer.
Jason loer deur sy geswelde oë na Jan. Die uncle is ‘n bergie, maar hy ruik nie, dink Jason. Hy lyk ook oukei, nie skelm of ge-drug nie.
“Ek is Jason, Uncle.”
“Nou vir wat kom disturb jy my nap, as ek jou niks gemaak hettie,” vra Jan gemaak upset.
“Wiet djy op my ouderdom sukkel mens om lekker te slaap,” praat hy verder.
Jason sak sy kop.
“Kom, jy is nou hier. Kyk hoe mooi skyn die son agter Tafelberg uit.”
Vir ‘n lang ruk bewonder hulle die natuurskoon reg voor hulle. Onbewus van die karre wat hoot en ander wat begin skree.
Jason se snikke het nou opgehou. Sy liggaam ruk ook minder. Jan loer na sy hande en sien dis nie meer so deurskynend nie, so hy is nie meer so gespanne soos vroeër nie.
“Klong, wat soek jy hier?”
Jason sak sy kop. Skaam.
“Uncle, ek lus nie meer vir lewe nie. My ma is getroud en daai man is ‘n vark!” Jan se oë skiet pyle en hy klou nou verbete aan die reling. Kwaad maar nog bietjie bang om te val, let Jan op.
“En nou dink jy om jou ma met hom te los is ‘n kwaai gedagte? En nog haar seer te maak en dit nogals op Krismis?” ryg Jan sy vrae in.
Jason kyk weer na die mooi toneel voor hom. Onbewus van die mense wat nou van Bonteheuwel se kant aangestap kom om te kyk wat aangaan.
“Ek sal nooit my ma seer maak nie, maar sy beskerm my nie teen hom nie. Ek kan nie meer sy abuse vat nie. Nie van my ma nie, ook nie van my nie.” Jason se stem begin weer bewe.
“Wat maak hy kind?”
Na wat soos ‘n ewigheid voel, antwoord Jason.
“Hy betas my. Hy kom kruip in die nag in, wanneer my ma nightshift werk.” Die trane rol nou oor sy wange, maar hy hou aan praat. Die traan is nou oopgedraai en hy kan dit keer nie.
“Ek het my ma ge-warn hy is bad news, maar sy was té inlove. Hy koop en doen als wat sy wil hê, maar klap haar ronde n sy maak excuses vir hom.”
“Ek het haar probeer sê wat hy doen, maar sy sê ek lieg.”
“Dié is my laaste uitweg om haar te laat sien, wat hy doen.”
Jan sit vir ‘n lang ruk en staar voor hom uit. In stilte sit hulle so, met nuuskieriges wat nader kom met selfone op kamera-Jan sit vir ‘n lang ruk en staar voor hom uit. In stilte sit hulle so, met nuuskieriges wat nader kom met selfone op kamera-mode.
“My kind, om jou self te dood gaan jou niks in die sak bring nie. Nie eens ‘n waarborg dat jou ma hom sal los nie. Luister vandag na uncle Jan.”
Jason draai sy kop stadig in Jan se rigting.
“Jy kan hom gaan aankla by die polisie en die social workers, maar om nog seer op jou ma se pad te bring is nie die oplossing nie.”
“Kom, klim af hier voor ek en jy op more se koerantblaaie pose.” Jan praat gemaak streng, maar staan nader en vat hom aan sy arm om hom te help.
“Hoekom vat uncle my nie ernstig op oor my suicide attempt nie?” vra Jason halfhartig, terwyl hy sy bene oor die reling swaai en veilig op die sypaadjie te lande kom.
“Die uncle Jan van jou, het al vele mense afgehelp op die brug. Húlle wat nou so nader staan, noem my Jan, die suicide killer.” Sy krom wysvinger beduie na die klein skare wat nou opdraai want niks interessant het gebeur nie.
“Dié is my brug. My woonplek en hoe sal jy voel as iemand elke keer om selfdood pleeg in jou huis, ha?”
Saam stap hulle stadig na Jan se makeshift huisie. Plak hulself op die karton neer. Jason verkyk hom aan die eenvoud, maar netheid van Jan se huisie. Gemaak uit stukkies hout en gedek met plastiek vir die koue en nat dae. Die grys en wit Pep-kombersie opgerol in die verste hoek. ‘n Botter bakkie staan aan die anderkant. Seker vir kos, dink Jason.
Jan haal sy bottel Fusion aangemaakte koeldrank uit. Sy laaste leksel. Hy bied dit eers vir Jason aan, wat gulsige slukke neem. En toe neem hy self ‘n diep sluk. Lekker na die stresvolle tydjie.
“Ek is Jason, uncle Jan. Dankie.” Jason sug diep.
Jan kan sien die situasie waarin die kind hom bevind het, vat nou plek in sy kop en gemoed. Dit woel hom en speel oor sy gesig af. Jan los hom om sy emosies op sy eie tyd uit te woed. Terwyl hy terug lê en sy ogies toeknyp.
“Ek weet nie wat het ek gedink nie. Ek wou nie sit en vals wees wanneer die familie kom en is so moeg van hom.”
“My pa is dood so ek het niemand met wie ek kan praat nie.” Jason tuur in die verte.
“Dis oukei, jy het nou vir uncle Jan. Kom laat ons my Krismis-brood eet en vergeet van netnou.” Jan haal die twee snye, geplak met konfyt uit en gee een aan Jason. Hulle kou asof dit lekker Krismis-kos is.
Na nog so ‘n uur se geselsies, jaag Jan vir Jason op. Jason nou baie kalmer as vroeër die middag.
“Kom kind, jou ma is seker al ge-worry oor jou. Ek stap saam jou af by die brug, net in geval jy weer planne kry om Superman te wil speel,” sê hy met ‘n glimlag.
Jason lag.
“Nee uncle Jan, ek sien nie kans om weer met die suicide killer te deal nie. Hy likes nie mense wat moeilikheid maak in sy huis nie,” terg hy vir Jan.
Saam stap hulle tot aan die einde van die brug en Jan kyk Jason agterna.
“Kom kuier weer, nê. Dan praat ons verder,” skree hy.
“Ja uncle, môre dan bring ek sommer leftovers saam,” antwoord Jason en waai vir oulaas vir Jan.
Jan draai om en loop sukkelend terug, maar met ‘n tevrede hart. Terug na sy huis met die mooi uitsig oor die N2 asook Tafelberg wat wag hou oor die stad.
Die suicide killer was weer aan diens vandag, dink hy trots, so ek sal nooit hier wegtrek nie.
Theolla Langenhoven (1982) werk tans by die Universiteit van Wes-Kaapland na jare in die staatsdiens. Sy wil haar skryfwerk gebruik om haar gemeenskapswerk, haar liefde vir administrasie en haar kennis van sielkunde en kriminologie te kombineer en lig te werp op die maatskaplike kwessies wat gemeenskappe in die gesig staar. Van haar kortverhale en artikels is in Kuier gepubliseer. Haar gedigte het in die Lekka Poems-bloemlesing verskyn en in 2023 het sy ’n gebedsboek vir tieners, Die Here kom sterk deur, gepubliseer. Sy beskou dit as ’n voorreg om in 2020 te kon deelneem aan die Kommadagga-slypskool vir kortverhaalskrywers. In 2023 het sy ’n AfriCAN Honoree Authors’ Award ontvang.
