Francois Bloemhof het op sosiale media geskryf: “Dit is lekker om deel van dié bundel te wees – en om saam met Daniel Lötter ’n storie te kon skryf. Want dis hoe dit gewerk het: twee skrywers per storie. Hom het ek al met boekbekendstellings by Die Bordienghuis in Wellington meegemaak, dus was dit nie ’n straf om saam met hom ingedeel te word nie. En aangesien hy bekend is vir sy geskiedkundige skryfsels – google dit! – was dit gou vir my duidelik watter rigting ons moet inslaan …”
ISBN: 9781991256751
Sewe keer sondig
Saamgestel deur Stefaans Coetzee en Anschen Conradie
Fiksie – Kortverhale
Naledi
25 kortverhale, die een sondiger as die ander, sal die leser vermaak, ontroer, laat naels kou en dalk selfs laat glimlag.
Volgens oorlewering bestaan daar sewe dodelike sondes waaruit alle ander onheilighede voortspruit: hoogmoed, gierigheid, wellus, afguns, vraatsug, toorn, en luiheid.
44 skrywers, sommige baie bekend en sommige minder bekend, het dieselfde opdrag gekry: Neem die hand van ander skrywer en skep saam kortverhaal wat minstens een van die sondes met speur- of spanningselement beklee.
Skrywers soos Kerneels Breytenbach, Elsa Winckler, Didi Potgieter, Madelein Rust, Dibi Breytenbach, Hannes Barnard, Jan Vermeulen Christelle Wessels en Erla Diedericks het aan die projek deelgeneem. (Graffiti Boeke)
François Bloemhof behaal reeds in graad 11 die prestasie van medewenner van die Amstel Playwright of the Year-toekenning. Hy het al meer as 90 boeke gepubliseer en daar is nie nog ’n skrywer ter wêreld wat so uitgebreid en suksesvol vir die volwasse, tiener- én jeugmarkte skryf soos hy nie. Hy is meermalig in elk van hierdie kategorieë bekroon, ook met sy debuutroman Die nag het net een oog verower hy die De Kat-prys. Onder sy ander pryse tel etlike ATKV-Veertjies waarvoor lesers self die wenboeke aanwys. Onder sy baanbrekerswerk – op internasionale en nie op bloot plaaslike vlak nie – tel die eerste boek met ’n oorspronklike selfgekomponeerde CD-klankbaan, die eerste boek met ’n eie rekenaarspeletjie, die eerste flipom, eerste interaktiewe vervolgverhaal (in Rapport) en eerste tydskrifroman. Hy het ook gesorg vir die eerste Afrikaanse strokiesromanreeks (Agent Snoet) en die heel eerste e-boek (Spinnerak) in Afrikaans. Verder het François al tekste vir die verhoog (’n kabaret, drama en twee tienertoneelstukke) en radio (dramas en vervolgverhale) gelewer, asook vervolgverhale in tydskrifte. François vryskut daarbenewens ook as kopieskrywer, resensent, joernalis en samesteller. Hy was al verhaalredakteur by Sarie en boekredakteur by Die Burger. Sy huidige stokperdjie is om musiek te skryf vir sangers wat ’n effens ander soort Afrikaanse liedjie soek. François se eerste draaiboek, Double echo, is deur Karoo Films vervaardig.