‘n Jeugverhaal wat op ‘n plattelandse dorpie afspeel in die tydvak 2019 tot 2021. Die verhaal volg Gr 11’s, hoe hulle regmaak om Gr 12 die jaar van hul lewens te maak, maar toe slaan Covid 19 toe, en ontwrig hul lewens heeltemal. Tussen al die nuwe beplanning, verwarring, teleurstelling, en ontwrigting van hul lewens deur, steek die liefdetjies ook toe mos sy kop uit.
Hoofstuk 2
‘Oukei dan, Joani! Dan sien ons môre weer. Lekker sukkel met die maths!”
Heather lag lekker oor die grappie wat eintlik op haarself gemik is.
‘Sukkel jy maar, ja!’ gooi Joani oor haar skouer terug na haar bestie toe. Sy glimlag so by haarself soos sy aan stap, met die swaar boeksak oor haar skouer. Sy weet die arme Heather kan maar net nie algebra onder die knie kry nie. Maar sy is darem nie bang as dit die maths-periode is nie. Dit is díeding van Heather waarvan Joanie so hou. Sy hou van die uitdaging van die maths-klas. Sy slaag darem elke kwartaal; so net – net. Dan lag sy so lekker oor sy dit alweer gemaak het.
‘Against the odds! Alweer!’ sal sy uitroep, en die maats sal lekker saam lag, selfs díewat niks sê oor hulle eie punte nie. Die Heather darem!
Hulle’t by die hoek gekom. Heather draai mos hier af, lokasie toe. Joani stap aan, dorp se kant toe. Haar ma werk in die dorp. Hulle bly ook sommer daar deur die week. Haar ma het die madam vir die special favour gevra om sy nie meer onder die man se mishandeling, met die kind ook in die huis, wou bly nie. Hulle sou stil wees in die buitekamer.
‘Madam-hulle sal nie eers weet daar’s nog iemand agter in die jaart nie.’
Margaret Williams is al by die Van Eedens vandat hulle haar as ‘n jong meisie op ‘n Robertsonse plaas gaan haal het. Dit is nou meer as vyftien jaar gelede.
‘Nou ja, Margaret, as dit dan nie anders kan nie, dan kan dit seker nie anders nie’, het die vrou van die huis gesê, en omgedraai in die huis in.”
By Madam Van Eeden se huis, stap Joani by die klein hekkie in, en reguit aan langs die huis af tot agter by haar ma se kamer. Die kamer se deur wys na die vibracrete se kant toe, en sy kan smiddae lekker op die stoepie sit met haar huiswerk sonder dat die huismense haar sien as hulle dalk by die agterdeur sou uitkom. Haar ma weet wanneer sy smiddae trug in die kamertjie is. Sy hou die tyd dop, en kyk op die jaart uit, reg op die kamervenstertjie, waar sy in die kombuis, voor die opwasbak staan. As die gordyntjie effens oop is, en die venstertjie is oopgestoot, dan weet sy Joani is daar. Dan na ‘n rukkie, sal Ma-Margie uitkom met ’n bordjie van die middag-ete se kos, en Joani kry ‘n bord gesonde boere-kos, soos net haar ma dit kan maak – met ‘n sappie by.
Joani is altyd netjies as sy soggens skool toe stap. Op laerskool was daar twee vlegsels. Aan elke vlegsel het hang ‘n skoon lint. Heather, en van haar ander maats, het daarvan gehou om haar linte los te maak, dan anders te knoop, dan weer los te maak, en weer heel anderste te knoop. Op hoërskool dra die kinders nie eintlik linte gedra nie. Joani se hare is baie netjies in ‘n klein bollatjie agter in die nek gebind, met ‘n paadjie reg in die middel van haar kop. Haar ma sê ‘n skoolkind se gesig moet altyd oop wees vir wakker lyk en vinnig verstaan. Joani hou daarvan, want van die groot meisies dra ook hulle hare so, en hulle lyk altyd vir haar baie netjies.
Smiddae stap sy sonder drentel, reguit huistoe. Dis soos sy groot-gemaak is. Sy stap van die een kant van die dorp, deur die midde-dorp, tot sy by een van die systrate in draai. Die huis waar sy en haar ma in ‘n agterkamer bly, is ‘n groot, ruim Viktoriaanse huis, met ‘n stoep op drie kante van die huis, en ‘n pragtige tuin aan die voorkant, en langs die kante af. Aan die kante van die huis, is daar sement-paadjies wat agtertoe lei. Die een aan die linkerkant, voor, met ‘n klein hekkie, is die een wat Joani-hulle bruik, om in en uit die plek te kom. Dis die kant wat die oggendson kry. Die anderkant se toegang vat ‘n mens tot agter in die jaart na die dubbelgarage, met die stoorkamertjie waar die tuingoed gehou word. Dis die kant wat heelmiddag son kry, tot donker toe. Dis waar die huismense smiddae sit, en later hulle sundowners geniet tot dit later koud word
Haar ma is baie trots op die kind wat al van kleintyd af wys daar steek iets in haar. Sy leer fluks op skool, en was altyd onder die eerste drie in die meeste van haar vakkies op laerskool. Die juffrouens het altyd goed gepraat van die stil kind met die mooi glimlaggie, en die mooi maniere. Haar skool-rapporte was altyd goed – goeie punte; goeie opmerkings. Watter ouer, veral enkel-ouer, sal nie opgemaak wees met so ‘n kind nie? Ant Margie hou haar soos ‘n valk dop, leer op die regte tyd alles wat sy op daai stadium moet weet, en so het daar ‘n onbreekbare band tussen ma en dogter gegroei oor die jare. Menige nag lê Ant Margie wakker, en luister na die rustige asemhaling van haar dogter hier langs haar. Die kind het soveel drome: wil nog eendag universiteit toe gaan; oorsee ook gaan studeer; ook ‘n belangrike mens in die wetenskap-wêreld word. Sy wil iets doen wat die wêreld nie sal vergeet nie! So praat sy altyd.
Maar die wêreld word so wreed! Die mense is so anderste oor die laaste jare. Skole is nie meer dieselfde nie; kerke ook nie. Niemand gee meer om vir g’n niemand nie. Soms kom Joanie huistoe, heel geruk oor wat die groter seuns nou weer in die klas, voor die meneer, of voor die juffrou gesê, of gedoen het. En dan is dit kinders wat maar veertien of vyftien jaar oud is! Of hulle so van hulle laerskole af kom, en of hulle so geword het op die hoërskool, is moeilik om te sê. Elkeen wil ‘n laanie wees; dan is hulle maar Graad Agt, of Graad Nege. Hoe lyk hulle as hulle eendag in die hoër grade kom? Hoe lyk die juffrouens en die menere oor ‘n paar jaar, met sulke kinders in die klas?
Die kerke staan ook magteloos. Kerkbanke raak leër en leër, want die mense begin swaar trek. Bydraes kom swakker en swakker in. Die Ring moet elke maand sy tiende betaal word – geen genade nie. So ook moet die munisipaliteit betaal word. Daar’s ‘n leeraar aan wie beloftes gemaak was doerie tyd toe hy en sy gesin daarheen gelok was. Maak nie saak jou omstandighede nie – hierdie betalings moet elke maand betaal word. Werk raak minder. Mense word afgedank of afgelê, want die koopkrag van die dorpenaars versleg so, besighede moet desnoods die getal werkers verminder om kop bo water te hou. Waar daar nog werk is, is die betaling aansienlik minder.
Mense sukkel. Huisgesinne sukkel. Waar daar groot kinders in die huis is, is daar net enkeles wat die ouers bystaan, en help om die jongeres in toom te hou. Die ander wil buite wees – om self ‘n lewe daar buite te gaan soek. Die groot kinders wat nog in die huis is, help om die gesin bymekaar te hou. Hulle stuur die jongeres skool toe. Die laerskool gee mos twee keer kos; die hoërskool een keer, tydens pouse. Dit is baie keer die enigste keer dat niemand met iemand anders hoef te deel nie. Dit is hoekom ouers en onderwysers wil hê kinders moet skool toe kom, want hulle weet hoe dit by baie van die leerders se huise gaan. Dit is hoekom van die ma’s soggens in die midde-dorp van huis tot huis loop, en vir ‘n char-joppie vra. Baie vrouens uit die onder-dorp uit, werk as chars vir twee of drie dae ‘n week. So ‘n char word by die dag betaal. So ‘n char kom saans huistoe met ‘n sak vol kos. Die kinders van langsaan, wat in die deur kom staan, kry ook. En so gaan die mense aan: jy tick net oor; jy tick net oor.
In tye soos hierdie, draai mense nie na die Here toe nie; hulle draai weg – na die bottel toe. Dit is so sad. Die skool en die kerk is nie meer die safety-net in die gemeenskap nie. Altwee is ewe swak. En so verkrummel die lewe in jou dorp, tot net die sterkes oorbly het. Dit is soos Ant Margie die Onder-dorp ken. Dit is wat Ant Margie sien, en wat sy hoor, as sy en Joanie elke Vrydag huistoe gaan. Vrydae maak sy die kos gou klaar, en dek die tafel vir die aand. Joanie kom vroeër op ‘n Vrydag, maak die kamer spick en span skoon, van vloere tot vensters, en die matras word omgedraai. So teen drie-uur die middag, laai die Madam hulle by die kerk in die onder-dorp af, en ry weer trug om by die huis te wees as haar man vier-uur by die huis kom. Naweek is naweek. Hy wil nie nog ander mense in die huis hê oor naweke nie.
Dis al die roetine vandat Joanie begin skool gaan het. Die jare voor Joani skool toe kon gaan, het sy by die Day Care Centre gebly tot Margie haar weer vyf-uur kom haal het, na werk. Toe sy begin skool gaan, het Margie die Madam gesê sy en die kind is reg om in die kamer te kom bly. Die eerste drie jaar van skool het Ant Margie geloop, in reën en sonskyn om die kind in die etensuur by die skool te gaan haal. Van Graad 4 af, loop sy tot in die dorp, en kyk teen die heuwel uit, tot sy Joani sien aankom. Dan stap hulle saam huistoe. Madam verstaan dit so. Sy’t self vier kinders groot gemaak. Met Madam se laaste kind het Ant Margie in haar eerste paar jaar van werk, dieselfde gedoen. Sy’t in die dorp op die hoek gaan staan, en in die rigting van die wit skool gekyk, tot sy hom sien aankom. Dan’t sy omgedraai en huistoe gestap. As Margie by die kombuisdeur ingekom het, dan het Madam geweet, haar laatlammetjie sou nou-nou by die voordeur ingestap kom.
So het dit aangegaan met Tiaan tot in die hoër grade. Na skool is hy army toe; daarna Stellenbosch toe. Die jaar daarna, kry Ant Margie vir Joanie. Die jaar daarna toe trou sy met die pa van haar kind. Toe begin die bakleiery, en toe Madam vra oor die blou kolle op haar gesig, het Margie haar gevra oor die kamer in die jaart, die een wat leeg staan – en of sy eendag daar kan daar kom bly, met haar kind. Na ‘n paar jaar, en baie pakke slae, steek die buurvrou haar naald, van die ander vrou. Margie het tot by die ander vrou gegaan, en haar ingevra. Dit wástoe so. Glo van lankal af. Toe is haar besluit finaal gemaak.Sy trek toe af dorp toe, en sluit haar deur in die onderdorp. Oom Lord, reg oorkant haar, sal ‘n oog hou.
Margie kry toe ‘n interdik teen die man om weg te bly van die huis af, en van hulle af. Hy kom toe eendag net haar besoek om te sê hy wil skei; die ander vrou dring aan op trou. Dit was maklik om te skei, want sy het Joanie gehad om voor te lewe. Aan die begin kom hy toe gereeld naweke inloer by die huis in die onderdorp, om vir die kind ietsie te bring. Na ‘n jaar is sy besoeke ook toe verby, en is hy vir goed uit hulle lewe uit. Sy’t Joanie lankal vertel wie haar pa is, en hoekom hulle nie ‘n lewe saam kon maak nie. Joanie het net stil geluister, en na die trou – foto van haar pa en haar ma gekyk.
Net een keer, in Graad Drie, toe Margie laat is, stap Joani alleen deur die dorp huistoe, en sien sy hom. Hy laai sakkies sement en ander bou-materiaal agter op ‘n bakkie. Hy loop voor haar verby, kyk, en steek toe vas.
‘Hello! Jou naam is Joani, nê? Joanie Williams? Is dit?
‘Ja,’
‘Ken jy my?’ vra die man, en kyk na die dogtertjie met die twee vlegsels, met linte aan.
Sy weet sommer dadelik dis haar pa wat voor haar staan. Voor sy weer ‘n woord kan uitkry, praat haar ma agter die man.
‘Joani, sê hello vir jou pa!’
‘Hello, my pa,’
‘Luister, Lionel Williams, jy weet waar ons bly – nog steeds by Mervyn Josephstraat, 7232. Jy’s welkom om daar jou kind beter te kom leer ken. Nou moet ek weer by die werk kom. Sê totsiens vir jou pa, Joani!’
Joani kan net ‘n sagte ‘Totsiens, Pa!’’ uitkry, en stap vinnig agter haar ma aan. Sy kyk een keer om, en sien haar pa staan nog net daar, en kyk hulle agterna.
Die aand is haar ma besonder peinsend toe hulle in die kamer is. Toe sy uiteindelik oor die middag se ontmoeting praat, is sy half onge-erg.
‘Ek sien darem hy werk weer. Lyk nou darem of hy iets wil maak van sy lewe. Hy kán– as hy net wil.’
Joani gryp die kans om te vra:
‘Hoe was my pa dan, Mammie Margie?’ Margie Williams wil nie die kind seermaak nie.
‘Jou pa is n goeie mens, Joani. Hy kan net nie verantwoordelikheid vat nie. Toe jy kom, was hy uit sy verstand uit van blydskap en trots. Hy wou dadelik trou! Maar toe ons eers getroud was, toe sien ek ‘n heel ander Lionel. Hy wou nie sy vriende los nie. Dit was paartie na paartie elke naweek – bo-op ‘n pappe babatjie! Daar was nie die in die huis nie; nie dááinie, en ek kon nie gaan werk nie. Ons het baie goed nodig gehad in die huis; vir jou, en om van te leef. Hy was ‘n gebou-man, en het genoeg verdien sodat ons niks nodig sou gehad het nie. Maar hy’t ons afgeskeep vir vriende en ander vrouens. Toe ek begin praat, het die stryery beginne, en daarna die slanery. Ek was pimpel en pers op my lyf, en in my gesig. Maar ek moes baklei – vir my kind, en vir ‘n beter lewe. Hy’t later nie eers Vrydae huistoe gekom nie! Net Sondagaande ingesluip, met ‘n paar rand vir ons. Dan was dit weer ‘n stryery, en dan weer die geslanery. Oom Lord, oorkant ons in die straat, moes menige aande in die huis inkom om hom van my te kom af trek.’
Joani luister stil na haar ma se getuienis, en dink aan die man wat sy die middag in die dorp gesien het. Hy’t haar dadelik herken! En hy’t regtig bly gelyk om haar te sien. Maar hy’t nou ‘n ander lewe – met ‘n ander vrou en kinders. Maar hy ken haar darem nog. Daarmee was sy tevrede, en daarmee het sy gaan slaap.
Hoofstuk 2
Meneer Hentie Links, die Afrikaans-onnie by Hoërskool Charleston, het nou genoeg van die meisie-kind se dagdromery in sy periode.
‘Heather Hurling!’
Heather skrik haar regop.
‘Mister Balie?’
Die klas bars uit van die lag. ‘n Meisie agter Heather, gooi haar arms in die lug, en val met haar kop op haar arms op die bank, soos sy lag. Dit dreun in die klas. Die seuns se aanmerkings is hard, spottend en uittartend. Mister Balie is ‘n jong lat, vars van UWK af, wat nuutlings daar begin het.
‘Mister Balie? Yo! Jy’t Mister Balie in jou kop! Jou verspotte ding!’
Joani moet maar saam lag, want haar bestie het nou haar gedagtes lelik weg gegee. Heather lê met haar gesig in haar hande op die bank. Skaam. Meneer lag so ‘n bietjie aan die begin. Hy’s eintlik spyt hy sit een van sy gunstelinge so lelik in die oë. Joani lag ook nie meer nie. Sy wens die gespottery moet end kry. Meneer begin om orde trug te kry. Hy wys na die belhamels in die klas, en bring hulle tot bedaring. Geleidelik bedaar die kinders, en Meneer kan voortgaan met sy les oor mense in die moderne tyd wat ‘n onuitwisbare impak op die mensdom gemaak het. Hy’t hulle drie dae gelede gevra om bietjie te gaan oplees. Heather het ongelukkig sy inleiding tot die les gemis toe sy so wegraak in haar gedagtes.
‘So, Heather, is jy nou reg? Oor wie jy gaan praat?’
Meneer gee haar eintlik ‘n kans om haar in haar eer te herstel, want hy weet sy sal goed voorbereid wees.
‘Heather!’ fluister Joani dringend na Heather se kant toe, ‘Kom nou!’
Heather kom stadig orent, vee een keer oor haar oë, voor sy opstaan. Daar kom nog ‘n paar giggels en sisse van agter af. Sy gee eers ‘n paar panga-kyke agtertoe, voor sy na Meneer kyk.
‘Ek is jammer ek het nie geluister toe Meneer praat nie,’. Haar stemmetjie is sag en verskonend. Meneer knik sy kop liggies. Die klas raak stil. Heather is altyd interessant as sy praat.
‘Klasmaats van Graad 11, ek groet julle almal.
Ek wil vandag praat oor een van daardie mense wat die mensdom se leefstyl heeltemal verander het: ‘n persoon aan wie die wêreld baie te danke het. Sy naam is Steve Jobs. Hy was ingenieur, entrepreneur en uitvinder – ‘n moderne genie. Steve Jobs het die wereld geskud met sy kreatiwiteit, en innoverende verbeelding. Hy is die ontwerper van die ‘Mac’-kompers, wat toe iets vreemds vir die wêreld was. Hy’t hom ten doel gestel om ‘n bekostigbare Mac-komper te ontwerp wat elke huis kon bekostig. Daarmee het hy die digitale tegnologie op ‘n vlak geplaas wat niemand ooit kon van droom nie.’
Toe kyk sy in die klas rond:
‘Almal wat vandag selfone in hulle sakke het, en wie kompers en skootrekenaars by hulle huise het, moet dankie sê aan hierdie man. Groot maatskappye wou nie sy uitvindsel bemark of ondersteun nie. Sy uitvindsels was te rewolusionêr; te groot vir hul verstandjies om in te neem. Toe begin hy en sy vriend, Paul Wozniak, die Apple-maatskappy in sy pa se motorhuis, en hierdie maatskappy bestaan vandag as een van die rykste en bekendste maatskappye ter wêreld. Vandag gebruik die wereld bekostigbare Apple-kompers, i-Fone, iPads en iPods wat deur Steve Jobs uitgevind was, en aan die wêreld bekend gestel was om ons lewens vir altyd te verander.’
Sy praat met meer vertroue verder. Sy kyk net so nou en dan vlugtig op die nota-kaartjies in haar hand.
‘Steve Jobs was ‘n nederige mens. Hy’t hom nie gesteur aan konvensie nie. By internasionale geleenthede waar hy sy maatskappy se nuutste uitvindsel, foon of Apple-komper, bekend gestel het, het hy op die wêreld-verhoog verskyn in jeans, swart T-hempie en tekkies – die eienaar van ‘n multi-miljoen maatskappy – die ikoon van die digitale uitvindsels. Baie mense het hom as eksentriek beskou. Tog is hierdie wêreld-leier geloof en respekteer deur ander wereld-leiers as ikoon op sy gebied.’
Heather praat met vertoue verder oor haar onderwerp, en maak van tyd tot tyd oogkontak met haar toehoorders, selfs met die wat agter in die klas sit.
‘Van sy bekendste aanhalings is hierdie twee: ‘ Jy moet genoeg moed hê om jou hart en jou intuïsie te volg. Op ‘n manier weet hulle wat jy regtig eendag wil word’, en ‘Jou tyd is beperk; moenie tyd mors om soos iemand ánders te wees nie. Moenie jou steur aan reëls en wette wat ander mense se denke is nie; dit perk jou net in Moenie toelaat dat ander mense se sterk opinies, jou eie innerlike stem oordonder nie. Die belangrikste is om die moed te hê om altyd jou hart en jou intuïsie te volg.’ Sy kyk vir ‘n paar sekondes na die kaartjie in haar hand.
‘In 2011 het hy aan kanker gesterf. Hy was toe 56 jaar oud. Hy het ons agter gelaat met baie eenvoudige woorde.’
Heather lees die laaste woorde van Steve Jobs aan die klas voor. Sy lees dit sag – in ‘n gewyde stem: ‘Oh wow! Oh wow! Oh wow!’.
Dit is ‘n roerende oomblik. Die seuns is stil. Joani sit luister met haar hand oor haar oë. Mercy lê met haar voorkop op die bank.
Sy sluit af met die vraag: ‘Hoe word mens ‘n goeie leier?’
Sy vra die klas, en kyk agter na die hoeke toe, vir ‘n antwoord. Niks. Joani probeer help.
‘’Voorbeeldig wees’.
Iemand anders: ‘Respek vir ander mense hê’.
Mercy, die politikus in die klas, sê, ‘Accountability en integrity’.
Sy kyk na Meneer vir vertaling, want sy’s eintlik Engels.
‘Verantwoordbaarheid.’sê hy toe: ‘Jy moet verslag kan gee en verantwoordelikheid aanvaar vir wat jy doen. Jy moet ook innerlike edelheid hê.’
‘’Ja’, sê Heather toe. ‘Ook nederigheid. Jy moet mense kan verstaan en positief wees oor dit wat aan gepak word, en bowenal’, sê sy daarna, terwyl sy omdraai agtertoe, ‘Mens moet ‘n visioen hê: jy moet weet waarnatoe jy nou eintlik op pad is. Sonder versiendheid’ … en sy aarsel vir ‘n oomblik, maar besluit tog omnie te sê wat sy eintlik wil sê nie, ‘gaan jy nêrens in die wêreld kom nie – jy draai net om en om, soos ‘n droë blaartjie op ‘n vol emmer – om en om’.
Heather draai toe na Meneer toe, en in ‘n sagte stem sê sy, ‘Dankie, Meneer’, en sit.
Vir ‘n paar sekondes is daar ‘n doodse stilte, en toe bars ‘n dawerende applous los. Meisies staan op en gryp haar om die nek; ‘n paar seuns, aan die vensters se kant, klap hande en fluit saggies deur hulle tande. Meneer is effens onkant gevang; hy’t nie dit van die kind verwag nie. Maar hy is tevrede. Sy’t goeie werk gedoen, soos hy verwag het. Sy’t haar plek as top-leerder in die Afrikaans-klas bevestig. ‘Mister Balie’ is vergete!
Niemand is bereid om volgende te praat nie, en Meneer moet noodgedwonge die Steve Jobs bespreking verder laat gaan. Daar is nou meer kinders wat iets wil weet van Steve Jobs. Die periode gaan so verby met lustige bespiegeling deur seuns en meisies, oor wat Jobs bedoel het sy sterwenswoorde: ‘Oh wow! Oh wow! Oh wow!’
Joanie en Heather se Graad 11 – klas van 2019 ontwikkel daardie jaar as die steunpilare van die skool. Net so voor die 2019 se Mei / Junie-eksamen, neem Joani, Heather en Merci die inisiatief en roep die klas bymekaar. Toe die hele klas daar is, praat Joani eerste.
‘Maats, ons staan voor een van die belangrikste eksamens van die jaar. Na hierdie jaar is ons die nuwe matrieks. Ons kom nou al ‘n lang pad saam – deur dik en dun. ‘n Hele paar van onse maats is nie meer saam nie. Ons wil nou op die laat stadium van onse skoolloopbaan niemand meer verloor nie. Net soos ons nou hier sit, sal ek baie, baie graag wil sien ons moet ander jaar almal in matriek sit,’ en sy skep gou eers asem. ‘Ons almal móét hierdie jaar slaag, en ons moet góédslaag! Hierdie klas moet geskiedenis maak! Ons wat hier is, moet hierdie jaar ‘n 100% slaagmerk daar stel, met ‘n hoë gemiddelde!’
Joani kyk in die klas rond om reaksies te sien. Dis belangrik dat die klas moet inkoop. Sy wag.
‘Hoe gaan ons daai doen? Ek pass dan elke kwartaal net-net. Julle weet mos!’ vra Johnny-Boy van die kant af. ‘Ek try my beste, maar ek gaan dit nie maak, as ek nie help gaan kry nie,’ sê hy amper pleitend, en wys met sy hande.
‘Ek ook nie’, laat Shirley, ‘n stil meisietjie in die klas, van haar hoor. ‘n Paar ander geluide word ook hier en daar gehoor.
‘Ons gaan mekaar help!’ kondig Heather toe skerp aan. ‘Ons het ‘n plan! Ons wil weet wat dink julle van die plan.’
‘Ons luister!’ por Torah, belhamel en die agteros in die klas, haar toe aan. ‘Jy het my aandag, Madam!’
‘Ons het dit so uitgewerk: ons is vier groepe van drie elk wat so tussen 75% en 90% vir die volgende vakke kry: die tale; Maths en Maths Lit; Physics; Life science; Geskiedenis en Aard. As ons van nou af, dis nou amper einde April, begin om in groepe te werk, elkeen met leerders as fasiliteerders, dan kan ons mekaar help om ‘n beter punt in al ons vakke te kry.’
Heather probeer haar bes om oortuigend te klink. Sy kyk na die gesigte om haar om te sien wat daarop staan.
Estie Myburgh, hier van voor af, is eerste, ‘Ek studeer beter op my eie. Wat as dit nie uitwerk nie? En wanneer en waarsal die klasse gehou word?’
‘n Paar ander kinders stem saam met Estie. Hulle wil nie nou kanse vat nie. Hulle wil ook eers meer weet.
Joani kom weer in:
‘Ons kom elke middag na skool bymekaar hier by die skool. Ons gaan eers huistoe, dan’s ons weer hier, so teen half-vyf, in ‘n klaskamer. Ons reël met die prinsipal, en die opsigter en die klasonderwysers om die D-blok beskikbaar te maak. Elke vak kry 2 uur elke middag. Leerders kom met probleem-areas, wat ons dan deurwerk. Jy kan dan nog steeds huistoe gaan en studeer op jóú manier, maar jy’t dan reeds twee uur van intense studie agter die rug! Jy’s ook ontslae van ‘n helse kopseer in daardie vak. Hoe klink dit?” Sy wag anstig.
‘Nou wat kry júlledaar uit? Wanneer study júlle dan as julle slimkoppe al die tyd aan ons afstaan? wil Junain weet.
‘Don’t worry, dear! Got it all worked out. When we work with you, we’re revising at the same time. We get extra practice when we work through the problems. It’s a win-win, you see!’ laat Merci van haar hoor.
Junain wil verder weet: ‘So, wanneer wil julle met julle program start?’
Joani is gou met: ‘Volgende Maandag. Dis nou reeds Donderdag. Môre gaan sien ons drie, ‘n paar mense, en dan werk ons aan ‘n rooster vir volgende week. Maandag kry elkeen ‘n rooster vir die week. Maandagmiddag begin ons! Ons gaan deur al die werk van Maart hooftoets af, ál die toetse, en natuurlik die probleem-areas waarmee jý sit. Elkeen kry ‘n klas in viervan jou vakke. Jy kies self watter vier van: tale, maths of maths lit, physics, life science; history of geography jy wil bywoon. Daar sal klasse wees in daaride vakke. Daar sal meer as een fasiliteerder in elke klas wees. Niks van vashaak nie!”
Torah is die eerste een wat praat.
‘Ek’s in. Nothing to lose. Can only gain, hey, Mercy, baby?‘ terg hy. ‘Julle beter nie vashaak nie! Ek sit julle sommer gou reg!’ spot-dreig Torah hulle.
‘Ek sal dit ‘n try gee, maar as dit nie is wat ek wil hê nie, dan line ek’, is Estie se versigtige antwoord.
‘Ons gaan dit laat werk! Moenie worry nie!’ laat die ander wiskunde-kop in die klas, Michael Michaels, van hom hoor.
‘Vraag!’roep ‘n meisie, Crystal uit. ‘Kan ons nie onmiddellik na skool begin nie? Ek het baie dinge om te doen van 5-uur af. Ek het daai soort support nodig, maar die tyd is te laat vir my.’
’Ja, na skool,’ sê ‘n paar seuns so in ‘n koor gesê. Hulle is rugby -manne. ‘Dan’s ons in. Ons lyk die gedagte!’
‘Hoeveel gaan julle vra?’ wil Shirley toe weet.
‘Niks, man, moenie mal wees nie!’ is Joani se vinnige antwoord.
‘Dan sê ek solank dankie, namens die slim seuns hier rondom my! Ons praat weer Maandag’.
Weer word daar lekker gelag. En so gaan die klomp uitmekaar uit. Die groep meisies is opgewonde. Mercy en Allison huppel voor die groep soos hulle loop babbel. Die binne-werke van die plan moet nou net uitgewerk word.
Toe Joani huistoe stap, werk sy aan die plan in haar kop. Onnies moet nie uitgesluit voel nie. Wat as hulle wil kom insit? Daar is oorgenoeg middag-klasse gehou. Selfs naweek-klasse. Di nou’s die tyd vir iets verfrissends; iets nuuts. Heather, Kosie Vraagom en Doors Petoors, vir Afrikaans; Mercy, Dawn en Allison Adams, vir Engels; Michael Michaels, Joachim Manuel en sy, vir Maths en Physics; Bertie Matroos, Hermie Van As, en Harold Gunther, vir Maths Lit; Mercy, Heather, en Sylvie Hartnick vir Rek. Daai groepe is uitgesort. Dis nog die inhoudsvakke wat ingepas moet word. Hulle sal die volgende dag seker maak van die fasiliteerders vir daardie vakke. Geen probleem nie. Hulle weet reeds wie’t ingestem vir wat. Net die kombinasies moet gefinaliseer word. Dan’s als reg!
Die Prinsipaal, Meneer Horne, is baie ingenome met die inisiatief van die Graad 11-klas. Sy dorpskool het maar ‘n leerlingtal van so rondom seshonderd leerders – werkerklas-tipe kinders, meeste van hulle. Baie kom van omliggende plase. Gebrek aan kreatiwiteit is daar beslis nie onder hierdie groep meisie-kinders nie. Hulle borrel oor van energie – dán is dit koek-verkope vir die bibioteek se afrolpapier, of vir toiletpapier; óf dis ‘n Vrydagmiddag skoolkonsert waar ‘n klas sy talent kan kom uitstal. ‘n Minimale fooitjie van so R2 word by die deur gevra. Die opbrengste gaan na waar die behoefte bestaan. Op so ‘n Vrydag sluit die skool ‘n bietjie vroeër as gewoonlik. Die hekke word gesluit sodat almal binne moet bly. Die beste ondersteuning kom altyd van die junior-klasse. Die groot klongens wil net huistoe en hang altyd brommend om die hek rond. Die opsigter en die onderwysers het hulle hande vol. Tog, na ‘n halfuur is daar aansienlik minder kinders buite – die meeste is binne, en geniet elke stuk op die verhoog terdeë.
So sal hy hierdie Graad 11-klas van 2019 onthou. Hulle kom nou met ‘n plan om hul maats ook in matriek te kry. Heimlik is hy bang dat hulle so weggevoer sal raak dat hulle eie voorbereiding daaronder sal ly. Hulle is sy hoop vir die skool in die volgende jaar. Nog nooit het die skool ‘n groepie presteerders in soveel verskillende vakke gehad, soos in hierdie groep nie! Nog nooit vantevore het die skool so ‘n groep leerders gehad met soveel ondernemingsgees soos hierdie klompie nie! Om te dink die leiers is die meisies in die klas! Is dit nie ‘n goeie voorbeeld vir die jonger meisies in die skool nie, dink hy diep ingenome.
Die dag toe hulle hul punte hoor na die Junie-eksamen, is die seuns skoon uitgelate.
‘Kyk hier!’ roep Junaid uit. ‘Kyk hier!, man’, met ‘n breë glimlag op sy gesig.
Hy’t sy uitslae onder Torah se neus probeer in skuif. Maar Tora’t net oë vir sy eie uitslae. Hy’t oral verbeter op die vakke waarmee hy al die jare so gesukkel het. Nou nie groot nie. Daar waar hy altyd ónderstandaard was, is hy nou deur. Wiskunde maak hy dit nou net-net, vir die eerste keer in sy skoolloopbaan! Die groot seun kom voor Joani staan, en hou sy uitslae na haar toe uit.
‘Is dit swak?’ wil sy teleurgesteld weet, toe sy dit uit sy hand vat.
‘Maar jy’s dan al jou vakke deur!’ lag sy, en slaan hom met sy rapport liggies op sy groot bors.
Maar die groot man sê net sag, ‘Dankie, Joani’, en stap kop onderstebo buite toe.
Om haar is daar is daar orals uitroepe van vreugde; seuns wat mekaar gelukwens met die verbetering in hul punte, hoe gering ook al. Meisies is in hul skik met hul uitslae. Die leierskap se punte het so bestendig soos altyd gebly. Shirley staan eenkant en skyk na haar punte-blad. Toe steek sy dit terug in die koevert, en stap by die deur uit. Olwethu maak nie hare oop nie.
Toe Torah na ‘n rukkie terug in die klas kom, vra hy almal se aandag.
‘Bly net gou stil, asseblief. Staan sommer net daar waar julle is. Net ‘n minuut,’ vra hy. ‘Ek wil net eerste dankie sê, vir die meisies van die klas, vir die uitslae wat ek vandag gekry het. Hierdie stukkie papier het punte op waarvan ek net al die jare stilletjies gedroom het. Dis nie watswonderse punte nie. Dis net slaagpunte. Maar dis slaagpunte wat ek nog nooit in my skoollewe gekry het nie. Ek wil die meisie-kinders in die klas, wat alles die ge-organize het, dankie sê vir wat hulle vir my gedoen het.’
Torah kan nie verder praat nie, want die klas skree hom dood:‘Viva meisies, Viva! And so say all of us, and so say all of us’.
‘Daar’s nog ‘n ding’, sê hy, toe die klas effens bedaar het,’ ek is actually skaam om hieroor te praat. Al die jare was ek nie nice met die meisies in die klas nie. Julle’t my baie ge-irritate met julle smart antwoorde, julle Engels, en met julle slimgeit. Ek het julle lelike goed gesê, sleg gemaak, en julle vir vier jaar lank hel gemaak op die skool. En tog kom julle …’
Hy bly stil. Sy kop hang. Joani staan dadelik nader, en sit haar arm om sy lyf. Die klas begin toe maar weer met ‘Viva, Tora, Viva!’. Toe praat Adam. Die seun is heeltemaal iets anders; uit die Kaap uit daar kom bly. Die seuns in die klas hou maar by hom verby.
‘Groot sorry van my kant af, ook. Sorry vir die grieve van al die tyd; sorry vir die lelike goed wat ek sometimes van julle gedink het. Ek het al die tyd geweet wie’s julle, en wat julle kan doen. Maar in die laaste paar weke, en met ‘n report soos díe, het julle meisies vir my gewys wie’s ekke, en wat ‘n mens kan doen as jy net jou mind apply. Ek weet nie hoe ek vir julle kan sê dankie nie. Ek het nou sommer weer lus om end-uit te loop met skool. Thanks, meisies!’
Weer breek daar ‘n gejuig uit gebreek. Torah lei die koor: ‘And so say all of us; And so say all of us’, en toe die geraas bedaar, kondig hy ewe plegtig aan:
‘Excuse me now, ladies and gents! Ek moet nou waai! Ek wil Mammie gaan wys hoe haar klonkie gedoen het! Check julle!’
Hy hardloop by die deur uit, met ‘Mammie! Mammie! Mammie’! in sy ore.
Adam stap huistoe, met sy uitslae in sy hand. Sy wetenskap-vakke, Wiskunde en Fisiese Wetenskap, is so goed soos die bestes in die klas, s’n. Hy wil dit maar net nie vir hulle sê nie. Dis Afrikaans waarmee hy sukkel. Sy agtergrond is Engels, soos sy punt ook sal wys, terwyl al die vakke vir die eerste keer in Afrikaans moet neem. Hy’t sover nog reggekom omdat hy reeds in Graad 11 was, maar net nie die finale eksamen nie kon skryf nie.
Die Graad 11-klas se inisiatief van peer-learning na skool-ure, het ‘n ommekeer in die lewe van Hoërskool Charleston teweeg gebring. Dit was nooit die bedoeling met hul eenvoudige program nie. Die bedoeling was bloot om klasmaats wat bietjie sukkel, te help, sodat hulle gereed was vir die eind-esamen van 2019. Maar die program het onvoorsiene gevolge gehad – iets wat die meisies van Graad 11 se harte laat swel het van trots.
Die program het deurlopend plaasgevind na die September eksamen toe. Die uitslae van Junie-maand, en die deurbraak wat die meisies met die program gemaak het op onwillige leerders in die klas, het die onnies aan die praat gehad. Dit was ‘n plesier om die Graad 11’s klas te gee. Die klas se onnies het ook sommer nuwe inspuiting gekry. Maar die omwenteling in die skool het ná die September-eksamen gekom. Weer was daar ‘n verbetering in die punte van die Graad 11 klas! Die personeelkamer het gegons. Die res van die skool het begin praat. Toe, tydens een van die namiddag klasse, sien die Graad 11’s, ‘n paar van die junior-leerders het ook met na-skool klasse begin! ‘n Top-leerder in die Graad 9-klas het die swakkeres in die vak gehelp om die formules baas te raak, en reg toe te pas. Wonderlik! Die rewolusie het begin!
Nadat die Graad 11’s die rondhardlopery van die juniors, as hulle in ‘n klas moes wees, stop gesit het, en hulle tot bedaring gebring het, het die na-skool klasse gegroei totdat die meeste klasse in die verskillende grade hul eie program saamgestel het, en die skool, smidae, soos nog ‘n skool begin lyk het.
‘Joani’, sê Torah, een middag, ‘Die’s julle legacy vir Charleston High, díe.’
Sy kyk so oor die leerders van die ander grade, soos hulle by die hek inkom vir namiddag-lesse deur hulle peers.
‘Nee, Torah, dis onse legacy, díe!’
‘Anderjaar, in matriek,’ merk hy ernstig op, ‘start ons sommer van die eerste kwartaal af! Ek sal nooit weer deur skúúr nie! Nóóit weer nie! Anderjaar vlíégek deur. Ek vlíég deur!’
Joani glimlag net so by haarself. Ander jaar!
————————
Alex Marshall hails from Heidelberg in the Western Cape. He was a teacher at Trafalgar High School in District Six, whereafter he taught English at Masibambane High School in Kraaifontein. He was an activist for South African sports; has a great interest in history, and holds a master’s degree in Philosophy from UCT. Alex is passionate about reflecting on his community in his writing.