‘My ma worry nie oor mynie, Uncle. Sy’s amper nooit in die huis in nie. As sy in die huis, bly sy net in haar kamer. Sy praat amper nie met my nie. Sy weet nie eers watter grade in, is ekke nie. Ek’s so te sê op my eigene in daai huis, Uncle Boeta!’
Nie lank daarna nie, trek Christie-Boy oor na Uncle Boeta se huis toe. Hy en Lymie-Boy deel ‘n groot-genoeg kamer. Almal weet jy peuter nie met Lymie-Boy nie, want dan peuter jy ook met Christie-Boy, en niemand sal so ‘n silly ding wil doen nie. As hulle nie saans op die hoek is nie, is hy en Lymie-Boy agter die boeke in Boeta Ses se klein kantoortjie. Hulle werk net met die invoices wat hulle kry van taxi-base; nagklub-base; persoonlike lyfwagte; gangster-base, vir beskerming van die huise in die gangsters se gebied; en met verskaffers van dwelms.
Elke maand word daar geldpakke opgemaak volgens invoice soos van die verskillende verskaffers gekry. As Boeta Ses elke maand, sy uitbetalings, teen sy inkomste van vier huise op ‘n eenvoudige staat bestudeer, dan wys sy boeke ‘n verlies. Net sy eie plek toon die verwagte maandelikse wins.
Boeta Ses se probeem met sy boekhouding is: hy besit plekke soos sy eie een, in die Woodstock, ook op drie ander plekke op die Kaapse Vlakte. Sy huise is almal in singels, waar jy ingaan en uitkom by dieselfde plek. Sy huise is netjies, met hoë mure, of hoë vibracrete om, en elektroniese hekke wat tot hoog toe, toegemaak is. Bedags lyk die plekke netjies en onskuldig, soos larney-huise, maar saans kry die plek lewe soos die customers begin te inkom. Agter die hoë mure kan hulle gesellig verkeer sonder om gesteur te word. EIke huis het sy eie boekhouding. En dis net hier waar Boeta Ses se probleem lê. Die mense wat die huise, of die besigheid vir hom bestuur, bestuur dit elke maand teen ‘n verlies. Erens gaan sy geld verlore. Hy’t geen benul oor wat elke dag of aand by elke huis gebeur nie. Daarom het hy iemand gesoek wat kan somme maak.
‘Ons moet hulle skrik maak! sê Lymie-Boy. ‘Goed skrik maak! Somehow moet ons opkom met ‘n iets wat hulle bietjie kan trug druk! Hulle bly verniet daarsoe! Dis my pa se huise! Hy’tbetaal vir dit, en hy maintain dit ook nog vir hulle! Ek betaal elke maand die rates vir die plekke by die council!’
‘Ek het ‘n plan,’ kondig Christie-Boy eendag aan. ‘Jou pa moet vir hulle notice gee: hy soek ‘n minimum amount van hulle – elke maand! En – hulle moet hulle boeke betere hou, as nou! Elke Maandag sal daar inspection gehou word van die weekend se proceeds. Dan moet die boeke uitgehaal word! So nie, moet hulle die huise leegmaak, en jou pa kry ander landlords wat betere service vir hom kan gee! Jou pa moetie meer die business op so ‘n outydse style run nie! Hy moet die businees op harde business terms run! As jy nie performnie, kry jy ‘n warning! Dan, agter daai, nog ‘n warning! Agter daai, as daar nog’ie improvements is’ie, word jy ge-fire! Netsoos daai! Die mense in die huise respect nie vir jou pa nie!’
*
Die enforcer, en die chauffer staan eenkant, en luister stil as Christie- Boy, op sy stil manier, met die landlord van ‘n huis gesels. Die jong man, aangetrek soos ‘n jong sakeman, in ‘n snyerspak, met ‘n Stetson-hoedjie op, duur ringe aan sy vingers, is altyd hoflik, maar saaklik. Die huisbase kom gou agter dat niks sy oog ontglip nie. Sy vrae is altyd beleefd en deurdringend. As hy nie tevrede is met ‘n verduideling nie, sal hy aanhou vra, en later ‘n aantekening maak, om aan sy baas oor te dra. As hulle opstandig raak, sal hulle sien die jongman se gesig verstrak, en hy kyk vir hulle koud aan. Hy sal dan verduidelik waarom die nuwe manier van besigheid doen, en dat dit vir die baas belangrik is. Hy raai huisbase aan om enige ontevredenheid wat hulle mag hê, met die baas te bespreek. Hy werk, net soos hulle, vir die baas. Hy, net soos hulle, probeer maar om sy werk so deeglik as moontlik te doen. Die huisbase kry die boodskap: jy speel nie met die Christie-Boy man nie! Hy’s vrind’lik, maar hy lyk ook gevaarlik. Vir wat sal hy dan hierdie soort werk doen!
Die huisbase is ontsteld oor die nuwe manier van besigheid doen, en beskou Boeta Ses se optrede teen hulle as ‘n aanklag van wantroue in hulle. As Christie-Boy die boeke voor hulle oopmaak, en die syfers vir hulle wys, word hulle stil. Hy kan byvoorbeeld na ‘n sekere naweek verwys waar daar ‘n groot geleentheid in die Kaap was, en die taxi’s ten minste vyf vragte mense by daardie spesifieke huis gaan afgelaai het. En hulle het tot laat gekuier – sommige tot die volgende dag! Christie-Boy wys dan die taxi-eienaars se invoices vir daardie aand aan hulle. Hoe kan die opbrengste van die naweek, dieselfde wees soos vir ‘n stil naweek? Die huisbase luister stil na sy aanbevelings, en belowe plegtig om noukeuriger met hulle syfers om te gaan. En hulle het! Vir die ses maande wys Boeta Ses se boeke stewige winste. Hiervoor word Christie-Boy met ‘n bankrekening in sy naam vergoed. Vir elk van die ses maande word daar bedrae gelykstaande aan ‘n rekenmeester, in sy rekening geplaas.
Vir geleenthede waar die baas, saam met Christie-Boy, besoeke gaan aflê, is hy weer, soos ‘n jong sakeman, netjies uitgevat: duur pak en skoene, hemp en das, uit die Italiaanse winkels uit. Sy leersak vir sy skootrekenaar is van egte volstruisleer. Sy Stetson kom uit ‘n hoede-winkel in die Woodstock uit. Die winkel spesialiseer net in duur hoede uit die 1950’s se Mafia-tyd uit. Boeta Ses sê altyd vir hom, en vir Lymie-Boy,
‘As julle aantrek, nuh, maak’ie saak watse smart suit djy aanhet’ie; as djy nie ‘n kwaai skoentjie by daai aan het’ie, is djy nie gedress’ie, nuh? Dis’ie skoentjie war’it maak! Soe, koep vir julle decent klere as julle die slag uitgat om te shop! Djy loep’ie saam’e my, as djy majat kleertjies aan het’ie!’
Alex Marshall hails from Heidelberg in the Western Cape. He was a teacher at Trafalgar High School in District Six, whereafter he taught English at Masibambane High School in Kraaifontein. He was an activist for South African sports; has a great interest in history, and holds a master’s degree in Philosophy from UCT. Alex is passionate about reflecting on his community in his writing.