“Die Here sorg vir jou, Flora, al voel dit nie altyd so nie.”
Dis 1982 en Flora Beukes woon saam met haar pa Frans, ma Siena en drie jonger sibbe op die Myburghs se plaas, Vlakpoort, ‘n klipgooi ver van Keimoes.
Siena is bekommerd oor Frans wat heelnaweek saam met Jan Olyn langs die bierpotte deurbring en dan laataand soos ‘n besetene kom moles maak by hulle rietdakthuis. Sy is stilletjies besig om planne te maak om met die kinders na Springbok te verhuis. Maar net voor Kersfees word die gesin een nag tragies uitmekaargeruk. En die Beukes-kinders word aan hulle eie lot oorgelaat.
Flora voel verantwoordelik vir haar jonger broers en sussie se welstand, maar in die herberg op Doringvlei word die kinders se lewens nog verder omvergegooi. Voor Flora haar oë kan uitvee, bly sy alleen agter. Haar hart is stukkend, maar sy is vasbeslote om weer haar boeties en sussie onder een dak te kry en ‘n huis vir hulle te bou.
Engela Ovies se tweede roman is ’n hartroerende verhaal oor ’n dapper tienermeisie se liefde vir haar sibbe. Dit getuig van medemenslikheid, vergifnis en oorwinning – eerlik, deernisvol en opreg.
Bestel Flora deur Engela Ovies by goeie boek- en aanlynwinkels. Meer inligting op ons webtuiste: http://www.nb.co.za/af/view-book/?id=9780798182898
ISBN: 9780798182898
Epub ISBN: 9780798182904
Uitgewer:Human & Rousseau
Datum Vrygestel: Augustus 2022
Prys (incl. VAT): R 320,00
Formaat: Sagteband, 288pp
Engela Ovies is in 1968 gebore op Onseepkans, 'n klein dorpie noord van Pofadder in die Noord-Kaap, wat ook as grenspos aan die Namibiese grens dien. As derde jongste van nege kinders, bring sy dan ook haar skooljare hier op die walle van die Oranjerivier deur by Sint Philomena Rooms-Katolieke Skool. Elke dag, na sy van die skool af tuis gekom het, moes sy soos die ander kinders uithelp op die plaas waar hulle gewoon het. Sy woon tans op Noudonsies naby Augrabies saam met haar twee seuns, haar dogter en twee kleinkinders.
Vir Engela is skryf die manier waarop sy haar hartseer oor die dood van ’n suster, haar enigste broer en haar pa kort op mekaar kon uitdruk. Draairivier is Engela se debuutroman wat in 2020 verskyn het na afloop van die mentorskap wat sy van die Stigting, in medewerking met NB-Uitgewers, in 2019 ontvang het. In Draairivier word die deernisvolle verhaal van Suzanna, oftewel Sanna, Jansen se lewensloop in die eerste persoon vertel. Dis die Kersvakansie van haar voorlaaste skooljaar wat bepalend sou wees vir die jong meisie wat saam met haar ouers en haar broer Gert in ’n riethuisie op ’n plaas naby Kakamas bly. Wanneer Sanna die buurseun Johannes op die plaas raakloop, kry sy vlinders in die maag. En dan is daar haar vriendskap met die blonde, verlamde Inge wat soos die sprokie se slapende skoonheid ’n gevangene is in die “groothuis”. ’n Boeiende verhaal van die familiebande, liefde en vriendskap in Sanna se lewe word gaandeweg ontsluit en hou die leser aan die lees.
One thought on “Flora”
Wonderlike boek! Het dit baie geniet.