Love letters yt Chase Rhys se boek Misfit – stories vannie anne kant. Storie oorspronklik in Chase se Suikewate rubriek in Rapport gepubliseer.
“My ma gie dié.” Nana se kin staan by my voodee met ’n koevertjie, my naam is in fancy kursief daaop geskryf. Nana het gesê sy gan my ’n brief stuu toe ek haa vroeër vedag byrie restaurant gesienit, maa ek kannie gloe sy’t rêrag een geskryfie. Sy’t ôs vi lunch geinvite om te vier dat sy nou yteindlik fully vaxxed is. Ek was soe spyt dat ek haa affêre vroeg moes velaat, ek moes na ’n anne meeting toe gan en ek’t net genoeg tyd gehad om ’n Coke saam met Nana en haa susters te drink. Nana was genuinely geïntereseed in wat ommie tafel gesê is, selfs met ’n alkoholverbod hettie gesprek mooi gevloei. Ek het lanklaas in soe ’n lekke geselskap gesit. Nana hettie conversation geconduct soes ’n koormeeste. Sy bedye met haa mocktail se swart straw soes sy praat, “Die’s hoekô ek social media gedelete het, sien julle hoe lekke praat ôs nou. Mense sit meestal net hul prestasies online, soe wanne ek met hulle IRL (Innie Regte Liewe) praat, ken ek al hulle goeie nies. Dan is daa niks annes om oo te praatie behalwe die slegte dinge wat hulle nie op sosiale media sittie. Dit maak ’n mens moeg om anmekaa na anne mense se nega#tivity te lyste. Maa noudat ek niks mee van julle liewe aan#lyn sienie, is daa rymte om jul vreugde te diel en nie net jul hartsee nie.” Ek’t vi Nana gesê ek’t allie tyd gedink dat sy miskien ’n vals profiel asse Forex trader in Dubai het om haa voyeuris#tiese dors te les. Nourie anne dag het Nana vyf dysend vrinne en adminposisies op Facebook-gemeenskapgroepe van Ocean View tot Kampsbaai gehad. Som mense het gesê Nana is net bus, maa sy’t dai tyd asse social media butterfly geidentify. Nou sê sy die mense op haa friend lists het te familiar geraak. “Ek was soe overexposed an vreemdelinge se liewens, ek’t al beslyt wie en watte soot mense hulle is sonne om hulle ooit IRL te ontmoet. Ek’t hulle nie die geleentheid gegie om ienagge iets annes te wiesie. Die mensdom het boring begin raak, ek wou van ammel wegbly. Dai’t my bang gemaak, wan ek is mos allie pad ’n mens-mens. Innie laaste paa maane sonne sosiale media het selfs die veveligste mense my verras. Ek moes disconnect om reg te connect.” Ek’t vi Nana gevra of sy nie out of touch voelie. “Nee, my vrou is nog aanlyn, soe sy sal my wys of daa iets belangriks is wat ek moet sien. Noudat ek ingeënt is kan ek face to face gesels mettie mense met wie ek rêrag close is. Nana is coming to you live! Otherwise skryf ek briewe.” Ek was soe geïntrigue oo Nana se positiewe offline-erva#ring, ek’t tyd veloo om na haa te lyste en my volgenne vegade#ring ampe misgeloep.
Voodat ek my ytie restaurant gehaasit, het ek vi Nana vin#nag gevra, “Hoe kan ek jou innie hanne kry?” Sy’t gesê is fine, sy sal my ’n brief stuur. Maa ek hettie vewag dat sy dieselle aan vi my sou skryfie. Ek vattie envelope yt Nana se kin se hanne, en hou dit ’n oomblik tien my hart. Ek kannie onthou wanne laas ek ’n handgeskrewe brief ontvang hettie. Ek raak soema senti#mental, Nana is rêrag ’n ware vrin. Ek skeurie koevert vesigtag oep. Daas net een stuk papie binne, ’n lang till slip mettie restau#rant se naam bo-op. My R18.00 Small Soda is in neongeel highlighter ytgelig. “My ma wag vi dai,” sê Nana se kin.
Chase Rhys (1989) is a Cape Town novelist, columnist, playwright and screenwriter. Their debut book Kinnes won the K. Sello Duiker Prize and the kykNET-Rapport Prize in the film category in 2019. Chase’s second book Misfit – stories vannie anne kant, is a compilation of new and reworked stories from his Suikewate column in Rapport.
