‘n Rukkie later, daag twee jongmense in die dorpie by hul onderskeie huise op, stap reguit na hulle kamers toe, en maak die deur agter hulle toe. Die jong dame gooi haar op haar bed neer, en oudergewoonte bêre sy haar kop in die kussings, maar hierdie keer lê snik sy hard in die kussings: sy’t ‘n verskriklike, verkeerde woordkeuse gemaak. Sy moes nooit ‘n Engelse woord daar gekies het nie. Sy’t die woord op ‘n heel verkeerde tyd gebruik, en so ‘n groot gemors gemaak. Hoe kan sy dit regmaak, sonder om haar te verneder? Is dit moontlik om verskoning te vra, sonder om te voel jy verneder jouself? Sy hoef dit nie te doen nie, maar dan sal sy met ‘n skuldgevoel rondloop, en hom nooit weer in die oë kan kyk nie. Sy is nie so ‘n soort persoon nie – sy’s ‘n mens wat uitreik na ander mense! Sy help almal waar sy kan. Dis soos sy en haar ma is. Sy lê daar in haar kamer, en hoe meer sy aan ‘n uitweg dink, hoe meer besef sy, sy dink eintlik aan ‘n uitweg om Adam se vriendskap te behou. Sy’s die een wat verkeerd is. Hy reik altyd maar net uit na haar toe. Hy maak haar kwaad, en dan maak hy weer op, alles sommer so in een asem. Hy’s altyd beleefd, en as hy iets verkeerds sê, of doen, is hy gou om dit reg te maak, en sorry te sê. Hy sê baie keer iets verkeerds, maar erken dit dadelik, en maak dit reg – pleit somtyds om vergifnis. Die skoen is nou aan die ander voet- sy is verkeerd! Sal dit reg van haar wees om nie om verskoning te vra nie? Sy’t hom beledig – hom gesê hy kruip in haar in, vir vriendskap, en om gehelp te word met skoolwerk. Dit is glad nie reg nie. Hy is baie beter as sy in Engels. Sy kan net baat by sy ‘deal’. En so worstel Joani met haar gewete, en hoe om die ding reg te stel. Sy begin voel hoe langer sy neem om tot ‘n besluit te kom, hoe moeiliker sal dit wees.
Die jongman, weer, sit in sy kamer, met sy elmboeë op sy knieë, en sy hande voor hom in mekaar gewring. Adam se oumie wou nog gesels oor wat die meisie-kind met haar gepraat het, maar hy’t reguit kamer toe, gestap. Hy voel verslae. Die meisie met wie hy sou saam studeer, en wie se geselskap hy eintlik so geniet, het hom lelik laat verstaan hy dring hom op aan haar. Hy is nogal inwanted vir haar! Hy soek haargeselskap; hy soek haar help, meer as sy, syne! Dis mos lelik!
Die jongman stap later uit, agter toe, en gaan sit weer in die jaart, langs die tafeltjie – sonder boeke. Hy’s darem nie heeltemal lost met die Afrikaans nie, dink hy. Hy pass darem, maar sy punte is nie naby die punte van sy ander vakke nie, dit kan mens gou sien as jy na sy results kyk. So, as hy daar kan improve, dink hy, sal hy maklik in die top drie van die skool se matrieks kan maak. Dis ook sy plan met die Junie-eksamens. Daar wil hy ‘n kraak maak met die results! Dis hoekom hy all-out gaan met leer-werk in die tyd dat hulle so by die huis is. Hy wil vir hulle shock in June! So sit hy, toe die agterdeur se onderdeur, weer ‘n keer oop gaan, en Joani, weer ‘n keer, na hom toe aangestap kom. Hy staan vinnig van sy drommetjie af op.
‘I come in peace!’ is haar woorde, baie sag, en sy kyk hom verskonend aan, met haar kop laag, en oë wat onder haar wenkbroue na hom kyk. ‘Ek was baie onbeskof. Ek het iets baie leliks aan jou gesê. Ek kom net om verskoning vra. Dit pla my baie. Dit was ‘n verkeerde woord. Ek dink glad nie so nie.’
Dat sy daar voor hom staan, is die laaste ding wat Adam, van Joani Williams verwag het. Hy’t gedag en hy’t gehoop dat sy eendag sou besef dit was lelik om so iets vir enige iemand te sê. Tog, soos sy daar voor hom staan, met regterhand om haar linker bo-arm, weet hy dit moes baie gevat het, vir iemand soos sy, om trug te kom, om om verskoning te kom vra. Hy wil haar nie so sien nie.
‘Kom sit hier by my, assseblief, Joani. Relax! Ek is nie kwaad nie – nie meer nie.’
‘Maar sê eers jy aanvaar my verskoning!’
‘Ek aanvaar jou verskoning! Okay? Nou kom sit asseblief!’ en toe sy sit, lê hy met sy elmboog op die lendelam tafeltjie, en kyk na haar.
‘Joani! Jy’s ‘n groot meisie, al! Teen die tyd wietjy al, maar ek wil dit vir jou sê: ek wil net ‘n vrind wies van jou, want ek likesvirjou, Joani. Ek like van jou company, en dis hoeko’ ek tyd saam met jou wil spend, om die skoolboeke, dis al. Ek like van jou mind! Jy’s smart! Jy’s die smartste op die skool. Ek is bly ek het hie’ geko’ bly, want in ‘ie Kaap in, sal ek nooit ‘n iemand soes djy ge-meet ‘it ‘ie. Never! Daa’s ’ie sukke … ‘
Toe hy sien sy bly onderlangs na hom kyk, bly hy stil, en wag vir haar om te praat.
‘Adam! Wat wil jy van my hê! Ons is nog op skool! Ek ken nie boyfriends nie! Ek het nog …’
‘Yo! Stop it, Joani! Waa’ val djy nou uit? en hy sien hoe sy regop sit. ‘Ek wil net ‘n vrind van jou wies! Ek soek’ie om my hande op jou lyf te sit, of soe nie! Kyk hier, Joani, sê somma reguit vir my jy soek ‘ie my vrindskap nie, man! Moet’ie nog die en daai m’n my nie! Wat sukkel jy soe met dit? Ek kan mos sien …’
‘Jy sien niks, Adam! Ek vra maar net. Ek is nie seker …’
‘Ek sê mos nou vir jou: ek wil net ‘n vrind wies van jou! Wie’t gepraat van boyfriend? Nie ekke nie!’
‘Lyk my ek het weer iets verkeerd gesê! Ek gaan maarliewer! Ons verskil darem te veel!’
Toe stap sy kombuisdeur toe. Op die trappie, voor die kombuis deur, draai sy om:
‘Ek is Donderdag-oggend by die huis. As jy wil, kan jy kom. Ek het leeswerk,’ en toe gaan sy binnetoe.
Adam bly net daar bly sit. ‘n Paar oomblikke later hoor hy die hekkie se skarniere skree.
Toe hy later inkom, en sy kos op die stoof vat om warm te maak, sit Oumie reeds binne, in haar stoel, vroeër as gewoonlik. Wat moet hy vir haar sê? Sy sal tog sekerlik twee-en-twee bymekaar kan sit. Dit baat nie hy probeer haar sy-stap nie. Hy eet in die kombuis klaar, was op, en kom binnetoe.
‘Oe! Gaan jy ook nou begin te soapies kyk?’ vra sy oumie, sonder om na hom te kyk, ‘Maar jy’s te vroeg! My eerste een begin eers half.’
Die Oumie darem! Sy’t ‘n manier om haar ongemerk te hou! Sy weet goed daar’t weer iets gebeur, daar reg voor haar – twee keer! Maar dit is nie haar plek om te vra nie! So, sy sal maar wag! So bly hulle sit kyk, eintlik niks op die tv nie, net gepratery, en advertensies.
‘Is Oumie se klein-kind oraait?’
Toe staan Adam op, en soen sy Oumie op die wang ‘Nag, Oumie!’, en stap kamer toe. In die kamerdeur, draai hy om, en sê vir sy oumie:
‘Oumie se klein-kind werk aan dit, Oumie!’,
Sy oumie het net haar mond so effens opgetrek, en in die tv in ge-smile.
Twee oggende later, terwyl sy by die betaalpunt werk, hoor Joani die lokasie se vrouens in die ry, praat oor die lelike bakleiery wat die oggend daar in die lokasie was. ‘n Bakleiery het uitgebreek met ‘n vrinne jongkêrel wat daar geloop het. Hulle praat toe verder van die man wat so onder bloed daar in die strate op gestrompel het, daghospitaal se kant toe. Dit ruk in Joani se binneste: ‘Adam!’
Alex Marshall hails from Heidelberg in the Western Cape. He was a teacher at Trafalgar High School in District Six, whereafter he taught English at Masibambane High School in Kraaifontein. He was an activist for South African sports; has a great interest in history, and holds a master’s degree in Philosophy from UCT. Alex is passionate about reflecting on his community in his writing.
2 thoughts on “Deel 10 Uittreksel uit Joani-hulle, ‘n jeugverhaal”
Good morning,
This is a work in progress. The author is writing a chapter a week. So please follow. If you click on Alex Marshall’s name on the homepage, you will find all his stories.
Thank you for your interest
PHS