Christie en sy vrindjies woon in die Woodstock
Kort na sy pa se sterwe in die Kaap, het die huishouding rondom hom heeltemal verval, en hy’t hom skielik meeste van die tyd op sy eie bevind. Soggens was sy broodjie en koffie vir ontbyt op die tafel reg, met sy skoolbrood netjies toegedraai. Later het Mammie nie meer uit die kamer gekom om totsiens te sê nie. As sy saans by die huis kom, het sy net ‘n rukkie in die huis gebly, en dan begin regmaak om uit te gaan. Snags laat het sy ingekom. Hy kon haar hoor. Hy kon hoor daar was iemand by haar. Daarom kon sy nie soggens haar kamerdeur vir hom oopmaak om totsiens te se nie. Hy’t eers diep seergemaak gevoel,en bitterlik kwaad geword. Daarna het hy begin voel hy is net ‘n oorlas vir haar. Dit sal vir haar beter wees as hy nie daar is nie. Na maande het hy daaraan ook gewoond geraak. Vir hom was dit beter om op die straat saam met sy maats te wees. Soms het hulle in ‘n sy-straat voor een van die maats se huise sokker gespeel. Ander kere het hulle op die hoek van Main Road, Woodstock – net rondgestaan, gesels, en mense en karre ge-watch. Op daai hoek was daar elke dag iets nuuts en iets interessants. Hulle was nie net boys nie; girls het ook saam met hulle op en af in die Main Road, Kaap toe en trug beweeg. Net die meisies het nie gerook nie. Onder hulle was daar Shaafika – beautiful; tomboy.
Christie en sy vrindjies woon in die Woodstock-omgewing, en gaan daar skool ook, terwyl die meeste leerders soggens van die Kaapse Vlakte af, in reis Kaap toe. Die meeste van hulle ouers het destyds in die Distrik Ses gewoon, en glo die gevestigde skole in die Kaap is beter ingerig as die skole van die Kaapse Vlakte. Baie dae gaan die boys saam met Lymie, Boeta Ses se laaitie, huistoe. Hulle yard is in ‘n systraat as hulle van die Main Road af stap, en dadelik weer links draai, parallel met die Main Road. Daar draai hulle in ‘n gangetjie af, en gaan in by die deur wat op die gangetjie oopmaak. Jy klop, en moet ‘n antwoord gee voor daar oopgemaak word. Dan’s hulle in die yard waar daar mense rond staan. Orals is klein tafeltjies, sommige met biere en goed op, heel netjies eintlik. Lymie-Boy bring dan toebroodjies, vleis en koeldrank, en hulle sit dan eenkant en eet eers lekker voor hulle weer by dieselfde deurtjie uit gaan. Orals in daai buurt is sulke gangetjies wat van die een straat na die ander straat lei. Maar hierdie gangetjie is bekend oor die wêreld heen – onder matrose van verskillende lande; op verskillende bote, wat so elke drie of vier maande by die Kaapse hawe aandoen. En in hierdie yard is daar altyd gaste. Hulle kan oorbly, want daar is kamertjies wat op die yard uitloop, netjies en klinies skoon, want Boeta Ses is ‘n man wat gesteld is op goeie diens aan sy kliente.
Eendag kom hou Boeta Ses by sy seun se maats stil, op die hoek, met sy groot BM. Hy is ‘n vrindelike man wat altyd met die jongspan skerts, en spot, sodat almal lekker lag. Hulle hou van Boeta Ses.
‘Wie onder julle is die ghoen in die maths en in die accounts? Ek soek ‘n slim iemand wat vir my, en my seuntjie so nou en dan kan ko’ help met my boeke. Niks swaa’ nie! Net iemand wat accurate is met figures. Julle tjommie, Lymie-boy hier, doen my boeke, maar ek soek nog so ‘n iemand. Niks swaa’ nie; net iemand wat darem weet hoe om ‘n simpel income en expenses boek vir my te hou.’
En dis hoe Adam by Boeta Ses se besigheid betrokke raak. Boeta Ses roep hom na ‘n paar weke in sy huis se voorkamer in – leerstoele en dik wolmatte net waar jy kyk. Boeta Ses hou van Adam; die laaitie doen goeie werk vir hom – vir amper niks nie.
‘My klong, jy’s amper elke dag hier. Wat sê jou Mammie-hulle by die huis?’
‘My ma worry nie oor my nie, Uncle. Sy’s amper nooit in die huis in nie. As sy in die huis, bly sy agter daai toe kamerdeur. Sy praat nie meer so baie met my nie. Sy weet nie eers watter grad is ek in nie. Ek’s so te sê op my own in daai huis, Uncle Boeta.’
Nie lank hierna nie, trek Christie oor na Uncle Boeta se huis toe.
Alex Marshall hails from Heidelberg in the Western Cape. He was a teacher at Trafalgar High School in District Six, whereafter he taught English at Masibambane High School in Kraaifontein. He was an activist for South African sports; has a great interest in history, and holds a master’s degree in Philosophy from UCT. Alex is passionate about reflecting on his community in his writing.