Die lewe is soos een groot wedloop waar jy die atleet is. Met die wenpaal voor oë moet jy hardloop so hard as wat jou krag en fiksheid jou toelaat.
Ek het oor die vyf dekades se winters agter my blad. My siening van die lewe is nie oppervlakkig nie.
Die wedloop van die lewe is besaai met so baie distels en dorings. Met kronkelpaaie en ongure weer. Wat ek bedoel is eenvoudig al jou life losses, challenges, obstacles en gewigte wat swaar om jou bene of op jou skouers hang. Die lewe het nie net sonskyn beloof nie, maar ook reën. Hoe vat jy dit vir jou? Laat jy toe dat alles wat jy ontbeer die positief oorskry?
Sou jy verkies om in ’n bollinkie te gaan sit en jouself te bejammer?
Nee, stellig nie! Die atleet se krag en fiksheid hang af van sy lewensuitkyk.
Om jou fokus op die kleiner dinge te hou; dinge wat lyk dis net met die verbygaan. As jy van nader kyk, sal jy sien hoe kosbaar dit eintlik is. Baie sal vra: Watter vreugde is daar?
Te véél, sê ek jou!
Ons oë wat die skeppingswerk van ’n Vader kan aanskou … die blou hemel op sonskyndae of die grys en nat van die winter. Skaterlag oor die parmantige suidoostewind wat die dames se rokkies ouderwets opwaai en oor diegene wat moet vasklou aan ’n paal of wat ook al om nie weggewaai te word nie. Om die haan se gekraai te hoor soos dit ’n nuwe dag aankondig of die gekwetter en kwê van voëltjies wat baldadig in die bome tekere gaan. Die ou omie wat liefderyk die tannie se gekreukelde wang streel terwyl hulle met wedersydse glimlaggies geheimpies verklap van ’n steeds jong natuur. Die seuntjie wat met vet beentjies nader hol om die pakkie snoepery by jou te vat. Selfs jou geslagte se groei en hoe jy die bloedlyn sien loop.
Elke asemteug wat jy gee is ’n teken van die genade aan jou toevertrou om nog ’n dag hier op aarde te wees. Is dit nie genoeg om voor dankbaar te wees nie? Moet die vreugde van gewaarwording jou nie daardie lekker gevoeletjie op die krop van jou maag gee wat jou soos ’n skoolkind wil laat giggel van dankbaarheid nie? Jou bevoorreg laat voel nie?
Fiksheid van die atleet is die feit dat jy verkies om in alles dankbaar te wees. Dit verhoed dat jy platval in stryd en moed opgee. Vandag het ons berge van bekommernis, pyn en lyding voor ons, maar dis die geskenkpakkie van ’n môre wat ons hoop gee. Juis omdat ons nie weet wat môre vir ons bring nie, moet ons nuuskierig wees en volhard, want môre bring dalkies die oplossing.
Verder sien ek dat vreugde net opreg kan wees as jy as mens jouself verloor. Wat ek bedoel is: vergewensgesindheid. As iemand iets aan jou doen, hetsy familie, vriende, bure, die liefde van jou lewe, ens. is dit na my mening verreweg die beste om te vergewe. Dink daaraan: As jy met daai wrok, haat en kwaad in jou binneste rondloop, hoe sal jy in staat wees om die vreugde van die lewe ten volle te benut? Sodra jy jouself toelaat om aan die negatiewe te dink, stoot dit so baie emosies in jou hart op dat jy die mooi van die lewe deur wasem sien. Jy allow dus jouself om verteer te word deur gevoelens, want soos hulle sê, jy bly bad luck. As jy dit laat gaan, sal jy meer vrede op jou bors en in jou binneste voel. Jou oog sal absoluut niks mis wat mooi en positief is nie. Dis die krag wat die atleet wenstreep toe stoot.
Die vreugde van die lewe is om jouself te allow om deur alles en nog wat dankbaar en gelukkig te bly. Dit maak jou lewensreis makliker, tot eendag as jy jou ogies die laaste keer sluit … Dan het jy jou lewe voluit geleef en is jou wedloop voleindig.
Susan Meiring is gebore te Klawer in die Vanrhynsdorp-distrik, het grootgeword in Retreat en woon tans in Delft. Haar skrywersloopbaan het in 2012 afgeskop toe ʼn plaaslike koerant van haar kortverhale geplaas het. In 2016 is haar eerste Afrikaanse fiksieboek Dogters van die Sahara (Reach Publishers) gepubliseer. Haar tweede boek Tiaan en die Jagtersbende (2018) is deur ʼn ruim skenking van die Nasionale Biblioteek van Suid-Afrika moontlike gemaak. In 2020 word hierdie boek gekies vir die Funda Mzantsi-kampioenskap, waaraan talle boekklubs jaarliks deelneem. Sy is tans ook ʼn vryskutredigeerder en -veldberiggewer. Hierdie ondernemende ma en ouma leer graag basiese Khoesan woorde en klikke vir die jongspan sodat hulle hul erfenis kan behou. Sy sien die geleentheid om die Kommadagga-slypskool by te woon as kardinaal vir haar skrywerstoekoms: “Die waardevolle leiding sal my help om my potensiaal ten volle te ontwikkel. Ek glo dat my toekomstige skryfwerk, hetsy boeke of kortverhale, daarvan sal getuig. Baie dankie aan almal wat dit vir my moontlik maak om op hierdie manier gebrei te word.”