Sonder ’n taal het jy geen identiteit nie. Dit is jou herkoms en waar jou voorsate vandaan kom. Jy word groot en jou eerste woorde is die tong van jou ouers, groot ouers, ensovoorts. Jy groei op en kry jou eie kinders en leer dit weer vir hulle. Soos die jare aanstap word jy ouma, oumagrootjie, en die siklus draai, met die taal wat jy weer in húl monde gesit het … en so gaan dit aan en word elkeen gebore in sy/haar identiteit.
Hier is die storie van hoe ek op 45jaar oud eers agtergekom het die tale wat ek kan praat is nie my eie nie. Ek het gaan rondkrap en met skok besef dat die pad waarop ek is, nie myne is nie. Dis tóé, dat die begeerte om my identiteit te ontdek, by my posgevat het. Maar stap so bietjie saam met my en luister na my storie en waar dit my gebring het …
Ek het myself geskaar by diegene wat hard werk om die Khoesan tale vorentoe te stoot. Denver Toroga en Jeffrey Qarasib Hotagob was altyd beskikbaar om ’n helpende hand te gee. Hulle het skryf materiaal, videos en selfs persoonlike voicenotes gestuur om my aan te help.
Om Khoekhoegowab te praat, wou ek met alle geweld. Dis mos darem my Mamas Gowab/Moedertaal, het ek tydens ’n Indigenous Festival by die Kasteel in Kaapstad, gehoor. Ek was verstom oor die sad story van melee. Who would have known dat ek netjiese tale praat wat nie myne is nie. Hier probeer ek om dit tog so perfek te praat en skryf … die vreemde tale wat ingang in my abogan/voorouers se monde gevind het. Hul Mama Gowab netjies uit hul monde gewas met jik of nee ek dink nou aan acid. ‘Cos niks het daarvan oorgebly nie. Is dit nie in ons monde nie, daarom ken ons dit nie.
Lees verder hier:
Susan Meiring is gebore te Klawer in die Vanrhynsdorp-distrik, het grootgeword in Retreat en woon tans in Delft. Haar skrywersloopbaan het in 2012 afgeskop toe ʼn plaaslike koerant van haar kortverhale geplaas het. In 2016 is haar eerste Afrikaanse fiksieboek Dogters van die Sahara (Reach Publishers) gepubliseer. Haar tweede boek Tiaan en die Jagtersbende (2018) is deur ʼn ruim skenking van die Nasionale Biblioteek van Suid-Afrika moontlike gemaak. In 2020 word hierdie boek gekies vir die Funda Mzantsi-kampioenskap, waaraan talle boekklubs jaarliks deelneem. Sy is tans ook ʼn vryskutredigeerder en -veldberiggewer. Hierdie ondernemende ma en ouma leer graag basiese Khoesan woorde en klikke vir die jongspan sodat hulle hul erfenis kan behou. Sy sien die geleentheid om die Kommadagga-slypskool by te woon as kardinaal vir haar skrywerstoekoms: “Die waardevolle leiding sal my help om my potensiaal ten volle te ontwikkel. Ek glo dat my toekomstige skryfwerk, hetsy boeke of kortverhale, daarvan sal getuig. Baie dankie aan almal wat dit vir my moontlik maak om op hierdie manier gebrei te word.”