Die Jakes Gerwel Stigting se Paulet Huis in KwaNojoli (Somerset Oos) in die Oos Kaap, is soos ‘n kraamafdeling waar skrywers van alle formaat gebore word. Skrywers is swanger met hul skryftalent en deur middel van residensiële mentorskap, word geslypte skryfkuns gebore. Ek was bevoorreg om deur die bekwame hande van Fourie Botha en Thabiso Mahlape geslyp te word.
Paulet Huis skep die atmosfeer wat enige aspirant skrywer oor droom. Wat egter vir my uitgestaan het, was die feit dat die tempo en druk van daaglikse verantwoordelikheid uit ons hande geneem was, om tyd vir skryf te skep.
Die lieflike persone, soos aangewys op die foto’s het baie mooi na ons omgesien. Hulle het soos ‘n moederhen oor haar kuikens, die gewig van huistakies, hetsy binne of buite, gedra sodat ons slegs op ons skrywe kon fokus.
Die leer proses was intens, maar baie fantasties! Ek stap hier weg met dieper kennis en insig.
Baie dankie aan Theo Kemp en al die pioniers wat Professor Jakes en Phoeboe Gerwel se nagedagtenis lewendig hou.
Susan Meiring
Spyseniering en vervoer: Sjef Gilbert en sy seun Nash
Huishouding: Sienna en Charmaine
Tuinaanleg: Donovan
Susan Meiring is gebore te Klawer in die Vanrhynsdorp-distrik, het grootgeword in Retreat en woon tans in Delft. Haar skrywersloopbaan het in 2012 afgeskop toe ʼn plaaslike koerant van haar kortverhale geplaas het. In 2016 is haar eerste Afrikaanse fiksieboek Dogters van die Sahara (Reach Publishers) gepubliseer. Haar tweede boek Tiaan en die Jagtersbende (2018) is deur ʼn ruim skenking van die Nasionale Biblioteek van Suid-Afrika moontlike gemaak. In 2020 word hierdie boek gekies vir die Funda Mzantsi-kampioenskap, waaraan talle boekklubs jaarliks deelneem. Sy is tans ook ʼn vryskutredigeerder en -veldberiggewer. Hierdie ondernemende ma en ouma leer graag basiese Khoesan woorde en klikke vir die jongspan sodat hulle hul erfenis kan behou. Sy sien die geleentheid om die Kommadagga-slypskool by te woon as kardinaal vir haar skrywerstoekoms: “Die waardevolle leiding sal my help om my potensiaal ten volle te ontwikkel. Ek glo dat my toekomstige skryfwerk, hetsy boeke of kortverhale, daarvan sal getuig. Baie dankie aan almal wat dit vir my moontlik maak om op hierdie manier gebrei te word.”