Die pad na Sareen is hobbelrig en laat die ou rammelkas op-en-af wip. Vir Justine Phillips is dit nie ’n probleem nie. Haar terugkeer na haar tuisdorp is al wat saak maak. Op vyf-en-twintig, is sy bly vir die blaaskans. Die lewe in die stad is verskriklik vinnig met geweld wat hooggety vier.
“Hoe het ek die ou pad verlang.” Dink sy weemoedig. Sy onthou hoe sy en haar pappa altyd met die ou Chevvy dorp toe gery het vir inkope. “Nou lê jy in die kerkhof onder die sipresbome, Pappa, langs Mamma.”
Dit is al sterk skemer, maar Justine ken die pad soos die palm van haar hand. Sy loer ingedagte in die truspieëltjie en kry hoendervleis toe sy die vrou in die pad sien staan. “Grote genade, wat soek sy die tyd van die aand op straat?” Sy verminder spoed en wonder nou skrikkerig of sy moet help. Netnou wag haar samesweerders iewers in die bossies. Die pad is hoeka afgesonderd met bome aan weerskante. “Hemel, wat moet ek doen?” Die vrou kom val-val nader en gee Justine nie ’n opsie as om maar stil te hou en te trurat nie.
“Is jy oukei, kan ek jou help?” Vra sy bangerig deur die venster. Die meisie lyk gehawend. Haar voete is kaal en haar bene is vol krapmerke.
“Ha… hallo?” Sy steek haar hand hulpsoekend na Justine toe uit.
“Hoekom het ek nou nie die dekselse pepersproei saamgebring nie? Mens kan niemand deesdae vertrou nie.” Is sy nou vies vir haar onverskrokkenheid. Sy skreef haar oë en bespied al die areas rondom hulle.
Die meisie kruip nou hande-vier-voet nader en maak snaakse geluide. Justine klim uit en kyk weer angstig rond.
Toe die vrou by Justine kom, gryp sy haar styf om die enkels en begin hortend huil, “Help my net asseblief. Maak gou, hulle kom!”
Die meisie se sagte hulpkreet laat Justine lewe kry. Sy lig haar op en sit die maer arms om haar nek. “Kom, probeer regop bly. Ek sal jou help.” Hulle strompel terug kar toe. Justine maak die passassiersdeur oop en laat die vreemdeling se lyf op die sitplek sak. Sy loer nog ’n keer eers vinnig rond, sak af en swaai die bebloede bene na binne en maak die deur saggies toe. Met haastige drafstappie, is sy ook in die kar en sluit onmiddellik al die deure voor sy dit aanskakel en met spoed wegtrek. Sy loer heeltyd in die truspieëltjie en sien in die verte swart figure in die pad.
“Wat is jou naam? Hoe kom jy hier?” vra sy die meisie sonder om na haar te kyk.
“Steph… Stephanie Meyer.” Haar stem klink lewens moeg.
“Hoekom lyk jy so? Was jy ’n gevangene of ontvoer of iets? Ek ry nou reguit polisiestasie toe. Daai mense soek jou en hulle het my gesien… my kar ook. Ek sal dit moet rapporteer, want môre kom ontvoer hulle my ook of maak my seer of iets.”
Die impak van die hele storie slaan haar hard teen die bors. Justine weet sy is ook nou in lewensgevaar. “Ek kon haar nie net daar los nie.” Baklei sy met die stemmetjie in haar kop. “Pappa, ek mis jou. Jy sal nou presies geweet het wát gedoen moet word.” Sy kyk na die meisie langs haar wat nou in rustelose slaap verval het. “Sowat, vir vrede en rustigheid. Het ek nou die stad saam my gebring?” Sy sug verlig toe sy haar huis sien.
“Hello, jy moet wakkerskrik, ons is by my huis.” Sy skud die tenger lyf saggies.
“Jammer ek het sommer net aan die slaap geval. My liggaam is moeg en tam van sukkel om weg te kom.” Sy lyk meer in beheer van haarself toe sy self uitklim, maar baie stadig deur toe stap.
Justine maak die garage se deur toe en sluit die middeldeur na die kombuis toe oop. “Is jy honger? Makeer jy enige mediese hulp?” Sy skakel die ligte aan in die gesels.
“Ek voel verskriklik vuil.”
Justine sien nou eers hoe mooi sy lyk. Die meisie is bruin met half gryserige oë. Aan haar liggaamsbou kan Justine sien sy is erg ondervoed.
“Oukei, ek tap gou water in en sit vars klere vir jou in die badkamer. Maak jou maar tuis vir eers Stephanie. Laat ons sorg dat jy jou kragte bymekaar kry dan vertel jy my alles. Sy gaan slaapkamer toe en soek tussen haar klere na iets wat die meisie sal pas. Daarna gaan tap sy ’n lekker warm bad water en gooi genoeg badsout in. “Laat ek gou iets gaan aanmekaar slaan, terwyl Stephanie haar bad”
Sy onthou van die diep krapmerke aan die meisie se bene. “Die wonde moet ontsmet word.” Justine haal die klein noodhulpkissie onder uit die medisynekas en stap kombuis toe.
“Die badwater is… “ Justine frons toe sy niemand in die kombuis sien nie. “Waar is die meisiekind dan nou heen?” Dink sy benoud en plak die noodhulpkissie op die kombuisblad. Sy hardloop deur die huis en roep ontsteld na Stephanie, maar ’n doodse stilte hang oor die huis. “Liewe genade! Het sy weggehardloop?” Sy sluit die voordeur en veiligheidshek oop en draf met vinnige hale om die huis…
Daar’s niemand.
“Het daai skurminkels haar nie meskien stilletjies kom gryp nie?” Die sweet tap haar later af soos sy weer van voor af die jaart en huis fynkam.
Met droë keel, gaan sy later kombuis om water te drink. “Wag, laat ek eers al my varkies op hok kry. Sy moet net hier iewers wees. Miskien vertrou sy my nie en steek haar weg in die huis. Laat ek maar weer soek. Foeitog, sy is regtig baie bang.” Justine voel hartseer oor die meisie se trauma en begin maar weer die huis deursoek. “Ha ah, hier’s niemand nie.” Sy sak moeg op die rusbank en onthou sy’t nie die deur en hek gesluit nie. Sy vlie op en maak dit met bewende hande toe.
“Wat het van haar geword? Ek gaan polisie toe. Nog nooit gaan ek dat daai gedruis my stil-stil uit my huis kom ontvoer of seermaak nie.” Vrees pak haar beet as sy dink aan die gestaltes in haar truspieëltjie. Sy gryp haar karsleutels en loop deur die kombuis om in die motorhuis te kom. “Ek kan nie hier weg gaan nie, netnou kom sy terug.” Dink sy benoud.
Die honger begin knaag en sy besluit om ’n jam en peanut butter broodjie te maak. “Die paar kruideniersware wat ek in die Kaap gekoop het is nog in die motor.” Sy gaan haal dit gou en kort-voor-lank eet sy die broodjie. Daarna pak sy gou die goedjies in die kaste weg en stap deur kamer toe. Justine aanvaar die meisie het haar oorgegee aan die vrees om weer gevange geneem te word en pad gegee.
Sy draai haar kop skeef toe sy ’n geluid in die badkamer hoor. Dit klink soos iemand wat was! Die gesplash van die water duidelik hoorbaar en ’n sagte stem wat neurie. Haar lyf kry onmiddellik yskoud… elke haar op haar liggaam staan penorent!
Susan Meiring was ’n deelnemer aan die 2023 Kommadagga slypskool by Paulet Huis in KwaNojoli in die Oos-Kaap.
Susan Meiring is gebore te Klawer in die Vanrhynsdorp-distrik, het grootgeword in Retreat en woon tans in Delft. Haar skrywersloopbaan het in 2012 afgeskop toe ʼn plaaslike koerant van haar kortverhale geplaas het. In 2016 is haar eerste Afrikaanse fiksieboek Dogters van die Sahara (Reach Publishers) gepubliseer. Haar tweede boek Tiaan en die Jagtersbende (2018) is deur ʼn ruim skenking van die Nasionale Biblioteek van Suid-Afrika moontlike gemaak. In 2020 word hierdie boek gekies vir die Funda Mzantsi-kampioenskap, waaraan talle boekklubs jaarliks deelneem. Sy is tans ook ʼn vryskutredigeerder en -veldberiggewer. Hierdie ondernemende ma en ouma leer graag basiese Khoesan woorde en klikke vir die jongspan sodat hulle hul erfenis kan behou. Sy sien die geleentheid om die Kommadagga-slypskool by te woon as kardinaal vir haar skrywerstoekoms: “Die waardevolle leiding sal my help om my potensiaal ten volle te ontwikkel. Ek glo dat my toekomstige skryfwerk, hetsy boeke of kortverhale, daarvan sal getuig. Baie dankie aan almal wat dit vir my moontlik maak om op hierdie manier gebrei te word.”
