A place where stories unfold

Storie-idees vlerke te gee

As ek aan die Karoo dink, dan dink ek aan die oopte van die natuur, die sonsondergange, die stilte, die aardsheid van mense. Wat kan meer perfek as die Karoo wees as jy wil skryf? Voeg daarby die pragtige Paulet Huis, twee bekroonde skrywers as mentors, vyf opkomende skrywers en jy het klaar ‘n storie-idee.

As ‘n mens voltyds werk, dan moet jy tussen die gejaag tyd afknyp om te skryf. En selfs wanneer jy dan skryf, sukkel jy. Ek hoop om in hierdie drie weke met die hulp van ons mentors in die rustigheid van Somerset-Oos en Paulet Huis my storie-idees vlerke te gee sodat volwaardige stories met interessante en geloofwaardige karakters daaruit kan ontwikkel, verhale wat lesers na vreemde tye en plekke sal wegvoer.  Ek hoop ook om by die ander deelnemers te kan leer.

Mense se stories inspireer my. Vandat ek skryf, is dit asof ek fyner na mense se persoonlike ervarings luister, soms is dit interessante name wat ek hoor, dan dink ek hierdie naam moet ek in ‘n storie gebruik. Gevestigde skrywers inspireer my ook, ek het ‘n punt daarvan gemaak om skrywers deel van my “vriendekring” op sosiale media te maak, want ek wil ook eendag oor ‘n nuwe romanse kan spog. Gunstelingskrywers soos Eleanor Baker se boeke inspireer my ook. Die humor in haar verhale is fyn en subtiel en ek geniet dit. Deon Meyer het gesê ‘n mens kan nie vir die muse wag om te begin skryf nie, want dan gaan jy lank wag. Jy moet doodeenvoudig gaan sit en skryf. Dit het my inspireer.

Ek geniet dit om kortverhale te skryf omdat dit ‘n kort vertelling is. Jy val dadelik met die aksie weg en daar is nie plek vir lang beskrywings nie. Ek sal ook later ‘n liefdesroman wil aanpak.  

Vandat ek in 2021 begin skryf het, is ek gedurig op die internet opsoek na idees en skryfwenke wat my skryfwerk kan bevorder. Ek het aan die einde van 2021 op Litnet van die slypskool gelees en dadelik besluit om navrae te doen. Theo Kemp het vir my inligting gestuur en gesê die datums sal later in 2022 aangekondig word. Ek het aansoek gedoen en my vingers gekruis gehou. Ek is dankbaar dat ek uit meer as sestig aansoekers gekies is.

+ posts

Esmé Cupido is in 1972 op Clanwilliam gebore, en sy is een van vyf kinders. In haar ouers se slaapkamer was ’n houtboekrak waarin Westerns, Heinz Konsalik-romans en liefdesromans gepryk het. Esmé het haar liefde vir lees by haar pa geërf, en as laerskoolkind het sy dié boeke verslind. In standerd vyf, toe sy die eerste keer toegang tot ’n biblioteek gekry het, het Esmé jeugreekse soos Saartjie en Die uile ontdek. Esmé het op Malmesbury gematrikuleer en ’n BA en HOD aan die Universiteit van Wes-Kaapland behaal, waarna sy op verskeie dorpe skoolgehou het. Vandag is sy ’n onderwyser in Mitchells Plain, getroud met Malcolm en die ma van ’n 20-jarige dogter. Kortverhale en rubrieke uit haar pen het al in Kuier en Son verskyn.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *