“Alles was in plek. Sy ma sou hier kom bly. Sy is mal oor Josephine en Josephine is mal oor haar, maar daar loop en val sy haarself half disnis. Sy nou met geskeurde ligamente in haar voet en hy het minder as 48 uur om iemand in haar plek te kry.”
Lees verder hier:
Esmé Cupido is in 1972 op Clanwilliam gebore, en sy is een van vyf kinders. In haar ouers se slaapkamer was ’n houtboekrak waarin Westerns, Heinz Konsalik-romans en liefdesromans gepryk het. Esmé het haar liefde vir lees by haar pa geërf, en as laerskoolkind het sy dié boeke verslind. In standerd vyf, toe sy die eerste keer toegang tot ’n biblioteek gekry het, het Esmé jeugreekse soos Saartjie en Die uile ontdek. Esmé het op Malmesbury gematrikuleer en ’n BA en HOD aan die Universiteit van Wes-Kaapland behaal, waarna sy op verskeie dorpe skoolgehou het. Vandag is sy ’n onderwyser in Mitchells Plain, getroud met Malcolm en die ma van ’n 20-jarige dogter. Kortverhale en rubrieke uit haar pen het al in Kuier en Son verskyn.