Vrye Weekblad: ’n Hartshuis vir skrywers

THEO KEMP is dalk net Afrikaanse letterkunde se ridder op ’n wit perd. Hy sal bloos en hierdie woorde heftig ontken, maar in sy pos as uitvoerende direkteur by die Jakes Gerwel-stigting is hy besig om ’n stewige stroom nuwe stemme tot by publikasie te kry.

Hy sit nie en worstel met die vraag of jy regtig iemand kan leer skryf nie.

“My werk vra om skrywers te onderskraag, om nuwe stemme te help koester, om mense te laat besef dat wat hulle het om te skryf, belangrik is om gelees te word. Vir hulle wat vasbyt, verbete veg, dikwels teen groot stoornisse waarvan ek nie in my wildste nagmerries kan droom nie, vir hulle plaas ek graag op ’n pedestal.”

Kemp is vir hierdie werk in die wieg gelê, die perfekte kombinasie van dromer en doener: programbestuurder by die Woordfees, reklamekoördineerder by NB-Uitgewers, programbestuurder by die KKNK, organiseerder van die Literatuurfees by die Vrystaatse Fees en 10 jaar lank bestuurder van die Breytenbach-sentrum in Wellington.

Min mense verstaan die landskap beter, en min is liewer vir die geskrewe woord.

Sy meestersgraad in kreatiewe skryfkunde in Stellenbosch aan die voete van Marlene van Niekerk kom ook handig te pas. Hy is self ’n bekroonde skrywer en verstaan deeglik wat dit verg om ’n idee te ontwikkel tot by ’n gepubliseerde werk.

Hy het twee romans op sy kerfstok, Skool en Strafjaart.

Nooit op voorblaaie nie

“Dis so ontsaglik bevredigend om met skrywers te werk. Hulle is meestal so afgeskeep; so aan die agterspeen. Hulle is nie celebrities nie en nooit op voorblaaie nie. Hulle is maar te bly as iemand hulle uitnooi vir ’n boekgesprek en hoop iemand koop ’n boek.”

Om daardie belegging in ’n enkele mens te maak, kring uit na gemeenskappe wat smag na rolmodelle; wat kan sien dat daar hoop is, vertel Kemp.

“Daai belegging maak die verskil, want dit gaan oor meer as net die een skrywer. Dit gaan oor die herstel van menswaardigheid, en dit gebeur nie in groot getalle nie. Dit is nie meetbaar nie. Onthou, ons werk met mense wat dikwels kom uit blootstelling aan aanhoudende trauma en nimmereindigende geweld, uit die diepe gevoel van verontregting en uitsluiting.”

Net in die afgelope jaar is alumni soos Audrey Jantjies, Dianne du Toit Albertze, Kirby van der Merwe en Loit Sôls benoem vir gesogte boekpryse.

“Kyk, die Suid-Afrikaanse literatuur is steeds nie naastenby verteenwoordigend van alle gemeenskappe nie. Dit sien jy raak, jaarliks, in die kortlyste van gesogte pryse, onder meer,” sê Kemp.

“Ons wil skrywerspotensiaal ontsluit, geleenthede bied vir skrywers wat dikwels nie die geleenthede gehad het nie. Dit doen ons deur mentorskapprogramme aan te bied in die verskillende genres – fiksie (romanskryf), niefiksie (meestal memoires), drama, kortverhale en vanjaar skep ons ’n bykomende program vir opkomende draaiboekskrywers.”

Vir skrywers wat reeds gevestig is, is daar ook ’n tuiste binne die stigting.

Stilte en fokus

“Vir hulle wil ons die stilte bied, daai fokus, om net te kan skryf. Dit is daai tipe residensies wat ek bedink het, eintlik omdat ek weet hoe smag ’n skrywer na stilte. Alle vorme daarvan.”

Oor minder as ’n maand betree die suksesvolle aansoekers vir die 2023-skrywersresidensie van die Jakes Gerwel-stigting en PEN die stigting se Paulet Huis in Somerset-Oos in die Oos-Kaap. Vir drie weke kan hulle uitsluitlik op hul skryfwerk fokus. Die gekose inwoonskrywers is vanjaar: Gaireyah Fredericks en Tertius Kapp (PEN Afrikaans), Zubeida Jaffer en Kirsten Dean (PEN Suid-Afrika), Temwani Mgunda (PEN Malawi) en Christoph Nix (PEN Duitsland).

Kemp weet ook goed dat blootstelling op ’n jong ouderdom ’n belangrike rol speel: “Die ander been waarop ons staan, is om jongmense en kinders te onderskraag. Ons het ’n boekeprogram waarmee ons jaarliks 3 000 kinders in Somerset-Oos en die omliggende dorpe bereik. Ons gee vir hulle splinternuwe boeke uit eie bodem geskep, boektasse wat ’n gemeenskapsorganisasie op die Kaapse Vlakte maak, en neem ’n poppekasproduksie na die skole.”

Hulle praat nie, hulle doen. En die suksesse is besig om op te stapel.

“Ons het vanaf 2019 10 debuutskrywers gehelp publiseer. Dalk klink dit na min, maar dit is harde werk en van die skrywers kom uit omgewings waar daar nie gelees word nie, waar daar nie toegang is tot biblioteke nie, en waar die blootstelling min is. Oor die 20 toneelstukke is al op die planke gebring; van ‘ons’ skrywers is nou gereelde bydraers virNetwerk24 en skryf vir Huisgenoot, of is besig met hulle tweede of selfs derde boeke,” sê Kemp.

Paulet Huis in Somerset-Oos is die geestelike tuiste vir die stigting en sy werksaamhede.

Lord Charles Somerset

“Paulet Huis is ’n statige dame. Dit is ongeveer 200 jaar gelede deur Lord Charles Somerset gebou vir sy tweede vrou, Poulette. Iewers het die spelling van die naam verander, nugter weet hoe. Jakes (Gerwel) het die huis in die vroeë 90’s gekoop as ’n soort wegbreekhuis. Hy kom van die distrik, so dit was sy absolute hartland. Ná sy dood het sy weduwee, Phoebé, die huis aan die stigting geskenk. My eerste taak was om uit te vind wat dit gaan kos om die huis reg te maak, want dit staan toe al vir ’n paar jaar leeg.”

Die omgewing en die deelnemers los Kemp nie onaangeraak nie.

“Kreatiwiteit is ’n aansteeklike ding. Ek word elke keer gevoed as ek in Somerset-Oos is – deur die oopheid van die landskap, maar ook hoe plat op die aarde die mense is, en dan die skrywers. Elke groep is anders as die vorige, en die gesprekke droog nooit op nie. Ek kry min tyd vir skryf as ek daar is, want ek moet rondhol tussen toilette wat breek en skrywers wat vlugte verpas, maar as ek terug is agter my lessenaar in Stellenbosch, dan skryf ek. Ek kruip in die Boland in my kantoor weg en hier skryf ek. As die bleddie storie my net wil byt.”

Dis nie aldag maklik nie.

“Om in die wêreld van nie-winsgerigte organisasies te wees, veral in hierdie land van duisternis, is bleddie moeilik en onseker. Ons moet die ligte letterlik weer aankry, en nou bodder ons om mense te leer skryf? Dit is moeilik om mense te oortuig dat die belegging in opkomende skrywers nie ’n luukse is nie, maar ’n noodsaaklikheid. Want borge vergeet dikwels dat die belegging in die individu is waar die verskil gemaak word. Mens vir mens. Stap vir stap.”

Verskillende hoede

Al is die uitdagings groot is hy altyd besig om te dink aan wat voorlê.

“Ons het baie werk om te doen. Ons moet sorg dat dit volhoubaar bly. Dis nie ’n goedkoop projek nie. Dan moet ons uitbrei: Ek was verlede jaar in New York om te kyk hoe ons kan inskakel by instellings daar wat skrywers bemagtig. Ons aan die suidpunt van Afrika dink dikwels dit waaroor ons skryf, is anders, want ons omstandighede is anders. Dan kom jy daar en besef daar is ’n hele wêreld van anders dink en anders leef. Jy besef die engheid van hoe ons dink oor seksualiteit, oor identiteit, oor rassisme, en dat daar anders oor gedink en geskryf kan word. Omdat jou brein jou enigste instrument is as skrywer, buiten nou jou lyf en veral tikvingertjies, is dit nodig om jou instrument aan soveel as moontlik bloot te stel. Om van ons uitskieterskrywers oorsee te stuur – gaan kyk en leer – is ’n volgende stap.”

Op ’n persoonlike vlak is Kemp tog reflektief oor die verskillende hoede wat hy dra en wat sy dagtaak van hom vereis.

“Vandag is ek bly dat ek nie ‘net’ ’n skrywer is nie, anders sou ek myself dalk te ernstig opgeneem het. En ’n mens leer so ontsettend baie oor jouself as jy so onder druk moet werk. Jy moet tussen verskillende vlakke – van die borg tot die skoonmaker – kan beweeg en op jou voete dink. Jy leer om probleme op te los sonder om paniekerig te raak.”

Ná alles bly Theo ’n skrywer. Elke persoon wat in Paulet Huis gaan sit om te werk, kan weet dat die man aan die hoof van die Jakes Gerwel-stigting aan hulle kant is, dat hy verstaan waarmee hulle worstel en dat niemand meer opgewonde is oor hulle toekomstige sukses as hy nie.

♦ VWB ♦

https://www.vryeweekblad.com/boeke/2023-05-26-n-hartshuis-vir-skrywers/

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *