Gou trek Kgotsfalang se naam deur die kampong. Hy’s heel verbaas aan die begin as manne hom op sy naam groet. Saans staan hy lank by die vuur as manne stories vertel van hul ervaringe op die delwery. En dis hier waar hy die gemeenskaplike taal van die werkers op die delwerye begin aanleer. Aan die begin staan hy net daar by die vure en luister na die gesprekke, en kom gou agter daar’s baie Sotho- woorde wat in die taal is, so ook woorde van ander tale wat hy ken, soos Zoeloe en Xhosa, en Tswana. Toe dit makliker raak om die strekking van gesprekke te verstaan, het hy gesprekke met sy groot vriend aangeknoop, en by hom het hy die politiek van die kampong geleer. Die groot man het hom ook gewaarsku dat die oudstes, agter in die kampong, hom moontlik gaan roep. Hulle sal nie tevrede wees met sy gedrag nie. Hulle is manne wat lank reeds op die delwerye is. Hulle beheer alles wat op die delwery, en in die kampongs aan gaan. Hy sê Kgotsafalang se gedrag sal beslis hulle ore bereik het. Kgotsafalang vra hom uit oor wie die oudstes eintlik is, en hoor hulle bestaan uit oudstes van alle taalgroepe in die kampong. Kgotsafalang dink dadelik aan die stelsel by die huis – presies net so. So, as hulle hom roep, sal dit soos ‘n verhoor wees, met ‘n moontlike vonnis daarby. Hy sal hom moet staal daarvoor.
Kgotsafalang maak hom in die volgende paar dae en weke handig in die kampong. Soggens word rondom sy slaapplek netjies skoon gemaak, so ook laatnag rondom die vuurherds, waar die verskillende groep ge-eet het. Hy’s van kleinsaf geleer om netjies en skoon op sy liggaam te wees. Hy’s eerste uit met water om op die vuur te sit, saans, waarna hulle na die wasplekke toe gaan, om die dag se moegheid van hulle lywe af te was. Dan word daar gewag vir die kos om gaar te raak. Onder die Sotho-mans maak Kgotsafalang seker dat alle mans by die groep is vir eet. Werkers wat nie baie kos het nie, word aangespreek om die vuurherd, om geld weg te sit, maar ook om kos te hê om te eet, anders gaan hulle gou siek word. Kgotsfalang kan alles dit doen, want hy word gereken as ‘n man, as gevolg van sy inisiasie wat hy ondergaan het, en ook om sy sterk persoonlikheid.
Sy leierskap word duidelik deur die manne van Sotho afkoms, eerbiedig en aanvaar. Daar is tye wanneer Kgotsafalang laat van die werk af kom, dan is die groot man in beheer, en neem die voortou met water opsit, en toesien dat alle Sotho-groepe kos in die potte het. By tye waar daar skermutelings in ander dele van die groot kampong is, is Kgotsafalang ‘n stille toeskouer. Hy’t agter gekom dat die verskillende taalgroepe streng wette het om hulle mense in toom te hou. Lyfstraf word gereeld uitgedien -teen oud of jonk. Daar is gevalle waar ‘n gevonnisde nooit weer in die kampong gesien is nie.
In sy werk voel Kgotsafalang die vyandigheid tussen hom en ander werkers, stadig afneem. Hy word as boss-boy beskou, ‘n werker wat deur die wit eienaar voorgetrek word, en ‘n posisie beklee waar hy werke vir ander werkers moet uit sit, en ander se werke oorsien – ‘n soort van onder-baas. Op die delwerye, leef so ‘n boss-boy swaar, en is selde in kamponge te sien. Met Kgotsafalang is dit anders. Op die delwerye deel hy werk eweredig uit, en gaan regverdig met die werkers om. Werkers op die kleim van Davies kan nie kla dat hulle onregverdig behandel word nie. Hulle word betyds deur Davies betaal. Kgotsafalang staan ook in die lyn by hulle, op betaaldag. Dat hy die wegsit van gereedskap oorsien, is deur hulle as deel van sy pligte aanvaar. As die werkers weg is, en Kgotsafalng die gereedskap in die hokkie toegesluit het, vertoef hy en Davies ‘n tyd lank, in Davies se tent, voor hy alleen trug stap, kampong toe. Hulle praat met dedempte stemme, want almal weet Davies bly alleen daar.
Van die begin af, het Davies die jongman Kgotsafalang anders ervaar. Hy is nie teleurgesteld nie, en dis nou twee jaar gelede. Dinge op die kleims is vinnig besig om te verander, en hy wil Kgotsafalang oor hierdie verwikkelinge inlig
By Davies hoor Kgotsfalang van die nuutgestigte De Beers Consolidated Mining Cpmpany wat alle kleims gaan opkoop. Kleim-eienaars verkoop hulle kleims aan die maatskappy vir aansienlike groot bedrae. Voormalige eienaars word dan werkers vir die maatskappy, en maandelikse salaris, afgesien of daar baie deur die kleim opgelewer word, of niks. Baie kleim-ienaars word so uitgekoop, teen reuse bedrae. Ander kleim-eienaars wil voortgaan op hulle kleims soos voorheen. Hy, wat Davies is, is een van die – hy staan vas! Hy weet wat sy kleim oplewer. Hy wil nie sy kleim aan die maatskappy verkoop nie. Nou slaap hy ongemaklik. Hy’s bang. Hy’t gehoor van die kleim-eienaars wat weier, word met geweld gedreig; sommige is reeds lelik bygekom deur boelies wat blykbaar vir die maatskappy werk.
Die laat-aand geselsies in die donker tentjie van Davies, word later ernstige politieke bewusmaking-sessies, waar Davies vir Kgotsafalang bewus maak dat hulle, die swartmnse van die land, die eintlike eienaars van die diamantvelde is, en dat die inkommer-witmense uit die Europeuse lande, geen reg het op grond-eienaarskap in die land nie. Hy verduidelik aan Kgotsafalang aan die hand van praktiese voorbeelde: Kgotsafalang kan nie uit hierdie land kom, en in Wallis in die steenkoolmyne kom grawe, vir eie gewin nie. Dis nie sy land nie! Die Europeuse lande se mense, egter, beskou die grond hier op die selwerye as niemand se grond nie – ‘empty lands’ – asof hier nie mense bly nie! Kgotsafalang vra vrae, en namate die lig vir hom opgaan, onthou hy die nagtelike geselsies wat hy en sy ma onder die streepsakke, op die wa, gehad net. Dis dieselfde gesels wat hierdie witman nou met hom het! En Kgotsafalang verstaan.
Davies praat met Kgotsafalang oor die ‘power of the many’. Sover hy kan sien, moet daar miljoene meer swartmense in die land wees, as witmense. Onder ‘n demokratiese stelsel, waar elkeen stemreg het, sal die swartmense die land regeer, en nie witmense nie, soos hy dit hier sien. Die swartmense in die land moet sorg dat hulle stemreg het in die plekke waar hulle bly. Kgotsafalang verstaan.
So word Kgotsafalang konsepte soos demokrasie; mense regte; gelykheid; vryheid van spraak en ‘n goeie skool-opleiding, geleer. Davies vertel hoe hy agter die diamante aan gekom het, soos die duisende ander manne uit Europa, min wetende van die toestande hier. Hy’t hier gekom leer om te diskrimeer teen alle swartmense. Hy’t gesukkel om aan te pas, want die barbaarse gierigheid wat hy hier gesien het, en dit wat mense bereid was om te doen net om diamante in die hande te kry, het hom bang en siek gemaak.
Kgotsafalang hoor Davies kom uit ‘n klein Walliese gemeenskap, waar hy sy vrou en klein dogtertjie agter gelaat het, om sy fortuin hier te kom soek. Hy’t nie geweet van die skrikwekkende toestande; die rassisme; en die gevare, buiten delwery self, wat hier skuil nie. Hy kom uit ‘n familie waar sy pa en sy broers, almal in steenkoolmyne werk – eenvoudige mense wat soggens uitgaan om te gaan werk vir hul brood. Dit is dieselfde in elke gesin in die myn-dorpie waar hy en sy vriende groot geword het. Dis toe hy met ‘n gesin begin het, en die geleentheid kom voor om in Suid – Afrika diamante te gaan myn, dat hy dit nie kon weerstaan nie.
So gaan die nagtelike sessies vir meer as ‘n week aan. Kgotsafalang leer baie.
Deur die dag op die delwerye, kom Kgotsafalang agter Davies lyk senuweeagtig, en kyk gedurig om hom rond. Hy is bang, dink Kgotsafalang. Die aand by die tent vertel Davies hom dat hy in die middel van die nag besoekers gekry het. Toe hy wakker skrik, toe staan hulle bo hom. Hy moet binne twee dae by die De Beers Maatskappy aansluit, of daar sal geweld op hom toegepas word. Hy’t ingestem. Kgotsafalang hoor toe Davies sê dis sy laaste nag op die delwerye. Kgotsafalang verstaan. As dit nag raak, gaan hy uit die delwerye uit verdwyn. Hy’t ‘n plan. Hy weet waar hy veilig sal wees. Kgotsafalang is dronkgeslaan, en bekommerd oor Davies se veiligheid. Maar hy vra nie uit nie. Dieselfde aand tot laat, sit gesels die twee mans in die donker tent.
‘Jy’s ‘n goeie mens, Kgotsafalang. Jy straal dit uit. Jy’t sterk persoonlikheid! Jy gaan dit nog ver bring.’
Hy hou sy hand uit na Kgotsafalang. ‘Take this.’ Kgotsfalang vat versigtig die toegedraaide sakkie, en hy skrik toe hy dit voel. Hy weet dis ‘n paar rowwe diamante wat in die sakkie is.
‘Dis vir jou. Jy was my vertroueling. Dis deur jou dat ek veilig op die kleim gevoel het. Nou wil ek nie meer hier bly nie. Dis tyd vir my om huistoe te gaan. Ek verlang na my vrou, en my dogtertjie. Jy moenie oud word hier nie, Kgotsafalang! Gaan ver weg van hier, en begin jou nuwe lewe. Jy verdien dit! Dankie vir alles, my vriend!’, en Davies hurk nader na Kgotsafalang toe, voel hom raak in die donker, en omhels hom hartlik. So sit twee manne uit verskillende wêrelde, en kulture, met hulle arms om mekaar, en wys hulle waardering vir mekaar.
Toe’s Kgotsafalang daar weg. Hy’t die nare gevoel dat Davies sal dalk nie die son sien opkom nie. In die middel van die nag, in die kampong, maak hy sy lyfsakkie oop, en bere die diamantsakkie tussen die note in.
Hy was reg oor Davies. Toe hy die volgende oggend by Davis se staanplek kom, is die tent aan flarde, en die gereedskaps-hokkie plat getrap. Die grond binne-in is omgedol, soos mens na iets, soos diamante, daar sou soek. Orals lê gereedskap rond. Binne-in die tent is die grond ook omgedol. Nêrens sien Kgotsafalang bloed aan die stukke tent, of op die grond, nie. Dan’t Davies voor die woestenaars nog gekom het, die delwerye verlaat, besluit hy.
En binne hom klop sy hart wild. Davies is veilig!
————————- ————KGOTSAFALANG-12——–
Alex Marshall hails from Heidelberg in the Western Cape. He was a teacher at Trafalgar High School in District Six, whereafter he taught English at Masibambane High School in Kraaifontein. He was an activist for South African sports; has a great interest in history, and holds a master’s degree in Philosophy from UCT. Alex is passionate about reflecting on his community in his writing.
