Die taxi met Saterdag-shoppers kom by ‘n aflaai-plek staan, en die nekke rek om te sien wie loop so onder bloed daar verby. Die taxi ry net so ‘n entjie, toe hou dit weer stil. ‘n Meisie klim uit, en hardloop trug na Adam toe.
‘Adam! Wat het gebeur? Staan stil! Laat ek jou help! Oee, hene! Jy moet stitches kry vir dit! Jy sal moet reguit dag-hopitaal toe gaan! Vat solank my scarf! Druk dit op die plek. Hard! Mens moenie te lank wag met ‘n oop plek soos dié nie. Ek gaan saam met jou. Hier om. Dis gouer hier om, daghospitaal toe. Hulle doen jou sommer eerste!’
Adam gee hom gelate aan die meisie oor. Op ‘n Saterdag-oggend is die dag-hospitaal betreklik stil. Nadat sy besonderhede, by die venstertjie geneem is, is ‘n lêer vir hom oopgemaak, en hy’s reguit na die ongevalle-afdeling toe. Hy weet toe nog nie wie sy weldoener is nie. Toe die verpleegsuster omdraai om iets in die kantoor te haal, vra hy wat haar naam is.
‘Ek is Tora se suster – Grizelda. Ek is in Graad 11.’
‘Ok!’ is sy verbaasde antwoord.
Hy kry toe vier steke op die oogbank. Die stukkend plekke in sy mond is ontsmet, en hy moet ‘n paar vrae beantwoord. Die vroue-dokter wil weet of hy sy aanvallers ken. Hy sê toe maar liewers niks oor sy aanvallers nie, en sy dossier word toegemaak, en hy kon gaan. Grizelda stap saam met hom huis toe, en wil nie ingaan toe hy haar in nooi nie. Hy bedank haar buite, en stap voordeur toe. Sy oumie staan reeds in die deur, met haar hand voor haar mond. Haar kleinseun kom met ‘n groot verband om die kop na haar toe aangestap. Sy mond is ook effens skeef, en dis duidelik dat hy in ‘n bakleiery betrokke was.
‘Adam Daniels! Hene, kind! Kyk hoe lyk jy! Kom in! ’
Adam het tyd gehad terwyl hy vir die dokter gewag het, om te dink hoe hy die hele petalje aan sy oumie gaan verduidelik. Die beste, het hy gedink, was om die hele ding ligtelik te maak, en sy ervaring eintlik maar af te lag.
‘Oumie! Ek kom nou van die daghospitaal af. Ek was in ‘n bakleiery, onder in die lokasie. My oogbankie is stukkend geslaan. Dis hoekom ek so ‘n vreeslike bandage om my kop het. My kop is actually okay. Ek het vier stitches op my oogbank gekry. My mond is ook stukkend binne-in. Maar niks serious nie. Verder is my vuiste baie seerder as al die ander injuries, Oumie!’
Adam lieg nie vir sy oumie nie. Die hele staptog deur die lokasie dek hy sorgvuldig, asook sy ontmoeting met die klasmaat wie hy eintlik gaan soek het. Die meisie wie hom na die daghospitaal vergesel het, Grizelda, se naam word ook genoem. Hy vertel ook in detail hoe hy ‘n paar jongens, en ‘n grootman, met die vuiste bygekom het, omdat hulle met hom skoor gesoek het, en hom eerste aangeval het. Hy’t hom maar net verdedig. Hy meen daai jongens sal nooit weer met hom mors nie.
Sy oumie luister stil na hom, ‘Ai, Liewe Vader, het jy dan nou weer vir Adam Daniels in my lewe in gestuur? Het ek dan nie genoeg sonde met hom gehad nie? Nou nog een?’
Adam kyk haar verbaas aan: ‘Wat nou Oumie?’
‘Jy’s nou uitgeknip jou oupa, Adam! Hier in hierdie dorp, was jou oupa amper elke naweek in ‘n bakleiery, tot hy amper al veertig jaar oud was. Elke naweek moes ek in so ‘n gesig vaskyk, soos joune. Elke naweek! Jou ma was al ‘n groot kind, dan moes sy hier in die lokasie ingaan, om te kyk waar ‘n klomp mense in die straat bymekaar staan; of waar daar ‘n rumoer in iemand se jaart is. Daar het sy hom gekry, en daarvandaan moes sy dan met hom huistoe sukkel. Dan het hy hier gekom sit, soos ‘n lammetjie, net soos jy nou daar sit. Ek kan nie weer deur so iets gaan nie, Adam! As-se-blief!’
Adam gaan na sy oumie toe, sit sy arms om haar, en gee haar ‘n drukkie. ‘Sorry, Oumie! Sorry!’ fluister hy in haar oor.
‘Ja, sorry maar! Jou oupa het ook elke keer gesê, ‘Sorry, Bokka! Sallie weer nie, Bokka!’
Oumie dring aan dat hy moet gaan rus, want sy liggaam sal nog trauma in hê, iets wat hy nie toe verstaan nie. Maar toe sy kop kussing raak, is hy weg. Hy weet nie eers Oumie het later ‘n ligte deken oor hom kom gooi nie.
Toe hy laatmiddag wakker skrik, oudergewoonte van sy musiek begin speel, en badkamer toe stap, is Joani daar.
Sy kyk met groot oë na Adam se verband, en sy gesig.
‘Ek het gewerk. Ek het mense in die ry by die toonbank hoor praat, van ‘n vreemde jong man wat daghospitaal toe moes gaan, soos hulle hom in die lokasie geslaan het. Mense in die ry kon nie sê nie wie hy is nie. Hulle het net geweet hy’s op die hoërskool. Toe weet ek sommer dis jy, Adam! Wie anders?’
‘Ek’s oukei, Joani! Jy kan mos self sien! Dankie dat jy oor my geworry het –‘Is sweet van jou! Tora-hulle was ook ve’midag hie’. Hulle het ook gehoo’ van my accident.’
Vir die res van die laat middag sit Adam en Joani onder die vyeboom by die lendelam tafeltjie en gesels. Soos hulle gemakliker raak met mekaar, hoe vryliker kom die vrae. Joani se oë gaan elke keer trug na Adam se kop wat in wit verbande toegedraai is.Wat vir ‘n mens is dit dié?
Later is die twee binne toe, en Oumie is maar te bly. Sy was nog nie klaar met Adam nie. Sy’t mos nou versterkings by gekry. Adam moet sy oumie toe weer van voor af paai. Joani luister stil na die gesprek. Sy is duidelik aan Oumie se kant. Haar lyftaal wys dit. As Adam praat, kyk sy weg. As Oumie praat, draai sy na Oumie toe, en luister aandagtig, en kyk agterna, amper beskuldigend, na Adam. Adam let dit op, en is half-ge-amuseerd dat die twee vrouens so saamspan teen hom.
Later gaan Adam die musiek uit die kamer uit haal, en speel vir Joani sy gunsteling songs, een daarvan is Better man, van Paolo Nutini. Sy hou toe baie van die lirieke, en belowe sy sal nou gereeld daarna luister. Toe sy weer ‘n keer op haar horlosie kyk, sê Adam, ‘Ek’s reg, as jy is,’
Joani gaan gou weer kombuis toe, met die teekoppies, en gesels bietjie met Oumie. Toe sy uit kom, hou hy ‘n hoodie uit na haar toe.
‘Hier’s ‘n hoodie vir jou! Jy’s kaal arms. Môre lê jy in die kooi, lê en blaf!’.
‘Kooi?’ wil sy met ‘n laggie weet, ‘Blaf? En waar kom jy aan ‘kooi’ en ‘blaf’?’
‘By my oumie geleer. Oumie leer my kwai Afrikaanse woorde. Ek like dit nogal! Klink so genuine vir my!’
‘Jy geniet jou oumie baie, nê!’ is Joanie se eerste opmerking toe hulle ‘n entjie ver gestap het.
‘Ja, ek love haar – al wat ek het!’
‘Van wanneer af is ‘Better Man’ jou gunsteling musiek, Adam? Al jare al?’ vra Joani skielik in die half-donker.
‘Ek onthou, ek het laas jaar een aand by die huis gekom, hier, en ek het ‘n bietjie despondent gevoel, you know: ‘n bietjie down under. Toe luister ek maa’ music, because music tel my altyd op. Daai’s toe ek mooi luister na die lyrics van die song, en toe strike ‘it my: die’s exactly waar ek nou is! Die’s mý song! En nou – nou’s dit jóú song oek! Hoekom lyk djý die song, Joani?’, vra hy skielik.
Die vraag vang Joani onverwags. Sy by stil, en kyk net voor haar.
‘Ek dink die liedjie sal baie betekenis hê vir mense wie se liefde nie beantwoord word nie. Die sanger sing hy wil homself eers verbeter. Dit moet darem nie lekker wees om lief te hê, maar jou liefde word nie beantwoord nie. Ai!’
Joani staan stil, en draai om, om vir Adam te wag. Hy’t skielik stil gaan staan, en terug gekyk, na die straat waar hulle toe net ingedraai het. Dit is die taxi-roete dorp toe, en terug lokasie toe. Daar het ‘n motor stil gehou, net so ‘n entjie verby die ligpaal in die donker, en iemand het uit die motor geklim, en oor die straat, in hulle rigting, gestap.
‘Ken jy daai kar, Joani?’
‘Nee, ek het nie gekyk nie. Hoekom?’
‘Dis oukei! Sommer my imagination,’ sê hy, en stap tot by by haar.
‘Nou begin ek darem koud kry. Die hoodie help nie veel nie!’ sê Joani, en staan arms gevou.
‘Oukei! Laat ek my arm om jou sit, dan loop ons bymekaar om die kouete weg te hou, tot by jou huis. Kom!’
Dis te laat vir Joani om teë te stribbel, want Adam het al ‘n tree nader aan haar gegee, en sy arm om haar lyf gesit, en haar nader na hom toe getrek. Sy kan net ‘Adam!’ uitkry, maar dis reeds te laat.
‘Aa! Baie betere, vi’ o’s altwee! Dis mos die eerste keer dat jy my armpie om jou voel. Baie betere, nuh! Imagine net, ek moet nou weer alleen trug kom! Alleen in die nag in – met die kouete van die karoo wat op my op pak!’
Sy kan nie sy smile in die donkerte sien nie, en hy kan nie die verbysterde uitdrukking op haar gesig sien nie.
‘Relax, Joani! Dis nie ‘n attack nie! Dis net vir die kouete! Maak los die tension in jou rug in, so ‘n bietjie, en enjoy net die warmte van my lyf, soes ek‘ie warmte van jou lyfie enjoy. Daa’s ‘y! Soe ja! Het djy toe vir Heather gevra van o’se maths-punte? Of het jy haar nie gesien nie?’
Joani praat saggies toe sy antwoord, ‘Ek kon haar nie vra nie. Ek het afgevra by die werk. Ek wou nog dringend êrens gaan.’
‘So, djy’t af gevra om ICU toe te ga’t, miskien? Issit? En hoe kry djy die patient toe?’
Joani is versigtig met haar antwoord: ‘Die pasiënt wat ek by sy huis gekry het, was heel uitgelate; uitbundig; het baie gesels, ten spyte van ‘n opgeswelde mond, en verband om die oogbank. Hy het lekker gelag; en het sy gunsteling musiek vir sy besoeker gespeel. En lateraan, raak hy toe lekker voorbarig ook’.
‘Wag nou! Wag nou! Hoe so? Wat het ek gesê?’
‘Loop sommer lekker hand-om-die-lyf met meisies wat hom dalk na ‘n treurige liedjie toe kan dryf.’
Adam gooi sy kop agteroor, en lag uit sy keelgat uit. Sy lag klink harder as wat dit is, in die donkerte. Hy lag so lekker dat sy ook begin saam lag. Hulle draai toe net af, in Joani se pad af, toe ‘n stem skielik uit die donker, van agter af, praat:
‘Lekker aand verder, julle twee!’ kom die stem, klokhelder.
‘Heather!’ hyg Joani, en swaai haar kop om.
‘Oh, shit!’ is Adam se reaksie, en hy los Joani dadelik. Hulle staar haar agterna soos Heather al verder in die donkerte aanstap.
‘Sy het die heel tyd agter ons geloop!’ sê Joani ontsteld, en kyk na Adam.
‘Kom! Moenie vir jou oor Heather worry nie. Sy’t uit ‘n kar uit geklim daar in die straat, en ek wiet wie se kar dai is. Kom!’ en hy vat Joani weer om die lyf, en begin aanstap.‘Yo! Jy’s alweer koud! Jy maak mý ook koud!’
‘Wie se motor is dit, Adam? Uit wie se motor het Heather geklim? Niemand van die werk nie! Beslis nie! Ons is ure al toe!’
‘Joani, ek was nie ve’seker nie, maar nou is ek. Dai was Mister Balie se kar! Unmistakable!’
————————————————–DEEL 11 -Uittresel uit Joani-hulle, ‘n jeugverhaal——
Alex Marshall hails from Heidelberg in the Western Cape. He was a teacher at Trafalgar High School in District Six, whereafter he taught English at Masibambane High School in Kraaifontein. He was an activist for South African sports; has a great interest in history, and holds a master’s degree in Philosophy from UCT. Alex is passionate about reflecting on his community in his writing.